Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Rugby
Kriek woeker met rugby in Nederland

Rugby en Nederland word nie dikwels in dieselfde sin genoem nie, tog is ’n Suid-Afrikaner besig om daar die evangelie van die ovaalbal te verkondig.

Die 43-jarige Hein Kriek is werksaam by die Nederlandse Rugbyunie (NR) as tegniese direkteur.

Hein Kriek (links) en die skopafrigter Vlok Cilliers in Amsterdam, Nederland.

Hy het vantevore Paul Roos Gimnasium (2013-2015) en die SA Skolespan (2014 en 2015) afgerig, en was in 2016 en 2017 ’n hulpafrigter by die Pumas. Destyds het die noodlot hom gedwing om te spring.

“Ek was baie gelukkig by die Pumas. My kontrak was op ’n einde en toe dr. Phil (Pretorius, voormalige afrigter van spanne soos die Bulle en Maties) my die geleentheid bied om saam met hom Tsjeggië toe te gaan, het ek besluit om die geloofsprong te neem.

Ons kyk ook na die moontlikheid om ’n beroepspan op die been te bring (soos die Jaguars en die Sunwolves in die Superrugbyreeks) wat in Europa kan speel.

“Ek is nog jonk en ek en my vrou, Annelee, wou ook meer van die wêreld sien en ervaar en dit was ’n gulde geleentheid om dit te doen,” sê Kriek.

Hy en Pretorius was tot September 2018 by die Tsjeggiese Rugbyunie in diens, voordat dié unie finansieel in die knyp geraak het en die twee ander planne moes maak.

Hein Kriek, wat werksaam is as tegniese direkteur by die Nederlandse Rugbyunie.

Dit het Kriek na Amsterdam geneem en hy is positief oor die Nederlanders, wat 25ste op rugby se wêreldranglys lê.

“Ons is net agter Namibië (24ste), Kanada (23) en Hongkong (22) op die ranglys. Tans is ons boaan die punteleer van die Europese Trofee en as ons promosie na die Europese Kampioenskap (die kompetisie vir spanne net onder die Sesnasies-reeks) kry, sal ons meeding teen spanne soos Georgië, Rusland en Roemenië.

“Ons het verskeie nasionale spelers wat beroepsrugby in Frankryk speel en ook in Spanje, met juniors wat by gesogte akademies in die Engelse Premierliga speel en studeer.

“Met die natuurlike groot bou van die Nederlanders, is daar baie potensiaal in die land. Die uitdaging is om hulle (die spelers) hier te hou,” sê Kriek.

Hy is by al die nasionale spanne van o. 16-vlak tot die seniors betrokke en droom daarvan dat Nederland kwalifiseer vir 2027 se Wêreldbekertoernooi.

Hy vertel dat bekendes soos Vlok Cilliers, tans skopafrigter by Frankryk, en die voormalige Springbok-stut Gurthrö Steenkamp ook al werksessies in Nederland kom aanbied het.

“Ons kyk ook na die moontlikheid om ’n beroepspan op die been te bring (soos die Jaguars en die Sunwolves in die Superrugbyreeks) wat in Europa kan speel.

Hein Kriek by ’n kragmeting van Paul Roos Gimnasium in 2014. Foto: Gallo Images

“Dit sal help om ons spelers terug te lok en ’n beter vlak van kompetisie te gee en dan op die manier ons nasionale span te bou,” sê Kriek.

Hy erken dit is ’n aanpassing om in dié land te werk ten spyte van die sterk ooreenkomste tussen Nederlands en Afrikaans. Maar weens globalisasie is ook die NR se kantore deesdae ’n mengelmoes van tale en kulture.

“Enige plek wat nie Suid-Afrika is nie, is ’n aanpassing. Ek verstaan Nederlands mooi, maar almal praat maar Engels sodra hulle hoor ek is nie Nederlands nie.

“Ons kantoor is so bietjie soos die Verenigde Nasies met ’n Engelsman, Nieu-Seelander, Fransman, Wallieser en dan paar Nederlanders,” sê Kriek, wat tussendeur ook besig is met sy meestersgraad aan die Salford-Universiteit in Manchester, Engeland.

Meer oor:  Paul Roos Gimnasium  |  Nederlandse Rugbyunie  |  Sa Skole  |  Hein Kriek  |  Rugby
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.