Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Rugby
Pumas slag Leeus af in Laeveld
Lekker in die Laeveld! Etienne Taljaard, vleuel van die Pumas, duik Vrydag oor vir sy drie. Foto: Gallo Images

Die Pumas het vir ’n reuse-verrassing gesorg deur die Leeus in die eerste wedstryd van vanjaar se Curriebeker-rugbyreeks in Mbombela te klop.

Jimmy Stonehouse se span het vyf drieë gedruk om Vrydag met 39-10 ’n bonuspuntsege te behaal.

Dit het meer as 20 minute gevat vir die telbord om aan die rol te kom. Die Leeus het die eerste punte van die wedstryd aangeteken toe hul flank Sibusiso Sangweni oorgeduik het.

Maar dit was nie lank voordat die Pumas ook gaan druk het nie. Eers het Etienne Taljaard (vleuel) gaan afrond ná ’n skitterende skoppie deur Eddie Fouché (losskakel), waarna Simon Westraadt (haker) oomblikke voor rustyd gaan afrond het van ’n rolmaalbeweging.

Dit het die telling teen rustyd 18-10 in die tuisspan se guns gemaak.

Die Johannesburgers het ’n paar goeie dinge in die eerste helfte gedoen, soos Francke Horn (agtsteman) en Vincent Tshituka (flank) wat besit by die afbreekpunte verseker het. Maar vir die besoekers was daar ’n paar lastighede – soos EW Viljoen (heelagter) en Rabz Maxwane (vleuel) wat op kritieke tye hanteerfoute begaan het.

In daardie eerste 40 minute het die Laevelders ’n paar keer gevaarlik met die bal in die hand gelyk en duidelik die botoon gevoer in die skrums.

In die tweede helfte het Willie Engelbrecht (agtsteman) die Laevelders se derde drie gedruk toe hy weggebreek het van ’n skrum ’n paar meter van die besoekers se doellyn af.

Dit was duidelik dat daar ’n huppel in die Pumas se stap is. Westraadt was goed met die bal in die hand en Fouché het vernuftig agterlangs die toutjies getrek.

Toe Dewald Maritz (plaasvervanger-stut) in die 61ste minuut sy span se vierde drie, vir die bonuspunt druk, het die Pumas onstuitbaar gelyk.

Die wenspan het goed verdedig, sy agttal was bobaas met ’n paar goeie rolmaalbewegings en die hanteerwerk was uit die boonste rakke.

Die Leeus se Willem Alberts (slot) en Corné Fourie, stut van die tuisspan, is albei met beserings van die veld.

Puntemakers: Pumas 39 (18): Drieë: Etienne Taljaard, Simon Westraadt, Willie Engelbrecht, Dewald Maritz, Ginter Smuts. Doelskoppe: Eddie Fouché (4). Strafdoele: Fouché (2). Leeus 10 (10): Drie: Sibusiso Sangweni. Doelskop: Fred Zeilinga. Strafdoel: Zeilinga.

Meer oor:  Curriebeker-Reeks  |  Pumas  |  Leeus  |  Rugby  |  Jimmy Stonehouse
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.