Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Rugby
Pumas soos Bulle van 2009, sê Laker
Norman Laker, die WP se verdedigingsafrigter, Maandag op die oefenveld in Bellville. Foto: Gallo Images

Blou Maandag? Daarvan wis Norman Laker niks nie nadat hy gevra is om op ’n nuuskonferensie die Kaapse media te woord te staan.

Dis nie altyd ’n lekker ervaring nie, maar as jy die verdedigingsafrigter is van ’n Westelike Provinsie-span wat oor die naweek geen punte afgestaan het nie, is daar min rede tot kommer oor die vrae waarmee jy gepeper gaan word.

“Ons het ’n standaard gestel waarop ons moet voortbou en verbeter,” sê Laker oor die WP se lakwerk in die sege van 32-0 oor die Vrystaat-Cheetahs op Nuweland.

Die aandag verskuif nou egter nou na Vrydag se wedstryd teen die Pumas in Nelspruit – ’n piesangskil waarop die Streeptruie verlede jaar gegly het. Toe het die Kapenaars met 12-22 verloor en die Pumas het twee naweke gelede reeds gewys waartoe hulle vanjaar in staat is deur vir Griekwas met 42-19 af te ransel.

Dis egter ’n ander WP-span wat vandeesweek na die Mbombela-stadion gaan opruk.

Laker wys daarop die WP het nie verlede jaar die voordeel van ’n “voorseisoen” gehad nie. Hierdie keer het hulle ’n Franse toer met wedstryde teen Narbonne en Montpellier agter die rug. En, sê Laker, hulle het ondanks die gemengde welslae van ’n sege oor Narbonne en nederlaag teen Montpellier vertroue uit die toer geput.

Hy meen ook nie die Stormers se onvermoë om in vanjaar se Superreeks weg van Nuweland hond haaraf te maak, sal nie na die WP toe oorspoel nie.

Die ouens het in Frankryk selfvertroue gekry, wat ons na die Curriebeker-reeks toe oorgedra het. Ek kan nie sien waarom ons weg van die huis sal sukkel nie.
Norman Laker

“Dis afsonderlike kompetisies. Ja, daar is baie van dieselfde spelers betrokke, maar die ouens het in Frankryk selfvertroue gekry, wat ons na die Curriebeker-reeks toe oorgedra het. Ek kan nie sien waarom ons weg van die huis sal sukkel nie,” sê Laker.

Die Pumas het wel hul respek verdien en die WP verwag veral voorlangs ’n taai wedstryd.

“Hulle is amper soos die Bulle-span van 2009 – baie fisiek met goeie voorspelers. Daarmee saam kan hulle baie gevaarlik wees wanneer geleenthede in die wye kanale opduik. Hulle is hoofsaaklik ’n span met ’n groot pak voorspelers en slim skopstrategie,” sê Laker.

“Daar is geen gevaar van oorgerustheid aan ons kant nie. Die CB-reeks word vanjaar oor ’n enkelronde gespeel en elke wedstryd is uiters belangrik. Ons weet hoe taai dit gaan wees en begryp die uitdaging wat voor ons lê.”

Meer oor:  Kaapstad  |  Curriebeker  |  Streeptruie  |  Wp
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.