Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Rugby
Pumas straf lustelose Griekwas

’n Skitterende vertoning deur die Pumas in die vaste fasette het hulle Saterdag ’n oorwinning oor Griekwas in Kimberley besorg.

Die Laevelders het effens teen die verwagting in met 27-21 in die wedstryd in die Superrugby Unlocked-reeks koning gekraai.

KIMBERLEY, SOUTH AFRICA - OCTOBER 17: Etienne Tal
Neil Maritz, vleuel van die Pumas, tydens Saterdag se wedstryd. Foto: Gallo Images

Die Pumas het balle in die lynstane op Griekwas se ingooi gegaps, stewig geskrum en meer as ’n handvol kere omgekeerde besit bewerkstellig.

En die Poubloues? Hulle het lusteloos gelyk en het die prys daarvoor betaal.

Aan die voorkant van die wenspan se aanslag was die flank Willie Engelbrecht wat balle gesteel het of sy lewe daarvan afhang en ’n fisieke teenwoordigheid gehad het.

Agter was die wenspan se losskakel, Eddie Fouché, ’n generaal. Hy het die wedstryd goed beheer.

Boonop was die vleuel Neil Maritz elke keer gevaarlik wanneer hy aan die bal gevat het.

Die Pumas het twee drieë in die eerste helfte gedruk. Eers het die Laevelders se skrumskakel, Ginter Smuts, ’n vinnige tikskoppie geneem om oor te duik. Kort daarna het Maritz sy vaart gewys om oor te duik.

Teen rustyd was die Pumas met 17-11 voor.

Scott Mathie, afrigter van die Poubloues, sou seker nie te tevrede met rustyd gewees het nie. Die Pumas het omgekeerde besit bewerkstellig, ’n lynstaanbal by Griekwas gegaps en een van Whitehead se afskoppe was direk uit.

Nie asof die Laevelders ’n foutelose eerste helfte gehad het nie. Hulle het ’n paar hanteerfoute gemaak en Fouché het self by geleentheid die bal direk oor die kantlyn laat trek met ’n afskop.

Behalwe dat die Laevelders meegeding het op die tuisspan se ingooi by die lynstane, het HJ Luus, haker van Griekwas, gesukkel om sy springers te vind.

In die laaste 30 minute het Griekwas ’n bietjie spoed begin optel. Toe Adré Smith oorduik vir die tuisspan se tweede drie, was die wedstryd op ’n mespunt gebalanseer. Whitehead het Smith se drie verdoel en skielik was die tuisspan se agterstand heelwat minder, met die Laevelders wat net-net met 20-18 voorgeloop het.

Maar daardie drie het die Laevelders laat wakkerskrik en hulle het daarna in die tuisspan se helfte van die veld geboer, met Devon Williams wat deurgebreek het vir sy span se derde drie.

Puntemakers: Pumas 27 (17): Drieë: Ginter Smuts, Neil Maritz, Devon Williams. Doelskoppe: Eddie Fouché (3). Strafdoele: Fouché (2).

Griekwas 21 (11): Drieë: Victor Sekekete, Adré Smith. Doelskop: George Whitehead. Strafdoele: Whitehead (3).

Meer oor:  Pumas  |  Superrugby Un­Locked  |  Griekwas  |  Rugby
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.