Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Rugby
Pumas straf ‘lustelose’ Griekwas

Die Pumas het hul eerste oorwinning in vanjaar se Curriebeker-rugbyreeks behaal deur ’n lustelose Griekwas-span Vrydag in Mbombela te klop.

Die Pumas se Daniel Maartens (flank) druk Vrydagaand sy drie. Foto: Johan Orton | Rugby365

Die Laevelders was met 22-17 baas in ’n wedstryd waar die Poubloues hul skuldig gemaak het aan te veel foute.

Vir die grootste gedeelte van die eerste helfte was die Pumas die beste span op die veld. Die hele week het die Laevelders se afrigter, Jimmy Stonehouse, aan die wêreld verkondig dat sy span se diepte op stut weens beserings uitgedun is.

Wat die reine waarheid is, maar wat hy nie genoem het nie, is dat sy span se voorry, Ig Prinsloo, Simon Westraadt en Dewald Maritz, uitgehonger was om hul staal in die skrums te wys. Wat hulle gedoen het, deur baie goed te skrum. Die Pumas het Griekwas laat les opsê in die skrums op ’n manier wat min mense sou voorspel.

Maar die Poubloues was ook hul eie vyand. Deel van hul gesukkel in dié faset was weens wat gelyk het na swak tegniek of samespel wat nie na wense is nie.

Griekwas is ook baie by die afbreekpunte gestraf, het gesukkel in die lynstane, terwyl hul verdediging met tye maar effentjies was.

Van afbreekpunte gepraat, die Pumas se Daniel Maartens (flank) het daar ’n keer of wat goeie balbesit vir sy span gesteel. Tog was die Laevelders ook goed met die rolmaalbewegings, wat hulle op die voorvoet geplaas het.

Nog iemand, soos die Pumas se voorry van wie min mense dalk baie verwag het, was Devon Williams (losskakel). Hy was swak verlede week teen die Haaie en is immers sy span se vierde keuse in die nr. 10-trui. Maar Vrydag op sy tuisveld was hy goed, deels omdat hy min onder druk geplaas is. Hy het byvoorbeeld in die eerste helfte die bal by geleentheid met ’n voetaangee vir Luther Obi (vleuel) aangegee wat gaan druk het.

Eduan Keyter, vleuel van Griekwas, duik oor vir sy eerste drie Vrydag in Mbombela. Foto: Johan Orton | Rugby365

Teen rustyd was die Pumas met 15-7 voor.

In die tweede helfte het dinge effens beter vir Griekwas gegaan, veral in die skrums, maar daar was steeds te veel jakkalsies in die wingerd. Foute soos Tinus de Beer (losskakel) wat by meer as een geleentheid nie die bal uitgeskop het nie, wanneer hy kantlyn toe gemik het.

Maartens, sy span se beste speler, het gaan druk nadat Griekwas op die aanval was – wat jou alles vertel van hoekom die Noord-Kapenaars steeds vanjaar segeloos is.

Daar was tye, soos in die doodsnikke, dat daar ’n dringendheid by die Poubloues te bespeur was, maar wedstryde word oor 80 minute beslis.

Wanneer Griekwas Saterdagoggend opstaan en eerlik met hulself is, sal hulle erken dat hul ingesteldheid dalk nie heeltemal reg vir die wedstryd was nie. Daar was net te veel basies foute, daardie dinge wat teenstanders soos die Pumas, wat allermins aanspraakmakers is om die Curriebeker te wen, met ope arms verwelkom het.

Puntemakers:

Pumas 22 (15): Drieë: Strafdrie, Luther Obi, Daniel Maartens. Doelskop: Ginter Smuts. Strafdoel: Smuts.

Griekwas 17 (7): Drieë: Eduan Keyter (2). Doelskop: Tinus de Beer (2). Strafdoel: De Beer.

Meer oor:  Pumas  |  Curriebeker  |  Griekwas  |  Rugby
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.