Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Rugby
Pumas vul vir eers nie toppos oor geldnood

Die finansiële gevolge van die Covid-19-pandemie en die onsekerheid of daar vanjaar enige rugby gespeel gaan word, het die Pumas genoodsaak om nie dadelik dié unie se pos van uitvoerende hoof te vul wanneer dit aan die einde van Julie vakant raak nie.

Drie personeellede van die Mpumalanga Rugbyunie (MRU), wat die president, AG Visser, insluit, sal in die afsienbare toekoms die take van uitvoerende hoof vervul.

Marius van Rensburg is reeds meer as ’n dekade by die Pumas betrokke. Foto: Facebook

Verlede maand is aangekondig dat die Pumas se huidige uitvoerende hoof, Pieter Burger, as die nuwe besturende direkteur van die Ellispark-stadion in Johannesburg aangestel is.

Burger is intussen besig om Marius van Rensburg, huidige bedryfsbestuurder by die unie en Roelof Kotze, bestuurder van amateurrugby by die MRU, touwys te maak voordat hy verhuis.

Van Rensburg is reeds meer as ’n dekade by die unie betrokke, aanvanklik in die rol as spanbestuurder. Hy sal beheer neem van die beroepspan (die Pumas) se bestuur en alle administratiewe funksies van die MRU. Kotze sal volle beheer neem van amateursake by die unie, terwyl Visser die daaglikse skakeling met die Suid-Afrikaanse Rugbyunie (Saru) en ander bestaande strukture sal behartig.

Visser erken die finansiële gevolge van Covid-19 het die unie se direksie genoop om mooi te dink oor die pad vorentoe.

“Ons het lank hieroor besin en dit is die beste manier om na die proses te kyk. Ons het met Mark (Alexander, president van Saru) en Jurie (Roux, uitvoerende hoof van Saru) gesels en daar is soveel onduidelikheid oor die pad vorentoe en of daar enigsins vanjaar rugby gespeel gaan word.

Ek sal jok as ek sê dat die besluit nie weens finansiële implikasies geneem is nie.
AG Visser

“Ek sal jok as ek sê dat die besluit nie weens finansiële implikasies geneem is nie. As ons nou ’n uitvoerende hoof aanstel, het ons nog minder geld maandeliks tot ons beskikking. Ons wil onsself nie in ’n posisie sit waar ons onverantwoordelike besluite neem nie,” sê Visser.

“Maar dít gesê, besef ons die belangrikheid van ’n uitvoerende hoof. As direksie het ons lank hieroor gedink.

“Dit is ook ’n goeie geleentheid vir die ouens wat waarneem om te kan wys wat in hulle steek. Ons kan selfs in die toekoms besluit om die pos intern te vul,” sê hy.

Sou daar geen rugby vanjaar beslis word nie, sal dit ’n slag vir die MRU wees. Die unie is veronderstel om gasheer te wees vir ’n toets tussen die Springbokke en All Blacks op 26 September – ’n wedstryd wat die Laevelders se beursie kan laat bult.

Meer oor:  Mbombela  |  Pumas  |  Mpumalanga Rugbyunie  |  Pieter Burger  |  Laeveld
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.