Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Rugby
R15 miljoen-toffie
Jurie Roux

Dit kan die Suid-Afrikaanse Rugbyunie (Saru) tot R15 miljoen kos om Jurie Roux nou te pos vir sy beweerde aandeel in finansiële ongerymdhede voor sy aanstelling as die land se rugbybaas in 2010.

Roux, Saru se uitvoerende hoof, is die afgelope maande midde-in ’n storm om die beweerde verdoeseling van meer as R32 miljoen van die Universiteit Stellenbosch (US) se fondse – glo om die Maties-rugbyklub te finansier.

Hy word nou voor die Wes-Kaapse hooggeregshof gedagvaar om dié geld terug te betaal.

Rapport verneem hoewel daar “geweldige druk” op Saru en spesifiek sy president, Oregan Hoskins, is om Roux te skors; kan enige optrede teen Roux “verreikende finansiële gevolge” vir Saru inhou.

Netwerk24 het vroeër onthul dat Roux, volgens hofstukke wat verlede maand op hom beteken is, as direkteur en hoofdirekteur van finansiële beplanning en batebestuur by die US met ’n kollega, Chris de Beer (toe adjunkdirekteur: studentegeld), “saamgespan” en vir agt jaar tussen 2002 en 2010 “ongemagtigde” oorplasings uit die universiteit se reserwefondse gedoen het.

Verskeie bronne het aan Rapport gesê Roux kan soveel as R15 miljoen in sy sak steek, sou Saru hom skors voordat dié hofsaak afgehandel is.

Roux verdien glo, ingevolge die nuwe kontrak, R3 miljoen per jaar. Dié pakket sluit bonusse uit.

Volgens Rapport se bronne sal Roux in die geval van ’n skorsing “ ’n sterk saak in die arbeidshof hê” – veral omdat Saru bewus was van die US se aantygings teen hom, toe sy kontrak verleng is.

Nog ’n kopseer vir Saru is glo dat die hofsaak nie verband hou met sy werksaamhede by dié liggaam nie.

Saru-hooggeplaastes het by navraag gesê “die gevoel bestaan” dat dit “onbesonne” sou wees om Roux te skors voordat die hof uitspraak lewer. Vrese bestaan glo ook dat die regsgeding tussen Roux en die US “etlike maande kan duur”. Dit beteken dat Saru sonder Roux se dienste moet klaarkom, sou hy nou geskors word.

Roux neem ook waar as Saru se kommersiële en bemarkingsbestuurder sedert Andy Marinos in November verlede jaar uit dié pos bedank het.

Roux het by monde van sy regsverteenwoordiger, Frikkie Erasmus, aan Rapport gesê hy is “angstig” om sy saak voor die hof te bring, maar glo die US “vertraag die proses” deur nie dokumente te verskaf waarvoor hy reeds geruime tyd gelede gevra het nie.

Volgens ’n ingeligte bron is dié vertraging glo weens die feit dat die US “self sukkel om ál die dokumente op te spoor”.

* Intussen het ’n Saru-woordvoerder aan Rapport bevestig dat dié organisasie regshulp ingewin het oor die Roux-dilemma ná verlede week se vergadering van Saru se uitvoerende komitee in Kaapstad.

Roux se toekoms sou glo op dié vergadering bespreek word, maar Saru het intussen aangedui dat dié saak onbepaald uitgestel is.

“Saru kan bevestig dat daar op die vergadering deur die komitee besluit is om ’n korporatiewe bestuurspesialis te nader om die bestuursprosesse te evalueer en raad te gee . . . in die lig van onlangse berigte,” het die Saru-woordvoerder gesê.

Aan Rapport is gesê dat Saru ook twee regskenners, onder andere ’n oudregter, genader het.

Volgens berigte vroeër dié week het Hoskins in ’n epos aan Saru se uitvoerende raad gesê hy het ’n regsmening ontvang “dat Roux geskors moet word” oor die aantygings.

Dít is glo deur die raad verwerp.

* Verskeie van die land se uniepresidente het intussen dié week hul kommer uitgespreek oor Saru se volgehoue stilswye rondom die Roux-debakel.

“Ons moet maar die saak in die koerante volg. Dít skep groot onsekerheid,” het een president gesê.

’n Ander president het gesê “die gebrekkige kommunikasie tussen Saru en sy presidente is reeds lankal ’n probleem en moet dringend aangespreek word”.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.