Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Rugby
R20 miljoen per seisoen vir Pollard!

Oorsese klubs is bereid om groot geld uit te haal om later die seisoen die room van Suid-Afrikaanse rugby te skep.

Die beste voorbeeld hiervan is die Springbok-losskakel Handré Pollard, wat hom ná afloop van die Wêreldbeker-toernooi in Japan as een van die hoogsbetaalde spelers in die spel kan vestig.

Op pad Frankryk toe? Handré Pollard is dalk in sy swanesang-seisoen vir die Bulle. Foto: Gallo Images

Daar word betroubaar verneem die Franse klub Montpellier het die 25-jarige Pollard ’n paar dae gelede ’n aanbod gemaak wat sal meebring dat die Bulle-kaptein sowat R20 miljoen ’n seisoen verdien.

Volgens verskeie bronne het Israel Folau tans die duurste kontrak in wêreldrugby en word dit tussen R21 miljoen en R22 miljoen per jaar geraam (hoewel dit nou in die gedrang is weens sy omstrede uitsprake op sosiale media).

Sou Pollard wel soveel geld betaal word, sal dit hom dieselfde liga plaas as wat die Franse klub Racing 92 voorheen vir die All Black-superster Dan Carter opgedok het.

’n Groot groep Suid-Afrikaanse spelers word tans deur Montpellier gekontrakteer. Dit sluit in Johan Goosen, Francois Steyn, Jan Serfontein, Henry Immelman, Ruan Pienaar, Paul Willemse (wat intussen ’n Franse burger geword het), Nicolaas Janse van Rensburg, Jacques du Plessis en die Du Plessis-broers, Jannie en Bismarck.

Dié klub het Rassie Erasmus, die Springbok-afrigter, glo reeds in kennis gestel van sy voorneme om Pollard te kontrakteer.

Sy kontrak by die Bulle verstryk aan die einde van Oktober.

Alfons Meyer, uitvoerende hoof van die Blou Bulle Maatskappy (BBM), het gesê hoewel daar nog nie ’n aanbod op die tafel is nie, is hulle bewus van die verwikkeling.

Meyer sê dit is geen geheim nie dat daar groot belangstelling uit Europa en Japan is om spelers soos Pollard, Jesse Kriel, Lood de Jager en RG Snyman se handtekeninge te bekom.

Pollard speel sedert 2013 sy rugby in Pretoria en het verlede maand in sy 50ste Superrugby-wedstryd vir die Bulle uitgedraf.

Dit sal later vanjaar, as hy beseringsvry kan bly, ook sy tweede WB-toernooi vir die Bokke wees.

Lean Schwartz, Pollard se agent, het by navraag bevestig “daar is opsies”, maar sê sy fokus is uitsluitlik by die Bulle en die Springbokke.

Nadat Montpellier se aanbod op skrif bevestig is, sal die Bulle twee weke hê om ’n teenaanbod te maak.

Vir ons om mededigend te wees van 2020 af vorentoe, is ’n uitdaging in die lig van ons finansiële posisie.

Nie die Bulle of die Suid-Afrikaanse Rugbyunie (Saru) het naastenby die finansies om ’n realistiese teenaanbod te maak nie.

Top-Bokke wat in Suid-Afrika speel, sal moontlik net ’n kwart verdien van wat Pollard glo aangebied word in Frankryk.

Willem Strauss, president van die Blou Bulle Rugbyunie (BBRU), het Donderdagaand op ’n geselligheid wat by Loftus Versfeld vir oudspelers gehou is, gesê dit is weens die oorsese koopkrag ’n taai stryd om hulle topspelers te behou.

“Vir ons om mededigend te wees van 2020 af vorentoe, is ’n uitdaging in die lig van ons finansiële posisie,” het Strauss gesê.

De Jager, wat die Bulle in die Superreeks aangevoer het voordat hy ’n skouerbesering opgedoen het, het volgens inligting self ’n ruim aanbod uit Engeland van die Sale Sharks gekry.

Meyer het gesê hulle het reeds ’n teenaanbod gemaak in die hoop om dié Bok-slot se dienste te behou.

Die Bulle is ook desperaat om twee ander Bok-slotte, Snyman en Jenkins, langer by Loftus te hou.

Albei het verlede seisoen hulle kontrakte vir ’n jaar tot Oktober 2019 verleng.

Meer oor:  Handré Pollard  |  Bokke  |  Montpellier  |  Springbokke
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.