Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Rugby
R21 m. vir Faf de Klerk ná Bok-afjak
Faf de Klerk

Die Springbok wat deur Allister Coetzee die deur gewys is, lag nou al die pad bank toe met ’n aanbieding van R21 miljoen om oorsee te speel.

Faf de Klerk, wat weggelaat is uit die Springbok-afrigter se Bok-oefengroep, kan een van die hoogsbetaalde spelers in die Engelse Premierliga word as onderhandelinge met die Engelse klubspan Sale Sharks suksesvol is én die Leeus bereid is om hom ’n jaar vroeër van sy kontrak vry te stel.

Hy is ’n kontrak van R21 miljoen oor drie jaar deur Sale Sharks aangebied nadat die Leeus se blondekopbuksie nie na een van die Bokke se twee oefenkampe tot dusver vanjaar genooi is nie.

De Klerk sal selfs ’n groter verdienste uit rugby maak as Francois Hougaard. Worcester Warriors betaal Hougaard sowat R6,2 miljoen per jaar.

Hul Bok-spanmaat Willie le Roux is sover vasgestel kon word met sowat R9 miljoen per jaar – dit sluit nie ander byvoordele in nie – die hoogs betaalde speler in die Engelse Premierliga. Hy verdien meer geld by Wasps as wat ’n speler soos die Franse agtsteman Louis Picamoles by Northampton Saints kry.

Wat De Klerk se aanbod ongewoon maak, is dat Sale Sharks bereid is om so ’n hoë salaris vir ’n skrumskakel aan te bied. Skrumskakels, hakers, loskoppe en oopkantflanke is gewoonlik nie die groot salaristrekkers nie.

Die oorsese klubspanne is eerder bereid om hul beursies wyd oop te maak vir spelers met die X-faktor in die agterste driehoek. Losskakels, groot losvoorspelers wat sterk baldraers is, nr. 5-slotte en vaskoppe is die ander posisies waarvoor oorsese klubspanne bereid is om hul hand diep in die geldbeurs te steek.

Die afjak wat hy van die Bok-afrigter gekry het, sal De Klerk waarskynlik meer geneë maak om die aanbod te aanvaar om oorsee te gaan. Hy kon nie die vergrote Bokgroep haal wat verlede naweek op Stellenbosch saamgetrek het nie. Dewaldt Duvenage van die Stormers (hy is uitgenooi nadat nog ’n Stormer, Jano Vermaak, weens ’n besering onttrek het) en Shaun Venter van die Cheetahs is saam met Cobus Reinach van die Sharks na die oefenkamp in Stellenbosch genooi. Met Piet van Zyl en Rudy Paige wat weens hul verpligtinge by die Bulle nie die kamp kon bywoon nie, plaas dit De Klerk agter in die tou van aanspraakmakers nadat hy verlede jaar nog ’n sterspeler van die Bokke in die toetse teen die Iere was.

De Klerk het die Bokke in 11 toetse verteenwoordig sedert hy sy toetsbuiging verlede jaar op 11 Junie in Kaapstad teen Ierland gemaak het. Dit beteken dat hy nie ná 1 Julie vanjaar volgens die Suid-Afrikaanse Rugbyunie (Saru) se nuwe kiesbeleid deur die Bokke oorweeg mag word nie. Slegs oorsese spelers wat in meer as 30 toetse gespeel het, mag ná Junie se drie tuistoetse deur die Bokke gekies word.

* De Klerk se opgang nadat hy hom in 2014 as ’n leenspeler van die Pumas by die Leeus aangesluit het, is verbysterend.

Hy het die Blou Bulle se o.16-span in 2007 se Grant Khomo-week verteenwoordig. In 2009 was hy ’n lid van die Blou Bulle se o.18-span wat aan die nasionale akademieweek deelgeneem het.

Hy het die Leeus die eerste keer op o.19-vlak in 2010 verteenwoordig. Twee jaar later het De Klerk hom by die Pumas aangesluit om sy senior buiging in die Vodacombeker- en Curriebeker-reekse te maak. Die Leeus het hom in 2014 as ’n leenspeler in hul Super-groep ingesluit, waarna De Klerk in 2016 teruggetrek het Johannesburg toe om sy buiging vir die Leeus in die Curriebekerreeks te maak.

Nou is hy vir die Sale Sharks R21 miljoen werd.

Cobus Reinach vir die Haaie teen die Reds in aksie. Foto: Getty Images

* Reinach het ook vroeër vanjaar ’n kontrak met ’n Engelse klubspan, Northampton Saints, gesluit. Hy sal hom ná vanjaar se Curriebekerreeks van die Haaie af by Saints aansluit.

* Die gewese Bok-afrigter Jake White stel in nog ’n Leeu, Andries Coetzee, belang. Die moontlikheid bestaan dat die Leeus Coetzee aan White se Japanse klubspan, Toyota Verblitz, tydens die Curriebekerreeks gaan beskikbaar stel. Hy sal in 2018 weer Superrugby vir die Leeus speel.

* Die Franse dagblad Midi Olympique het dié week berig dat Oyonnax in die Leeus-slot Andries Ferreira belang stel. Hy en die Haaie se Ruan Botha is in die Franse klubspan se visier as ’n moontlike plaasvervanger vir Jamie Cudmore.

* Die oud-Leeus- en Cheetahs-slot Dewald Senekal is die afgelope week as die voorspelerafrigter van die Franse klubspan Grenoble aangestel.

Meer oor:  Allister Coetzee  |  Faf De Klerk  |  Bokke
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.