Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Rugby
R9 m. vir Mitch ‘voortydig rondgegooi’

Daar was nog geen formele aanbod uit Engeland nie, maar die kans dat John Mitchell by die Bulle gaan aanbly, is nietemin skraal.

Hoewel die Blou Bulle Maatskappy (BBM) nie Maandag wou uitwei oor gerugte dat hy ’n stewige oordragfooi van sowat R9 miljoen (£500 000) van die Engelse Rugbyunie (RFU) vir Mitchell se dienste eis nie, word daar by Loftus Versfeld verneem die bedrag word “voortydig rondgegooi”.

Hoe lank nog sal John Mitchell, die Bulle se hoof van rugby, by Loftus Versfeld aanmeld vir werk? Foto: Gallo Images

Dit het onlangs op die lappe gekom dat die RFU met Mitchell, die Bulle se hoof van rugby, onderhandel om hom as die Rose se nuwe verdedigingsbreier aan te stel.

Die Bulle-direksie het nog nie oor die kwessie koppe bymekaar gesit nie, maar daar kan glo reeds vandeesweek ’n wending kom.

Na verneem word, is die RFU hoopvol dat Mitchell reeds volgende maand by Twickenham sal aanmeld as een van die hoofafrigter, Eddie Jones, se hulpafrigters.

Hoewel Mitchell se kontrak met die Bulle eers in Oktober 2019 ten einde kom, sal die BBM glo nie sommer in Mitchell se pad staan nie.

“Jy kan sien hy wil gaan. Dit sal nie slim wees om hom teen sy wil hier te hou nie,” het ’n ingeligte gesê.

Dié onverwagse verlies sal die Bulle met ’n skadebeheer-dilemma laat.

Mitchell is verlede jaar uit die VSA laat kom om die sukkelende voormalige kampioenspan reg te ruk.

Die BBM was hoopvol dat die Bulle kort voor lank onder dié oud-All Black-breier ’n wenspan sal word en dat dit die unie se geldprobleme sal verlig.

Die Bulle het in die Superreeks laaste geëindig in die Suid-Afrikaanse afdeling en daar is uit verskeie oorde gevra of Mitchell sy salaris geregverdig het met die teleurstellende veldtog.

Sou hy wel eersdaags sy loopbaan in Londen voortsit, sal dit beteken dat die BBM, wat midde-in ’n proses is om ’n opvolger vir sy uitvoerende hoof, Barend van Graan, te kry, gou sal moet spring om ’n Superrugby-hoofafrigter vir 2019 te kontrakteer.

* Hoewel dit glo ’n byna uitgemaakte saak is dat Loftus volgende jaar die ervare Springbok Duane Vermeulen se Superrugby-tuiste sal wees, het die BBM nog nie sy handtekening op papier nie.

Vermeulen het onlangs ingestem tot ’n gesamentlike kontrak, wat behels dat die Suid-Afrikaanse rugbyunie (Saru) rofweg 70% van sy pakket betaal en die Bulle die res.

Meer oor:  Rfu  |  Blou Bulle Maatskappy  |  Bulle  |  John Mitchell
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.