Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Rugby
John Mitchell se eis aan Bulle: R90 m.

R90 miljoen. Dit is die massiewe bedrag wat die Bulle-afrigter John Mitchell wil hê om spelers mee te koop vir volgende jaar se Superrugby-reeks.

Hy het dié bedrag as sy spelersbegroting voorgestel tydens die onlangse Bulls-direksie se bosberaad buite Pretoria.

John Mitchell soek nuwe spelers om die Bulls weer kampioene van die Superreeks te maak.

Mitchell, wat al verklaar het dat die Bulls ’n trop nuwe spelers moet inbring as hulle in Superrugby goed wil vaar, meen dit kan hom help om die driemalige Superreeks-kampioene weer bo te kry.

Mitchell wil ook ’n verdedigingsafrigter werf vir volgende jaar se Superreeks, maar het solank die span se tegniese ontleder John-William Meyer as verdedigingsafrigter vir die Curriebekerreeks aangestel. Mitchell het self die verdediging by vanjaar se Superreeks behartig.

Maar sy planne het nie ’n goeie indruk gemaak nie, veral by sekere lede van die direksie wat hom klaarblyklik met vrae oor die span se prestasie in vanjaar se toernooi gepeper het – veral omdat sy span slegter as dié van Nollis Marais gevaar het.

Volgens Rapport se bronne was die direksie in twee verdeel. Teenoor diegene wat Mitchell steun, staan diegene wat meen hy moes al meer bereik het met die span wat hy het.

Volgens hulle moet daar groter klem op die afrigting van die huidige groep spelers geplaas word.

Mitchell wil veral ’n klomp groot name werf, soos onder andere die Springbokke Duane Vermeulen, Schalk Brits, Frans Malherbe en Jean-Luc du Preez. Die Bulls kyk ook na die SA o.20-ster Wandisile Simelane wat tans vir die Leeus speel.

Mitchell meen veral indien die Bulls die Superreeks weer wil wen, moet hulle ’n span met tien tot 12 spelers van internasionale gehalte vind.

Hy het al meer as een keer gesê die groep spelers wat hy by Marais geërf het, is eenvoudig nie goed genoeg nie.

Die Bulls voer ook ’n stryd teen ander unies om sy eie spelers te behou, met Bokke soos Warrick Gelant en Embrose Papier wat byvoorbeeld in die Stormers se visier is.

Die Bulls het reeds onsuksesvol probeer om die Leeu-flank Cyle Brink na hulle te lok.

Mitchell se wensbedrag vergelyk met dié van Europese klubs en sal die Bulls die grootste spanbelegger in die plaaslike mark maak.

Volgens ingeligtes was die Bulls se spelersbegroting verlede jaar sowat R68 miljoen.

Vergelyk dit met ’n span soos Griekwas se spelersbegroting van R12 miljoen en die Griffons, wat verlede week aangekondig het dat hulle spelers net vir agt maande gaan kontrakteer weens besnoeiings, se skrale R6 miljoen.

Mitchell het vroeër hierdie maand gesê Suid Afrikaanse spanne “raai” op die oomblik (oor hul spelerskorps) en moet verander as hulle die kompetisie wil wen.

“Ons raai en suig goed uit ons duime as ons dink ons spanne kan ’n kompetisie so groot soos die Superrugby-reeks wen – veral met die getal wedstryde wat gespeel moet word.

“Om op ’n klein groep wêreldklasspelers staat te maak, is ’n grap.

“Ons, as Suid Afrikaanse spanne, het eenvoudig nie die spelersgroepe van gehalte wat Superrugby vereis nie. Eers wanneer ons sulke spelersgroepe begin kweek, sal ’n Suid Afrikaanse span weer die toernooi wen.

“Ons skep ’n kultuur waar ons jong mans in ’n wedstrydsituasie plaas waarvoor hulle nie gereed is nie. Dit is ’n werklikheid en dit wys op die telbord.”

Die Blou Bulle Maatskappy (BBM) was nog verlede jaar in die knyp en waar hulle die geld kan kry om Mitchell se wenslys te vul, weet niemand nie.

Hy het al aan die BBM se raad gesê hy sal nie sy kontrak – wat volgende jaar Oktober verstryk – verleng as hy nie die spelerskorps ontvang om die Bulls bo te kry nie.

Mitchell het ook al gesê die Bulls – wat amper 200 spelers op hul boeke het – moet hul fokus van kwantiteit na kwaliteit verander en die spelersgroep na ongeveer 40 verminder.

“Dit gaan oor ’n fokus op die pronkstuk-span en as jy in juniors belê, dan moet jy ’n opbrengs in jou belegging toon. Dit dwing jou om akkurater in jou werwing te wees en om ’n span te bou wat ’n paar jaar saam kan wees.”

Pote Human sal tydens die Curriebekerreeks as breier waarneem terwyl Mitchell self op die juniors gaan fokus om die unie se stelsels in ooreenstemming met die Superreeks-span te bring.

Barend van Graan, die Bulle se uitvoerende hoof, wou nie gister oor die geldkwessie kommentaar lewer nie.

Meer oor:  Blou Bulle  |  John Mitchell  |  Superrugby-Reeks
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.