Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Rugby
Raad vir Rassie: ‘Kies Faf en 2 jonges’
Faf de Klerk is Suid-Afrika se voorste skrumskakel, meen Werner Swanepoel. Foto: Getty Images

Faf de Klerk is die skrumskakel wat die oond vir die Springbokke teen Engeland moet skoonmaak, maar twee jongelinge moet nou reeds met die oog op die toekoms blootstelling aan toetsrugby gegee word.

So sê die gewese Bok-skrumskakel Werner Swanepoel oor wat Rassie Erasmus (Bok-afrigter) te doen staan aan die vooraand van die toets teen Wallis en die daaropvolgende reeks teen Engeland.

Volgens Swanepoel moet spelers soos Embrose Papier, Ivan van Zyl en Cameron Wright as De Klerk se adjudant oorweeg word en kans gegee word om as toetsskrumskakels te ontwikkel.

As hy nou sy span moes kies, sê Swanepoel, sou hy De Klerk laat opdraf, Van Zyl sy plaasvervanger maak en Papier as die derde skrumskakel in die Bok-groep kies.

Die skrumskakel-posisie sal Erasmus bekommer, want sedert Fourie du Preez uitgetree en Ruan Pienaar toetsrugby vaarwel toegeroep het, het ’n Suid-Afrikaanse skrumskakel nog nie werklik hand opgesteek nie.

Ons het gedink die nuwe ouens gaan maar net deurkom, maar hulle het nie. Daar is nooit plan gemaak vir die dag wanneer hulle uittree nie.
Werner Swanepoel

Volgens Swanepoel is die rede hiervoor dalk juis omdat Du Preez en Pienaar so lank in die saal was by die Bokke.

“Ons het gedink die nuwe ouens gaan maar net deurkom, maar hulle het nie. Daar is nooit plan gemaak vir die dag wanneer hulle uittree nie,” sê Swanepoel.

Uit die opsies tot Erasmus se beskikking, glo Swanepoel De Klerk is ’n móét vir die nr. 9-trui.

“Hy speel die wêreld by die Sale Sharks (in die Engelse Premierliga) aan die brand en is die enigste Suid-Afrikaanse skrumskakel wat sy hand opsteek.

“Sy eerbewyse (Sale se Speler van die Jaar en die Ondersteuners se Speler van die Jaar) en benoemings (die Premierliga se Speler van die Jaar) spreek vanself.”

Swanepoel gee egter toe dit raak ’n uitdagende balanseertoertjie om die ander twee skrumskakels vir die Bok-groep te kies.

Hy het die Bok-bestuur aangeraai om spelers soos Louis Schreuder (28) en Dewaldt Duvenage (29) te vermy en eerder jong skrumskakels met die oog op die toekoms te kies.

Is Ivan van Zyl bestem om die Boktrui in die reeks teen Engeland te dra? Foto: Gallo Images

Volgens Swanepoel bied Papier (21) die X-faktor, is Van Zyl (22) se verspreiding klinies en is Wright (24) se algemene spel goed.

“Ek het nie ’n idee watter twee uit daai drie gekies moet word nie, maar ’n mens moenie nou op kort termyn dink nie,” sê Swanepoel.

Toetsrugby sal ’n groot vuurdoop vir enige van dié drie wees, met Van Zyl (Bulle) en Wright (Haaie) wat weekliks om ’n plek in die beginspan by hul onderskeie franchises moet baklei en Papier wat vir die Bulle in die Supersport-uitdaagreeks speel.

Al drie spelers is egter na Erasmus se Springbok-beplanningskampe genooi en Swanepoel meen hulle sal bedrewe genoeg wees om op die hoogste vlak te speel.

“Rassie sou by sy kampe gesien het watter spelers op toetsvlak kan speel. ’n Mens soek altyd ondervinding op toetsvlak, maar jy moet ook iewers begin.”

Een afdeling van die spel waar Suid-Afrika se huidige skrumskakels sleg afsteek by die vorige generasie, is hul taktiese skopwerk, maar Swanepoel sê dis nie iets waarby jy onnodig moet vashaak nie.

Nie een van die All Blacks se skrumskakels is bekend om hul taktiese skopwerk nie. Dis eerder die balans wat hulle die span bied en kombinasie met die losskakel wat belangrik is.
Werner Swanepoel

“Dit hang af wat die afrigter soek. Nie een van die All Blacks se skrumskakels is bekend om hul taktiese skopwerk nie. Dis eerder die balans wat hulle die span bied en kombinasie met die losskakel wat belangrik is.

“Rassie is slim genoeg om te weet hy moet dít wat hy tot sy beskikking het, laat werk. Jy speel met wat jy het.”

Meer oor:  Ivan Van Zyl  |  Werner Swanepoel  |  Faf De Klerk  |  Johannesburg  |  Rugby  |  Springbokke  |  Toetse  |  Skrumskakels
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.