Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Rugby
Rabs gekies vir Zebre-stryd in Parma

Verlede seisoen se voorste driedrukker, die Cheetah-vleuel Rabs Maxwane, sal volgende Saterdag teen Zebre in Parma, Italië, sy eerste Pro14-rugbywedstryd van die seisoen speel.

Die man met die spaghetti-hare is een van drie veranderinge in die agterlyn van die beginspan.

Rabs Maxwane het genoeg gedoen om Hawies Fourie te oortuig om hom in die beginspan in te sluit. Foto: Gallo Images

Die beginspan is Vrydag kort voor die middag se oefensessie aangekondig. Die toergroep, wat Dinsdag en Woensdag in twee groepe vertrek, sal Saterdag gefinaliseer word.

“Ons het ná die Curriebeker-reeks baie goeie agterspelers bygekry – spelers soos Rhyno Smith, Chris Smit en Craig Barry,” sê Hawies Fourie, die afrigter.

“Ek wil vir soveel as moontlik van hulle ’n kans gee om te wys wat in hulle steek. Dit kan ongelukkig nie vir almal én gelyk gedoen word nie.

“Ek voel Rabs verdien ’n kans. Hy het hard geoefen, veral die maand voor ons oorsee is. Hy lyk baie goed en sy peil is uitstekend. Ek weet hy is lus om te speel en hom weer te bewys,” sê Fourie.

“Ek weet hy het tydens die Curriebeker-reeks so bietjie ’n insinking beleef, maar ek voel hy is geestelik nou weer op die regte plek,” sê Fourie.

Die ander veranderinge in die agterlyn is George Whitehead wat die eerste keer op losskakel in die beginspan ingesluit is en Tian Meyer wat weer die skrumskakel en kaptein in die plek van Ruan Pienaar is.

Die Namibiese Wêreldbeker-stut Aranos Coetzee is weer in die opdrafspan in die plek van Luan de Bruin.

Fourie sê dit is dalk nog ’n bietjie vroeg om die spelers te evalueer nadat hulle Vrydag eers saamgetrek het, maar op die oog af lyk dit nie of enige van hulle lyf weggesteek het tydens die vakansie nie.

Ons weet ons het drie dae om te oefen voor ons vertrek en ons kan nie tyd mors nie. Ons kan nie bekostig om een swak oefening te hê nie want ons het net ses oefeninge voor die wedstryd teen Zebre.
Hawies Fourie

“Ons weet ons het drie dae om te oefen voor ons vertrek en ons kan nie tyd mors nie. Ons kan nie bekostig om een swak oefening te hê nie want ons het net ses oefeninge voor die wedstryd teen Zebre. Dis belangrik dat ons skerp moet wees in alles wat ons doen,” sê die breier.

Die moontlikheid bestaan dat die Springbok-flank Oupa Mohojé, wat weens ’n kniebesering meer as ’n jaar laas gespeel het, sal saamtoer. Hy is op die vorige toer na Wallis ingesluit, maar het nie speelkans gekry nie.

“Hy was nog nie in die 23-tal nie. Die oomblik as ek voel hy is reg om te speel sal ek hom kies. Ons wil hom so gou as moontlik by die span betrek, maar ons gaan hom nie speel voordat hy nie heeltemal reg is nie.

“Die kontaksessie wat ons gehad het voor ons Ospreys toe is, het my gewys hy is nog nie heeltemal reg nie. Ons sal nou ná die vakansie sien of hy sy deel gedoen het en fikser is. Sy tyd sal kom; hy’s ’n goeie speler,” sê Fourie.

* Die Cheetahs se beginspan teen Zebre: Rhyno Smith, Craig Barry, William Small-Smith, Benhard Janse van Rensburg, Rabz Maxwane, George Whitehead, Tian Meyer, Aidon Davis, Junior Pokomela, Chris Massyn, Walt Steenkamp, Sintu Manjezi, Aranos Coetzee, Wilmar Arnoldi, Boan Venter.

Meer oor:  Bloemfontein  |  Hawies Fourie  |  Rugby  |  Oupa Mohoje  |  Pro14  |  Cheetahs
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.