Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Rugby
Rademan wen ver ondanks rassewolk

’n Rassisme-wolk het die afgelope week oor die presidentsverkiesing in OP Rugby getrek toe ’n beweerde kwetsende stemopname van die sittende president aan die lig gekom het.

’n Gesprek van André Rademan met ander rugby-amptenare is glo opgeneem sonder dat hy daarvan weet. Dit is wyd versprei, moontlik deur ondersteuners van Vernon Stuurman, sy teenstander in die verkiesing.

André Rademan
André Rademan

Desondanks het Rademan die verkiesing gister loshande gewen en bly aan in sy pos. Hy het 130 stemme gekry teenoor Stuurman se 51. Hy het selfs met ’n groter meerderheid gewen as toe hy die eerste keer gekies is.

In die opname, wat aan Rapport gestuur is, sê Rademan aan die amptenare SA Rugby is reg om “die plug op OP Rugby te trek, omdat hulle gatvol is vir die OP”. “Iemand het vir my gesê, en luister hier, dit is nie (stem onduidelik) nie . . . maar jy kan nie kleurlinge vertrou nie. Hulle oggend- en aandpraatjies is. . . my maat. . . dit is shocking,” lui die opname.

Die klankgreep is op Whats­App versprei, tesame met ’n tweede opname as kommentaar daarop van iemand wat sê: “Mense, luister nou mooi wat sê die president oor die coloured mense.” Rapport kon nie vasstel wie se stem op die tweede opname is nie.

Ondersteuners van Stuurman het die eerste opname blykbaar kort voor die verkiesing na vore gebring as bewys dat Rademan se benoeming ongeldig is, maar dit is verwerp deur ’n vergadering van die uitvoerende bestuur Vrydag waarop die unie se regsverteenwoordigers teenwoordig was.

Rademan se regsverteenwoordiger, Danie Gouws, het ontken dat dit sy kliënt se woorde is. Hulle vermoed die oorspronklike klankopname is geredigeer om Rademan in ’n slegte lig te stel en gaan die opname deur kundiges laat ontleed.

Hy het gesê Rademan het herhaal wat iemand anders aan hom gesê het en sê dat dit boonop in ’n gesprek met ’n “multikulturele groep” was.

“Hy het dit nie self gesê nie, hy verwys daarna en dit gaan oor SA Rugby.

Toe gaan die een groep en verdraai alles en sê: ‘Kyk hoe praat die president.’ Hy praat nie oor iemand nie, hy sê wat iemand aan hom gesê het. Dit is alles verkiesingspropaganda.

“Toe gaan die een groep en verdraai alles en sê: ‘Kyk hoe praat die president.’ Hy praat nie oor iemand nie, hy sê wat iemand aan hom gesê het. Dit is alles verkiesingspropaganda.”

Volgens Gouws gaan hulle siviele stappe doen en sal Rademan strafregtelike klagte oor die voorval indien. “Die Wet op Elektroniese Kommunikasie en Transaksies maak dit duidelik: As twee mense met mekaar praat, kan een die ander een opneem sonder dat hy daarvan bewus is. Maar as daar ’n groep mense is en jy neem iemand sonder sy toestemming op, is dit teen die wet,” sê hy.

Die bohaai was die laaste toneel in ’n week van drama in die OP waarin klubs eers teen Stuurman se benoeming kapsie gemaak het. Hulle het regsadvies ingewin in ’n poging om hom as presidentskandidaat gediskwalifiseer te kry.

Rademan en die uitvoerende komitee het ná ’n vergadering met die unie se prokureurs en ouditeurs besluit Stuurman is wel verkiesbaar.

Stuurman, lid van die burgermeesterskomitee vir finansiële bestuur in die Sarah Baartman-distriksmunisipaliteit, is steeds betrokke by ’n hofsaak wat Southern Kings-spelers in 2018 aanhangig gemaak het oor salarisse wat nooit betaal is nie.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.