Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Rugby
'Alles is destyds deur Volksblad gedoen'
’n Bloedjong Ashwell Rafferty in aksie vir die Vrystaat-Cheetahs teen die Blou Bulle in die Vodacombeker-reeks in 2003 op Loftus Versfeld. Foto: Gallo Images

Dit is met heimwee dat die voormalige Vrystaatse veelsydige agterspeler Ashwell Rafferty terugdink aan sy dae as jong rugbyspeler en hoe hy Volksblad gevolg het om te sien of hy die oefengroepe gehaal het.

Hy het hoofsaaklik vleuel, maar ook skrumskakel vir die Vrystaat gespeel en hy is reeds 20 jaar by die Vrystaat Cheetahs betrokke, vyf jaar as speler en nou al 15 jaar as werknemer.

Ashwell Rafferty ontsmet balle by ’n oefening. Foto: Gallo Images

Hys is die Cheetahs se spanbestuurder en moes voor die Covid-19-pandemie, gereeld sy vrou, Cheryl, en hulle kinders alleen by die huis agterlaat terwyl hy en sy geliefde Cheetahs Europa deurkruis het vir die Pro14-reeks en na Australasië vir die Superrugby-reeks.

Hy het saam met Volksblad al die hoogte- en laagtepunte van die Vrystaat-rugby en rugby in die streek beleef, maar laat die blits wat in Graaff-Reinet gebore is weet, hy het ’n sagte plek vir die koerant.

“Ek het baie goeie herinneringe van Volksblad. Toe ek as jong speler in 1989 by die Vrystaat aangesluit het, is alles deur Volksblad gedoen. Jy moes Maandagoggende die koerant in die hande kry, want regs onder op die agterblad was daar ’n kolom waar die Vrystaat se oefengroep bekend gemaak is.

“Ek sal dit nooit vergeet nie, die boonste kolom was die agterspelers en die onderste die voorspelers, dit was die manne wat vir oefening moes aanmeld,” vertel Rafferty, wat die laaste 15 jaar ’n sweetpak werk toe dra, maar op wedstryddag netjies met baadjie en das veld toe kom.

Hy onthou ook nog soos gister hoe hy destyds die skryfwerk van George van Eck, oud-rugbyskrywer en later sportredakteur van Volksblad hom altyd goedgesind was.

Ashwell Rafferty en Franco Smith gesels voor die Pro14-wedstryd teen Connacht in Galway, Ierland. Foto: Gallo Images

“Oom George het seker maar van my gehou, want hy het altyd oor my geskryf. Al die artikels en foto’s wat geplaas was toe ek gespeel het, het ek uitgeknip.

“So was Volksblad nie net ’n baie groot deel van Bloemfontein nie, maar ook my en die lewens van ander rugbyspelers. Maar, ek moet byvoeg, hulle het baie goed met Vrystaat-rugby oor die weg gekom.

“Dis hartseer dat die koerant nie meer in gedrukte vorm gaan verskyn nie, maar soos hulle die ou era afsluit, betree hulle ’n nuwe een met die digitale uitgawe, so ek is bly dat hulle steeds daar sal wees.

“Voorspoed vir Volksblad en ek is oortuig dat hulle steeds ’n goeie diens sal lewer soos altyd,” sê Rafferty.

Meer oor:  Cheetahs  |  Volksblad
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.