Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Rugby
Rampante Leeus gee SA groot aansien
Ruan Ackermann loop hom vas teen Jean-Luc du Preez (regs) en Cobus Reinach. Foto: SASPA

Suid-Afrikaanse rugby is g’n meer die Suidelike Halfrond se strooipop nie. Dié minderwaardige status is gisteraand finaal nek omgedraai toe die Leeus Superrugby se algehele eerste plek verower het.

Die Leeus se eerste plek ná bykans ses maande van Superrugby se ligawedstryde is ’n heel eerste vir die span van Ellispark.

Hulle is saam met die Cru­saders die enigste twee spanne wat slegs een nederlaag vanjaar gely het. Die topspan van Nieu-Seeland het gister onverwags teen die Hurricanes slae gekry.

Die Leeus het in sy 15 ligawedstryde 590 punte aangeteken en 268 afgestaan. Die Crusaders het 544 punte aangeteken en 303 afgestaan.

Die Leeus het ook meer drieë as die Crusaders gedruk met 81 teenoor die Kiwi’s se 77. Die 27 drieë wat die Leeus afgestaan het, is ook 10 minder as die Cru­saders se 37.

Die Leeus het gister in Durban met ’n oorwinning van 27-10 oor die Haaie die eerste plaaslike span sedert 2012 geword wat ná die groepwedstryde boaan die puntelys van die Superrugby-reeks eindig.

Die Stormers was in 2012 met Allister Coetzee as hoofafrigter en Rassie Erasmus as die direkteur van rugby, die laaste Suid-Afrikaanse span wat dié prestasie kon vermag.

Die Leeus se sukses in die groepfase volg nadat die Blitsbokke vroeër vanjaar as die kampioen van Wêreldrugby se sewesreeks gekroon is.

Die Springbokke het ook die Franse 3-0 in Junie se toetsreeks afgestof.

Tradisioneel voorspel sukses in die Superreeks goeie dinge vir Springbok-rugby.

In 2007 het die Bulle die Haaie in die eindstryd in Durban geklop, waarna die Bokke voortgegaan het om die Wêreldbeker te verower.

Twee jaar later het Peter de Villiers se Bok-span ’n reekssege oor die Britse en Ierse Leeus behaal nadat die Bulle met die Chiefs in die Super-eindstryd klaargespeel het. Die Bokke het in dieselfde jaar (2009) die merkwaardige prestasie behaal deur drie keer met die All Blacks af te reken.

  • Die Leeus sal danksy gisteraand se sege in Durban, en die Hurricanes wat in Wellington met 31-22 met die Crusaders afgereken het, tuisveldvoordeel in al hul wedstryde in die uitkloprondes geniet.

Johan Ackermann se span is ’n ander gedierte in Johannesburg. Die Leeus gaan die uitkloprondes ook met wenmomentum – 14 seges in 15 ligawedstryde – tegemoet.

Hulle speel Saterdag om 14:30 weer teen die einste Haaie in Johannesburg, wat dan veel sterker teenstand sal bied as wat die geval gister was.

Die Haaie was gister in die moeilike posisie dat as hulle die Leeus klop, hulle na Christchurch vir ’n ontmoeting met die Crusaders moes reis. Die Cru­saders pak die Highlanders Saterdag om 09:35 in ’n kwarteind-tuiswedstryd.

  • ’n Lang, uitmergelende reis wag van Hamilton tot Kaapstad op die Chiefs vir hul kwarteindstryd Saterdag om 17:00 met die Stormers.

Dit begin met ’n busrit in die vroeë oggendure na Auckland, waarna hulle eers na Sydney en dan Johannesburg vlieg, voordat hulle die Kaap eers ná nog ’n binnelandse vlug sal bereik.

  • Die verdedigende Superrugby-kampioen, die Hurricanes, moet na Canberra vlieg vir hul kwarteindstryd teen die Brum­bies. Al speel die Brumbies Vrydagoggend om 11:35 tuis, kon geen Aussie-span ’n Kiwi-teenstander in hul laaste 31 ontmoetings klop nie. Die Brumbies se laaste sege oor ’n Nieu-Seelandse span was ook laas in die eerste ronde van 2016 se Superreeks oor die Hurricanes.
Meer oor:  Superrugby
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.