Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Rugby
Rassie: ‘Farrell se duikslag was uitstekend’

Daar was niks fout met daardie duikslag van die Engeland se losskakel, Owen Farrell, nie. Dit was eintlik uitstekend, sê Rassie Erasmus, hoofafrigter van die Springbokke.

’n Verheugde Owen Farrell. Foto: Getty Images

Farrell se skouerloop Saterdag op die Bok-plaasvervanger André Esterhuizen in die laaste beweging van dié spanne se Twickenham-toets, het agterna ’n warm debat ontlok.

Op die kykweer het dit gelyk na ’n skouerloop, soortgelyk aan die een waarvoor Bismarck du Plessis ’n paar jaar gelede ’n rooikaart teen die All Blacks gekry het.

Met die telling op 12-11 in die tuisspan se guns, kon ’n strafdoel die toets vir die Bokke beklink het.

Erasmus het agterna gesê hy dink nie sy span is te nagekom toe Farrell nie gestraf is nie.

“Skouerloop of duikslag?

“Nee, ek grap net. As dit ’n skouerloop was, sou die skeidsregter hom gestraf het. Dit was ’n goeie duikslag, want ek het nog nie gesien dat André Esterhuizen so in sy spore gestuit word nie.

Dáárdie skouerloop... Owen Farrell duik vir André Esterhuizen. Foto: AP Photo
Owen Farrell se duikslag het vir André Esterhuizen soos ’n vrot vel sien neerval. Foto: AP Photo

“As dit binne die reëls was, en ek het geen probleem daarmee gehad nie, moet ons ook só begin duik. Dit was baie doeltreffend,” het Erasmus gesê.

Die Bok-afrigter het sy kop geskud toe hy gevra is oor sy span se verlore geleenthede, veral in die eerste helfte.

Daar was onder meer voor rustyd vyf lynstane op Engeland se doellyn wat geen welslae opgelewer het nie.

Minstens drie ingooie van Malcolm Marx, die Bokke se haker, het agteroor die lynstaan getrek en Engeland se besit geword.

“Dit is frustrerend. Daar was net een punt verskil op die telbord, maar ons het soveel geleenthede gehad.

“Daar was sekere goed wat ons goed gedoen het, maar ons dissipline en swak afronding het dit ongelukkig oorskadu.

Julle (die media) gaan nie ophou tot ek afgedank word nie. Dan sal jul gelukkig hier sit en die volgende ou (Engeland-breier) terroriseer.
Eddie Jones

“As jy nie kan afrond nie en so baie strafskoppe afstaan, gáán dit jou kos.”

Die Bokke se lynstaanwerk was treurig en Erasmus sê hulle moes punte aangeteken het met die twee rolmale toe Maro Itoje (geelkaart) nie op die veld was nie.

“Daar is regtig geen verskonings nie. Ons het baie ervaring in die agttal en dit is nie asof ons kan sê daar is te veel jong ouens nie. Ons sal hard hieraan moet werk.”

Die Bok-kaptein, Siya Kolisi, het gesê “swak tydsberekening” was die probleem in die lynstane.

“Dit het ’n groot impak op die uitslag gehad en ons besef ons moes groter beloning in die lynstane gekry het.”

Die toerspan sal boonop ’n ruk lank sonder die slot Eben Etzebeth moet klaarkom.

Dit lyk of Eben vir ’n ruk buite aksie gaan wees, of dalk selfs die res van die toer kan misloop.
Rassie Erasmus

Erasmus het gesê die vroeë prognose lyk nie goed nie.

“Dit is sy enkel of voet, ek is nie heeltemal seker nie. Maar dit lyk of hy vir ’n ruk buite aksie gaan wees, of dalk selfs die res van die toer kan misloop.”

Eddie Jones, die wenspan se afrigter, was verlig, maar ook in ’n veglustige bui.

Hy het hom vererg toe hy gevra is of die sege nodig was om die span se brose selfvertroue te herstel voor volgende week se toets hier teen die All Blacks.

“Manne daar is niks fout met ons selfvertroue nie. Ons is steeds ’n goeie span. Ja, ons het ’n paar wedstryde verloor, maar ons is steeds op koers.

“Julle (die media) gaan nie ophou tot ek afgedank word nie. Dan sal jul gelukkig hier sit en die volgende ou (Engeland-breier) terroriseer.”

Meer oor:  Bokke  |  Rose  |  Springbokke  |  Siya Kolisi  |  Owen Farrell  |  Rassie Erasmus  |  Eddie Jones  |  Engeland
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.