Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Rugby
Rassie fluister ook in Franse blaser se oor

Óók Rassie Erasmus het die blaser in Saterdag se Wêreldbeker-groepwedstryd in Jokohama, Jérôme Garcès, Woensdag daaraan herinner dat die gaping tussen die All Blacks en die res van die spanne die afgelope tyd baie gekrimp het.

Dít kom nadat Mzwandile Stick, een van Erasmus se hulpafrigters, Garcès en sy wedstrydbeamptes vroeër die week gelyke behandeling in Saterdag se toets gevra het.

Die Springbokke se roemryke oorwinning oor die All Blacks in Wellington verlede jaar. Dit was 12 maande nadat Nieu-Seeland hulle in Albany met 57-0 verneder het. Dit het hulle baie gehelp om weer ’n bietjie respek in wêreldrugby af te dwing, sê Rassie Erasmus. Foto: Getty Images

Toe ’n Nieu-Seelandse joernalis Erasmus by Woensdag se Bok-spanaankondiging gevra het wat Stick presies bedoel het, het die Bok-afrigter die geleentheid tot sy span se voordeel ingespan.

“Toe ek in 1999 nog gespeel het en ons in 17 toetse agtereenvolgens onoorwonne was, het ons baie ondersteuning en respek van die ondersteuners en teenstanders gekry. Ons het dit selfs van skeidsregters gekry.

“Dit gebeur dat daardie agting selfs skeidsregters beïnvloed. Aangesien jy so goed speel, vind skeidsregters dit baie moeilik om jou met daardie 50/50-beslissings te straf.

“Al die spanne is nou so naby aan mekaar wat hul krag betref. Die gaping tussen die spanne is werklik baie klein.”

Dis ’n Wêreldbeker, en enige span kan enige ander een klop.

Aangesien Nieu-Seeland al so lank die wêreld se voorste span was, geniet hulle, volgens Erasmus, almal se respek op verskillende vlakke. Selfs die skeidsregters s’n.

“Baie van die 50/50-beslissings het na hul kant toe gegaan, omdat hulle so lank oorheers het. Hulle het dit verdien, omdat hulle die nommer-een-span ter wêreld was.

“Dít het destyds ook met ons gebeur, selfs met die Bok-span van 2009.

“Die punt wat ons maak, is dat dit nou moeilik is om te sê wie die nommer-een-span is. Daardie opvatting dat dié span nie dáárdie een kan klop nie, het verdwyn. Dis ’n Wêreldbeker, en enige span kan enige ander een klop.”

Die Bok-afrigter het dit duidelik gestel dat Suid-Afrika steeds ’n hoë agting vir die All Blacks het, veral oor die geskiedenis tussen die lande.

Jérôme Garcès was in 2015 die blaser toe die Bokke en Nieu-Seeland mekaar in die Wêreldbeker-halfeindstryd op Twickenham gepak het. Hy dra Saterdag die fluitjie in die groot WB-groepwedstryd tussen dié spanne in Jokohama. Foto: Getty Images

Erasmus het ook op Woensdag se nuuskonferensie gesê toe hy as Bok-afrigter oorgeneem het, het hy geweet die enigste manier waarop Suid-Afrika die respek van die ondersteuners en teenstanders ná ’n onstuimige seisoen in 2016 sou herwin, sou wees om die All Blacks in Nieu-Seeland te gaan klop.

“Met baie geluk kon ons hulle (verlede jaar 36-34) in Wellington klop. Ons was baie gelukkig. Ons het egter steeds in die vyfde of sesde plek op die wêreldranglys gebly, maar die wêreld het ons toe weer ’n bietjie gerespekteer.”

Dit het in 2017 veel beter met die Bokke gegaan, maar daardie nederlaag van 0-57 in Albany het ’n lelike letsel gelaat. Dit het die Suid-Afrikaanse Rugbyunie laat besluit om Erasmus voor die 2018-seisoen aan te stel.

Erasmus is realisties oor sy span se kanse Saterdag en die gevolge wat ’n moontlike nederlaag kan inhou.

“Dit sal sleg en hartseer wees om teen hulle te verloor, maar dis nie die einde (van ons Wêreldbeker) nie. In so ’n geval sal die Italiaanse toets baie belangrik raak om die uitkloprondes te haal.

Verloor jy Saterdag, sal jy ’n bietjie selfvertroue verloor. Enige afrigter sal dit vir jou sê. Dan moet jy ’n bietjie herbou en dít maak dinge moeiliker.

“Die voordeel dat ons eerste teen hulle speel en moontlik daarna goeie vordering kan maak, is dat jy hulle eers weer in die eindstryd sal teëkom.

“Verloor jy Saterdag, sal jy ’n bietjie selfvertroue verloor. Enige afrigter sal dit vir jou sê. Dan moet jy ’n bietjie herbou en dít maak dinge moeiliker.”

Wat betref die reën en nat toestande wat vir die toets in Jokohama voorspel word, het Erasmus gesê skopwerk sal baie belangrik teen die All Blacks wees.

“Skopwerk gaan ’n groot rol speel. Veral die uitvoering daarvan. Spanne gaan mekaar se swak skoppe probeer uitbuit.

“Ek verwag dit gaan ’n taktiese skaakspel met die verwagte reën en nat toestande wees.”

Meer oor:  Skeidsregter  |  Bokke  |  Springbokke  |  Rassie Erasmus  |  Wêreldbekerrugby
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.