Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Rugby
Rassie gaan met Jesse op vleuel verras

Jesse Kriel se ervaring, grootte, spierkrag en verdediging kan voorkeur bo die minder ervare Cheslin Kolbe se plofkrag, ratsheid en onvoorspelbaarheid kry wanneer Rassie Erasmus oor sy plaasvervanger vir Makazole Mapimpi besluit.

Jesse Kriel gaan waarskynlik Saterdag teen die All Blacks op vleuel uitdraf. Foto: Getty Images

Die Springbok-afrigter het ’n sterk aanduiding gegee dat hy Kriel op regtervleuel vir Saterdag se Rugbykampioenskapstoets teen die All Blacks in Wellington gaan kies. Erasmus het ook geskimp dat hy Malcolm Marx en Handré Pollard in sy beginspan sal insluit.

Marx en Pollard kan twee van die drie verwagte veranderinge tesame met Kriel se posisionele skuif aan die beginspan wees.

Lukhanyo Am behoort in die derde skuif Kriel op buitesenter te vervang.

Kriel se skuif is grootliks noodgedwonge ná Mapimpi se besering. Laasgenoemde is reeds teruggestuur huis toe om skanderings van sy regterknie te laat doen, wat hy Saterdag in Brisbane teen die Wallabies beseer het.

Erasmus het nie ’n plaasvervanger soos Ruan Combrinck of Lionel Mapoe ontbied nie aangesien die speler eers Woensdag in Wellington sal aankom.

Met S’bu Nkosi, Travis Ismaiel en Warrick Gelant wat ook beseer is, het die Bok-afrigter beperkte opsies op regtervleuel in sy groep wat in Australasië toer.

Kolbe (1 toets, 1.72 m en 76 kg) is sonder twyfel gemakliker as Kriel (33 toetse, 1.86 m en 96 kg) op vleuel. Maar vernaam ’n gebrek aan toetservaring kan teen hom tel. Kolbe het slegs verlede week sy toetsbuiging gemaak.

Hy behoort ten minste weer op die bank te sit.

Cheslin Kolbe teen wie grootte, spierkrag en verdediging tel. Foto: Getty Images

Erasmus weet ook goed wat gebeur as jy die All Blacks met ’n onervare agterste driehoek in Nieu-Seeland pak.

Die Bokke se vleuels en heelagter was juis verlede jaar hul grootste onderpresteerders in die slagting van 57-0 in Albany. ’n Uitslag wat Allister Coetzee se loopbaan as afrigter ook help kortknip het.

Kriel se skuif na vleuel sal nietemin deur verskeie ondersteuners as ’n omstrede een beskou word. Die vorige keer toe Heyneke Meyer hom in 2015 teen Argentinië vleuel laat speel het, het dit rampspoedige gevolge in die eerste verloortoets in Suid-Afrika teen Argentinië in Durban gehad.

Hy is nou meer ervare en as die Bokke se voorste verdediger kan hy die taak kry om waarskynlik die All Blacks se giftigste aanvaller, Rieko Ioane, in toom te hou. Kriel het boonop al vyf keer voor die haka gestaan.

Kolbe het in Frankryk gewys sy verdediging het baie verbeter, maar hy bly eerder ’n gevaarliker aanvaller. Hy sal vanweë sy vlugvoetigheid ’n groter impak van die bank as Kriel maak.

Kriel het al baie heelagter op skool en vir die Bulle gespeel, ervaring wat hy hopelik tot sy voordeel in die Westpac-stadion sal gebruik. Met sy getal toetse sal hy, Willie le Roux (47) en Aphiwe Dyanti (6) verreweg die mees ervare agterste driehoek wees wat die Bokke vanjaar onder Erasmus gekies het.

Die Bokke het ook die keuse gehad om Le Roux na vleuel te skuif en Kolbe agter te kies.

Marx en Pollard se moontlike insluiting ten koste van Bongi Mbonambi en Elton Jantjies is ’n teken dat Erasmus hulle steeds as sy eerstekeuse-spelers beskou, aangesien hy sy sterkste beskikbare beginspan teen die All Blacks kies. Spelers soos Bismarck du Plessis, Vincent Koch, Trevor Nyakane, Coenie Oosthuizen, Lood de Jager, Marcell Coetzee, Jaco Kriel, Duane Vermeulen, Frans Steyn, Pat Lambie en Gelant-hulle is weens onder meer beserings, ’n gebrek aan wedstrydskerpheid en oorsese klubverpligtinge nie oorweeg nie.

Dit lyk nou ook of Steven Kitshoff, en nie meer Beast Mtawarira nie, die land se voorkeur-loskopstut is. Soos die geval in Brisbane was, behoort Kitshoff weer die nommereen-trui teen die Kiwi’s te dra.

* ’n Moontlike Bok-beginspan is: Willie le Roux, Jesse Kriel, Lukhanyo Am, Damian de Allende, Aphiwe Dyantyi, Handré Pollard, Faf de Klerk, Warren Whiteley, Pieter-Steph du Toit, Siya Kolisi (k), Franco Mostert, Eben Etzebeth, Frans Malherbe, Malcolm Marx, Steven Kitshoff.

Rugbykampioenskap: Bepalings

Rugbykampioenskap: Puntelys

Rugbykampioenskap: Uitslae

Meer oor:  Cheslin Kolbe  |  Bokke  |  Toetsrugby  |  Rugbykampioenskap  |  Springbokke  |  Jesse Kriel  |  Rassie Erasmus  |  All Blacks
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.