Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Rugby
Beleërde Rassie gaan nie afwyk van bloudruk

Rassie Erasmus gaan nie weens die druk op hom as Springbok-afrigter sy langtermyn-planne met die oog op volgende jaar en 2023 se Wêreldbeker-toernooie by die kantlyn uitskop nie.

Rassie Erasmus sê hy dink verder as Saterdag se toets teen die All Blacks en gaan nie toelaat dat die druk op hom hom laat afsien van sy langtermyn-planne nie. Foto: Getty Images

Hy het wel ná twee agtereenvolgende nederlae teen Argentinië en Australië erken dit begin al hoe belangriker word om te wen.

“Ons is nie in ’n herboufase nie,” het Erasmus gesê.

“Ons gaan nou deur ’n tydperk waar ons dinge regstel wat ons weet die vorige vier of vyf eras verkeerd was en nooit reggestel is nie. Ons wil dit nou regstel. Ons het nou ’n nuwe ingesteldheid waar ons nie net alleenlik na die naweek se toets kyk nie, wat ons uiteraard doen. Maar ons kyk na die toekoms van Suid-Afrikaanse rugby. Dit sluit Wêreldbekers in.

“Dit is ook om nommer een, twee of drie in die wêreld te word. En om ’n span te bou wat verteenwoordigend van Suid-Afrika is. Ons herbou nie, ons verander dinge.

“Ek wil nou seker maak dat die span verteenwoordigend is, sodat dit nie oor twee jaar hoofopskrifte haal nie. Ek wil dit nou regkry. As ons dit nie nou regstel nie, wanneer sal ons?”

Erasmus het gesê hy het die keuse om weekliks ouer spelers te kies, wat met vier of vyf punte verloor en dan goed voel daaroor. Of hy kan aan die jonges kans gee en soms pak kry.

Siya Kolisi, die Springbok-kaptein, stamp Will Genia af in die afgelope naweek se toets in Brisbane. Daar sal toenemend druk op hom en sy afrigter, Rassie Erasmus, wees as die Bokke nie gou weer terugkeer na die wenpad nie. Foto: Getty Images

“Ek sal egter altyd my langtermyn-plan nastreef. Al is ek nie meer hier nie, wil ek hê die volgende afrigter wat na ’n Wêreldbeker-toernooi gaan, moet ’n groep hê wat verteenwoordigend van Suid-Afrika is, ervaring het en deur taai tye in Nieu-Seeland en Australië is.

“Ek sal altyd daardie hoed bly dra, of ek bly of nie. Dit is om aan die volgende afrigter of aan myself, as ek bly, ’n goeie kans te gee om die Wêreldbeker te wen. Ek sal nie dat die druk my vang terwyl ek besig is om daardie span te bou wat ek glo ’n realistiese kans in die Wêreldbeker sal hê nie.”

Die Bok-afrigter besef hy sal in die proses raadslede en ondersteuners hewig ontstel as sy span nie die gewenste uitslae behaal nie.

“Maar dis eintlik ’n bysaak, solank die span groei.”

Op ’n vraag deur ’n Nieu-Seelandse rugbyskrywer of sy twee posisies as die Bok-hoofafrigter en die Suid-Afrikaanse Rugbyunie (Saru) se direkteur van rugby ’n balanseertoertjie is, het hy met ’n ferm “nee” geantwoord.

“As ek nie goed doen as Bok-afrigter nie, doen ek nie goed as die direkteur van rugby nie. Ek is onder geen wanindruk nie. Hoe meer ons verloor, hoe groter druk sal daar op my wees.

“Die Suid-Afrikaanse rugbypubliek en ondersteuners is genadeloos. As jy Suid-Afrikaanse rugby volg, beteken die sesjaarkontrak niks as jy nie presteer nie. Ek dink dit was ’n geval waar ons leierskap (met die sesjaarkontrak) gesê het, dink ’n bietjie lang termyn. Moenie net krisisbestuur toepas en slegs verby die naweek en volgende naweek kom nie.

“Die sesjaarkontrak sê vir my dink aan volgende jaar se Wêreldbeker en ook aan 2023 s’n. Hopelik kan mense sien hoe ons ’n groep en leierskap bou. Ongelukkig begin wen al hoe belangriker raak hoe langer jy in die stoel sit. So dit is ’n balanseertoertjie.”

Rugbykampioenskap: Bepalings

Rugbykampioenskap: Puntelys

Rugbykampioenskap: Uitslae

Meer oor:  Bokke  |  Toetsrugby  |  Rugbykampioenskap  |  Springbokke  |  Rassie Erasmus  |  All Blacks
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.