Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Rugby
Rassie gaan op Ross se knoppie druk

Ná Faf de Klerk se sukkelvertoning in Brisbane, kan Rassie Erasmus in Ross Cronjé ’n “versekeringspolis” vir die Springbokke teen die All Blacks uitneem.

Ross Cronjé gaan waarskynlik die Springbokke se plaasvervanger-skrumskakel teen die All Blacks in Wellington wees. Foto: Gallo Images

Die 29-jarige Cronjé is danksy sy groter ervaring eintlik ’n logiese keuse vir Saterdag se Rugbykampioenskapstoets hier in Wellington, al sal die weglating van die 21-jarige Embrose Papier kritiek ontlok, nadat hy geen speelkans teen die Wallabies gekry het nie.

Cronjé het al gewys hy is gemaklik op ’n intimiderende verhoog soos die komende Saterdag s’n. Hy het die negetrui vir die volle duur van die toets gedra toe die Bokke verlede jaar in Kaapstad naelskraap met 24-25 teen die magtige All Blacks verloor het.

Hy sal dus nie groot oë hê as hy wel in die Westpac-stadion opgestuur word nie.

Cronjé het verlede jaar in tien toetse gespeel en was onder Allister Coetzee die Springbokke se eerstekeuse-skrumskakel in 2017. Hy het wel nie uitskietvertonings op toetsvlak gelewer nie, maar was meestal bestendig.

Sy groter ervaring, wat deelname in drie Superrugby-eindstryde vir die Leeus insluit, kan tot sy insluiting ten koste van Papier bydra.

Cronjé se onttrekking aan die vooraand van verlede jaar se toets in Albany was een van verskeie redes waarom die Bokke met 57-0 afgeslag is. Hy het die Vrydagoggend voor die Albany-toets onttrek omdat hy olik gevoel het. Dít nadat die Bokke se twee groot sterre ’n week vantevore teen die Wallabies, Coenie Oosthuizen en Jaco Kriel, ook die toets in Albany weens beserings misgeloop het.

Papier se ondersteuners sal ongelukkig wees oor die behandeling wat hy die afgelope tyd ontvang, maar hy vorm ’n belangrike deel van die Bokke se toekomsplanne. Hy moet net geduldig bly.

Ná twee agtereenvolgende nederlae teen Argentinië en die Wallabies, is die wegtoets teen die All Blacks nie die regte geleentheid om die groep se diepte met die oog op die Wêreldbeker-toernooi uit te brei nie. Daar is die naweek te veel op die spel en jy maak nie proefnemings teen die All Blacks nie.

Cronjé se insluiting is terselfdertyd ’n aanduiding dat die Bok-kamp nog onseker is wie sy tweedekeuse-skrumskakel is. Cronjé is die vierde skrumskakel wat speelkans onder Erasmus kry.

Die vergete Springbok-skrumskakel Cobus Reinach, wat kookwater-spel vir die Northampton Saints in Engeland lewer, kan dalk nog vorentoe weer in die Bok-prentjie kom. Foto: Getty Images

De Klerk is sover die gunsteling op nege en was uitstekend in die Engelse toetse, met Ivan van Zyl en Papier wat om die beurt sy adjudant was.

Erasmus het vroeër vanjaar met sy aanstelling skrumskakel as die een posisie uitgesonder waar Suid-Afrikaanse franchises ’n gebrek aan werklike toetsspelers het. Spanne soos die Bulle (Papier, Van Zyl en André Warner) en die Haaie (Louis Schreuder en Cameron Wright) probeer byvoorbeeld nog self besluit wie hul eerstekeuse-skrumskakel is.

Schreuder en Wright was terloops albei na van die Bokke se beplanningskampe genooi, maar dis waar die bus vir hulle gestop het.

Daar was in ’n stadium sprake dat Francois Hougaard weer betrek kan word, maar niks het gebeur nie. Hy het verlede jaar sy internasionale uittrede aangekondig, maar aangesien hy aanhou speel het en steeds vir die gebruik van verbode middels getoets kon word, behoort daar nie probleme te wees as hy betrek kan word nie.

Erasmus het nog nie sy naam genoem nie, maar Cobus Reinach is ’n ander skrumskakel wat vorentoe ’n oplossing kan bied. Hy is een van die Engelse klubspan Northampton Saints se sterre.

Die oud-Bul Piet van Zyl is self besig om goeie rugby onder Heyneke Meyer by die Franse klubspan Stade Français te speel.

’n Plaaslike skrumskakel wat vorentoe aan die Bok-deur kan klop, is die Cheetahs se Shaun Venter. Beserings het verhoed dat hy al kon vorder.

Afgesien van Cronjé se verwagte insluiting, behoort Bongi Mbonambi en Elton Jantjies die enigste ander veranderinge aan die Bokke se bank te wees. Daar word verwag dat Malcolm Marx en Handré Pollard tot die beginspan bevorder sal word.

* Die Bok-bank behoort so te lyk: Bongi Mbonambi, Beast Mtawarira, Wilco Louw, RG Snyman, Francois Louw, Ross Cronjé, Elton Jantjies en Cheslin Kolbe.

Rugbykampioenskap: Bepalings

Rugbykampioenskap: Puntelys

Rugbykampioenskap: Uitslae

Meer oor:  Bokke  |  Toetsrugby  |  Springbokke  |  Rassie Erasmus  |  Rugbykampionskap  |  All Blacks  |  Faf De Klerk  |  Ross Cronjé
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.