Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Rugby
Rassie gun SA trekvoëls hul sukses oorsee

In Londen was dit Michael Rhodes en in Parys Paul Willemse. En in Edinburg is Rassie Erasmus heel voorspelbaar oor die “Boere-Skotte” in Skotland se rugbyspan uitgevra.

Oral op die jaareindtoer is dit ’n gereelde tema en word die Springbok-hoofafrigter gevra of dit vir hom sleg is dat soveel Suid-Afrikaanse spelers in ander lande toetsrugby speel of hoop om dit in die toekoms te vermag.

Rassie Erasmus het WP Nel, wat Saterdag vir die Skotte teen Suid-Afrika speel, destyds as klubspeler in die Kaap al raakgesien. Foto: Getty Images

Saterdag, op Murrayfield, is daar drie Suid-Afrikaners van geboorte in die Skotte se 23-tal – WP Nel, Allan Dell en Josh Strauss.

Erasmus is van mening dit is die tekens van tye in hedendaagse rugby.

“Ons het baie spelers wat oorsee speel, ek dink die getal trek nou al tussen 450 en 500.

“Ek dink eerlikwaar dit is die realiteit in moderne rugby. As iemand nie in Suid-Afrika die kans kry om toetsrugby te speel nie, is dit wonderlik wanneer dit elders vir hom moontlik is. Iemand soos CJ Stander is ’n goeie voorbeeld daarvan.

“Ek is bly vir sulke spelers. Ek het WP Nel destyds by die Westelike Provinsie gekontrakteer toe hy klubrugby gespeel het en ek weet hy is talentvol.

“Hulle is almal goeie ouens en verdien dit om internasionale rugby te speel. Ek gun dit vir hulle,” sê Erasmus.

Daar was die laaste paar seisoene ook ander Suid-Afrikaners in Skotland se geledere.

Michael Rhodes, ’n gebore en getoë Suid-Afrikaner, oefen al saam met Engeland, maar het nog nie vir sy aangenome land toetsrugby gespeel nie. Foto: Getty Images

Die voormalige Kings-losvoorspeler Cornell du Preez het sedert verlede seisoen in ses toetse gespeel, terwyl Greig Tonks, ’n veelsydige agterspeler wat in Pretoria gebore is, agt toetse op sy kerfstok het.

Matt Proudfoot, die Bokke se voorspeler-afrigter, het self tussen 1998 en 2003 vier keer die Skotse trui oor die kop getrek in ’n tyd voor die trekvoël-verskynsel posgevat het.

Een van Nel se klubspanmaats het ’n paar maande gelede nog sy rugby by Loftus Versfeld gespeel, die oud-Bul Pierre Schoeman.

Schoeman, wat saam met Nel vir Edinburgh in die voorry sak, is ná die Superreeks uit Pretoria weg met die begeerte om toetsrugby te speel.

Die talentvolle Suid-Afrikaanse slot Paul Willemse is op die punt om vir Frankryk gekies te word. Foto: Getty Images

In Franse rugbykringe word vertel dit is net ’n kwessie van tyd voordat Willemse, wat vir die Leeus en die Bulle gespeel het, ’n Haan word.

Trouens, dié oudleerling aan die Hoërskool Monument in Krugersdorp wat deesdae vir Montpellier speel, sou dalk al verlede naweek vir Les Bleus gespeel het as daar nie ’n vertraging met sy Franse paspoort was nie.

Die vraag bly: sou Willemse dalk vorentoe vir Suid-Afrika gespeel het? Hy het immers in 2012 die Junior Bokke verteenwoordig.

In die Springbokke se toergroep is daar baie diepte op slot met Lood de Jager, Eben Etzebeth, Franco Mostert, RG Snyman en JD Schickerling, terwyl Pieter-Steph du Toit in die eerste twee toetse teen Engeland en Frankryk slot gespeel het.

Dan is daar ook nog die belowende Bulle-slot Jason Jenkins, wat op die oomblik in Japan speel.

“Dit is iets waaroor ons (Suid-Afrikaanse rugby) nie regtig beheer het nie. Die kuns is om sover moontlik seker te maak dat die mees talentvolle spelers gekontrakteer word en speelkans kry.

“Daar gaan altyd spelers wees wat besluit hulle het ’n beter kans in ’n ander rugbyland om internasionale rugby te speel,” sê Erasmus.

Meer oor:  Skotland  |  Bokke  |  Paul Willemse  |  Jaareindtoer  |  Toetsrugby  |  Springbokke  |  Rassie Erasmus  |  Wp Nel
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.