Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Rugby
Rassie het nooit gewys hy’s siek, sê Flo

Daar was nooit enige aanduiding dat Rassie Erasmus in die uitvoering van sy pligte as Springbok-afrigter ernstig siek was nie.

Francois Louw loop breëbors ná die eindfluitjie in die Wêreldbeker-eindstryd in Jokohama. Foto: Getty Images

So sê die losvoorspeler-yster Francois Louw (35), een van ’n handvol spelers wat geweet het dat Erasmus homself verlede jaar deur die pyndrumpel gedruk het op pad na Suid-Afrika se Wêreldbeker (WB)-triomf in Japan.

Erasmus het verlede jaar chemoterapie ontvang vir mikroskopiese poliangiitis met granulomatose – ’n outo-immuunsiekte wat gewoonlik die sinusse, longe, niere en dikwels ook die lugpype aantas.

“Rassie is die soort mens wat nie sal wil hê dat enigiemand juis oor hom praat nie, want sy uitkyk is dat alles oor die span se sukses – nie individuele kwessies nie – moet handel,” het Louw Maandag aan Netwerk24 gesê.

“Hy’s nie die soort mens wat simpatie of empatie soek nie. Sy binnekring was uiteraard daarvan bewus. In terme van sy werk as ’n hoofafrigter kon jy nooit sien dat daar enigiets met hom verkeerd is nie.”

Rassie Erasmus, die Suid-Afrikaanse Rugbyunie se direkteur van rugby, het verlede jaar deur die pyndrumpel geglimlag op pad na ’n Wêreldbeker-triomf. Foto: Getty Images

Louw het Erasmus se energie en toewyding gedurende die WB-toernooi geprys.

“Hy het ons vir 18 maande geslyp en dwarsdeur daardie proses was niemand regtig bewus van die siekte nie. Dit het nooit sy uitkyk of visie geraak nie. Dít sê vir jou baie van dié man,” sê Louw.

Om met dieselfde geesdrif, vonk en toewyding as gewoonlik te werk terwyl jy deur só iets gaan, spreek boekdele van die man.

“Almal het hul eie probleme om te hanteer en dis iets wat hy baie in spanpraatjies genoem het, veral wat druk behels. Dit plaas dinge binne konteks. Vir Rassie is al wat saak gemaak het om die beste Bok-span in die geskiedenis te bou en hy het daarin geslaag.”

Volgens Louw het niemand daarvan ’n kwessie gemaak nie.

“Ek dink nie ons was as ’n span daarvan bewus nie. Ek het daarvan geweet. Rassie se manier om dit te hanteer was nie om die span daarby betrokke te kry nie,” sê hy.

“Rassie is ’n taai ou. Daar’s ’n rede waarom hy toetsrugby gespeel het.”

Louw, wat in 2008 by die Stormers ’n pad met Erasmus begin stap het, sê dié siekte en behandeling het sy respek vir hom herbevestig.

“Ek het nog altyd respek vir hom gehad. Ek het in vroeër seisoene vir verskillende spanne onder hom gespeel. ’n Puik leier se toewyding is vir die span om hom,” sê Louw.

“Rassie het gewys wat dit beteken om taai te wees. Om met dieselfde geesdrif, vonk en toewyding as gewoonlik te werk terwyl jy deur só iets gaan, spreek boekdele van die man.”

Volgens Louw het Erasmus gedoen wat nodig was om hulle ’n groot span te maak.

“Die manier waarop hy homself gedruk het om daardie doelwit te bereik, het nooit gewys dat daar iets agter geslote deure was wat hy moes hanteer nie.”

* ’n Woordvoerder vir die Suid-Afrikaanse Rugbyunie het gesê dat Erasmus nie oor die kwessie wil praat nie.

“Rassie is in 2019 behandel vir ’n ernstige toestand, waarvan hy herstel het. Hy’s dankbaar vir mense se besorgdheid, maar wil die kwessie privaat hou.”

Meer oor:  Francois Louw  |  Rassie Erasmus  |  Rugby
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.