Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Rugby
Rassie het plan vir beleërde Cheetahs

Daar word nou saam met die Cheetahs gewerk om te sorg dat hulle nie net ’n heenkome buite die Pro16-reeks het nie, maar een waarin spelers geloofwaardige mededinging sal hê.

Trouens, Rassie Erasmus, die Suid-Afrikaanse Rugbyunie (Saru) se direkteur van rugby, het vandeesweek onthul dat daar dalk selfs ’n roete na ’n Europese kompetisie vir Suid-Afrika se uitgeworpenes kan wees.

Rassie Erasmus se sterk emosionele verbintenis met die Vrystaat-Cheetahs laat hom alles in die stryd werp om ’n heenkome te vind vir die span wat hy as ’n speler en afrigter verteenwoordig het. Foto: Gallo Images

“Ek werk nou saam met Harold Verster (besturende direkteur van die Cheetahs), Ryno Opperman (voorsitter van die Vrystaat-Cheetahs se direksie), Hawies Fourie (Cheetahs-afrigter) en Yusuf Jackson (Saru-beampte) om hulle in ’n interkontinentale-bekerkompetisie te kry. Ek kan nie te veel besonderhede verskaf nie, want ons onderhandel nog om te kyk wat moontlik is,” het Erasmus Maandag op ’n aanlyn nuuskonferensie gesê.

“Daar is opwindende moontlikhede. Dit kan wees dat hulle na die Europese Uitdaagbeker-reeks, wat ’n taai kompetisie is, kan deurdring as hulle in die Interkontinentale Beker-reeks goed vaar.

“Die Europese Uitdaagbeker is net onder die Kampioenebeker. Dis die kompetisie wat Jake White gewen het toe hy Montpellier afgerig het. Ons is deurlopend in gesprekke om hierdie jaar vir die Cheetahs goeie wedstryde te vind.”

Wanneer só ’n besluit geneem word, spring ons in om te kyk waar ons kan help in terme van die behoud van spelers en hoe om die span terug in ’n kompetisie te kry.

Verster het vroeër vandeesmaand in ’n brief aan ondersteuners op die Cheetahs se webtuiste gekap na die “besluitnemers en leiers van SA Rugby” oor die besluit om die Cheetahs uit die Pro-reeks te verwyder. Die Bulle, Haaie, Leeus en Stormers gaan van vanjaar af Suid-Afrika se spanne in ’n uitgebreide Pro16-reeks wees. Voorheen was dit die Cheetahs en Southern Kings.

Dit is verkeerd om Jurie Roux (links), Saru se uitvoerende hoof, en Mark Alexander, president, vir die Cheetahs se uitsluiting van die Pro16-reeks te blameer. Foto: Gallo Images

Erasmus het egter daarop gewys dat die besluit nie van hom af of van Mark Alexander (Saru se president) of Jurie Roux (Saru se uitvoerende hoof) gekom het nie.

“Ons neem nie daardie besluite nie. Dit gaan na die uitvoerende raad en daarna stem die hoofraad, wat die 14 unies se presidente is,” het hy gesê.

“Wanneer só ’n besluit geneem word, spring ons in om te kyk waar ons kan help in terme van die behoud van spelers en hoe om die span terug in ’n kompetisie te kry.”

Erasmus se woorde word beaam deur klousule 8.2.5 van Saru se grondwet, wat bepaal dat op ’n algemene vergadering besluit word wie aan Superrugby sal deelneem. Gegewe dat Suid-Afrika die Superreeks die rug toegekeer het om in die Pro16-reeks te speel, is aanvaar dat daardie klousule in die grondwet ook op die kompetisie in die Noordelike Halfrond van toepassing is.

Saru se lede, met die uitsondering van Grens wat nie mag stem nie omdat hy onder administrasie is, het die besluit op 29 September verlede jaar op ’n aanlyn vergadering geneem.

Netwerk24 het verneem dat Saru se uitvoerende raad nie oor die kwessie besluit het nie. Lede het opsies by die bestuur ontvang en ook hul eie voorstelle gemaak, waarna daar gestem is.

Daar is eers besluit oor of Suid-Afrika in die Superreeks gaan bly, met twee spanne in die Pro14-reeks, uitsluitlik in ’n uitgebreide Pro-reeks gaan speel, of slegs plaaslik gaan meeding.

Daarna is daar op die prosedure besluit hoe om die vier spanne vir deelname aan ’n Pro16-reeks te bepaal. Opsies was deur ’n tenderproses, kwalifikasie deur waar spanne in ’n toernooi eindig, of deur ’n stemmery.

Roux het glo gesê meen dat ’n tenderproses tydrowend en duur kan wees. Lede het toe besluit op ’n stemmery, waar die Cheetahs in die stof gebyt het.

Meer oor:  Cheetahs  |  Rassie Erasmus  |  Rugby
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.