Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Rugby
Rassie katswink toe Bokke met Hane mors

Rassie Erasmus, die Bokke se hoofafrigter, was die afgelope week so half verras toe ’n Franse rugbyskrywer hom uit die bloute vra of hy Suid-Afrika se oorwinning oor die Franse in 1997 in Parys kan onthou.

Pieter Rossouw was die Bokke se held in hul toets teen Frankryk in 1997 en het vier keer gaan druk. Foto: Getty Images

“Baie goed, ja. Ek kan nie sê ek het goed gespeel nie, maar dit is goeie herinneringe,” het Erasmus geantwoord.

Dit is die dag – op 22 November 1997 – wat die Springbokke die vloer gevee het met die Hane en een van die beste vertonings tot nog toe deur die draers van die Groen-en-goud gelewer het.

Die toerspan was nog die vorige Saterdag in Lyon in ’n titaniese stryd teen Frankryk gewikkel en het net-net met 36-32 gewen.

Toe kom die slagting van 52-10 heel onverwags in Parys.

Dit was boonop veronderstel om ’n mylpaal in Franse rugby te wees, want hulle het die Parc des Princes-stadion daardie dag gegroet, met die Les Bleus wat daarna in die blinknuwe Stade de France gaan nes skop het.

Om alles te kroon, het Suid-Afrika allesbehalwe teen ’n hierjy Franse span gespeel.

Die tuisspan het destyds onder meer in Abdelatif Benazzi, Laurent Cabannes en Philippe Benetton, een van die mees gevreesde lostrio’s in wêreldrugby gehad.

Maar die Bok-senter André Snyman het daardie dag sommer in die eerste minuut al gaan druk en die vleuel Pieter Rossouw het uiteindelik vier keer agter die Franse doellyn gaan draai.

Erasmus, die Vrystaatse flank wat in sy vyfde toets gespeel het nadat hy vroeër die seisoen sy toetsbuiging teen die Britse en Ierse Leeus gemaak het, het in die tweede helfte die veld verlaat toe hy harsingskudding opgedoen het.

“Ek onthou ek het ’n bal onderskep en vir Pieter (Rossouw) weggestuur en ’n paar minute later is ek van die veld af.”

Fabien Pelous, die Hane se plaasvervanger-slot, se knie het Erasmus teen die kop getref.

Henry “Die Lem” Honiball seil onder sy Franse eweknie in 1997, Thierry Lacroix, in. Foto: Getty Images

“Ek onthou dit. Wel, ek het dit ná die tyd op die video gesien.

“Dit was ’n goeie dag vir Springbok-rugby en een van daardie wedstryde wat alles reg verloop het. Ek onthou ons was skitterend op die aanval.”

Wat ’n afskeidspartytjie vir die “prinses” van Franse rugby moes wees, het toe gelei tot ’n onvoorsiene foltering vir die sowat 35 000 toeskouers.

Nick Mallett se toerspan (hy het toe pas by Carel du Plessis oorgeneem) het skoonskip gemaak daardie jaar.

Benewens die twee seges oor Frankryk het die Bokke op ’n streep met Italië (62-31), Engeland (29-11) en Skotland (68-10) afgereken en dit was die begin van die 16 toetse wat die span agtereenvolgens gewen het onder Mallett. Die Bokke het hul laaste toets onder Du Plessis ook gewen, wat hulle tussen 1997 en 1998 ’n segetog van 17 toetse gegee het.

Die Franse rugbyskrywers vertel daardie 1997-vernedering was ’n donker dag in hul rugby, maar nodig.

Dit het die rugbybase laat besef daar is vernuwing in die span nodig en die Hane het twee jaar later tot in die eindstryd van die Wêreldbeker-toernooi in Wallis gevorder.

Suid-Afrika het ná die roemryke dag tien jaar later weer in die Parc des Princes gespeel en wéér ’n 50-tal opgestapel – dié keer in 2007 se Wêreldbeker-toernooi teen Samoa (59-7). Dít het die Bokke op koers geplaas om die Wêreldbeker-toernooi ses weke later in die Stade de France te verower.

Meer oor:  Bokke  |  Jaareindtoer  |  Toetsrugby  |  Springbokke  |  Rassie Erasmus  |  Hane
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.