Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Rugby
Rassie kies twee Bok-nuwelinge

Rassie Erasmus is ’n man met ’n plan.

“Ons wil die Rugbykampioenskap wen en daarvoor het ons ’n spesifieke plan wat Saterdag (op Ellispark) begin met die eerste toets teen die Wallabies,” het Erasmus Woensdag by die spanaankondiging in Johannesburg gesê.

Rassie Erasmus. Foto: Gallo Images

“Ons plan is dinge af te wissel in die eerste twee toetse van die jaar en soveel moontlik spelers wedstryd-oefening te gee. Ek glo hierdie is die regte kombinasie om ’n goeie Wallaby-span te pak,” sê hy.

Erasmus het dit baie duidelik gemaak dat hy Australië nie geringskat met die span wat hy gekies het nie.

“Daar is geen manier waarop ons dink die Wallabies gaan maklik wees om te klop nie. Dit kom nie eens in ons gedagtes op nie,” sê hy.

Op die vraag wat sy antwoord aan enige Springbok-ondersteuner sal wees wat sê hy moet tussen R400 en amper R1 000 opdok om na ’n span te gaan kyk wat nie die beste is wat gekies kan word nie, was Erasmus filosofies.

Hy het verwys na die All Blacks wat in 2011 hierheen gekom met ’n verswakte span en in Port Elizabeth teen die Springbokke verloor het, maar dieselfde jaar die Wêreldbeker-toernooi gewen.

“As enigeen ook dink dat met spelers soos Eben Etzebeth, Pieter-Steph du Toit, Beast Mtawarira, Trevor Nyakane, Lood de Jager, Jesse Kriel, Makazola Mapimpi en dies meer gaan jy nie waarde vir jou geld kry nie, moet daar weer gedink word,” het Erasmus gesê.

“Kyk, ek sou wat wou gee om die beste span in albei hierdie eerste toetse te gekies het, maar met die moeilike reisprogram wat ons het deur Nieu-Seeland toe te moet vlieg direk na hierdie toets, maak dit veel meer sin om van twee groepe gebruik te maak,” sê Erasmus.

Ons wil die Rugbykampioenskap wen en daarvoor het ons ’n spesifieke plan wat Saterdag (op Ellispark) begin met die eerste toets teen die Wallabies.
Rassie Erasmus

Hy erken daar word ’n mate van ’n waagstuk geneem met van die spelers wat wedstryd-oefening kort en die laaste ruk beseer was.

Daar duik name soos Mtawarira, Etzebeth, De Jager, Du Toit en Bongi Mbonambi op.

“Veral in ons agttal het ons ouens wat baie ervare is en al om die blok was,” sê hy.

Twee nuwelinge, die skrumskakel, Herschel Jantjies, en die flank Rynhardt Elstadt, maak hul debuut.

Van Jantjies sê Erasmus hy het die deur omtrent afgebreek na die Bokspan met sy spel in die Superreeks vir die Stormers.

“Hy sal uiteraard senuagtig wees, maar ek glo hy sal reg wees vir hierdie uitdaging.

“Rynhardt het baie goed gespeel vir Toulouse in die Franse Top14 en groot indruk gemaak.”

Etzebeth voer die span aan en Erasmus is tevrede om iemand aan die stuur te hê wat weet hoe dit voel om voor die draf.

Op vrae wat die Kings-afrigter, Deon Davids, en ook die onder 21-breier, Chean Roux, vandeesweek by die oefeninge gedoen het, het Erasmus gesê dit was vir bloot persoonlike redes en om hulle te vergewis hoe die Bokke dinge doen.

“Daar is niks vreemd daaraan nie en van die ander lande doen dit ook. Moet nie té veel daarin lees nie,” het hy gesê.

Die Springbokspan is:

Warrick Gelant (5 toetse), Sbu Nkosi (6), Jesse Kriel (40), André Esterhuizen (6), Makazole Mapimpi (4), Elton Jantjies (33), Herschel Jantjies (0), Francois Louw (65), Pieter-Steph du Toit (46), Rynhardt Elstadt (0), Lood de Jager (38), Eben Etzebeth (75), Trevor Nyakane (37), Bongi Mbomambi (26), Tendai Mtwawarira (107). PLAASVERVANGERS: Schalk Brits (11), Lizo Gqoboka (0), Vincent Koch (13), Marvin Orie (1), Marcell Coetzee (28), Cobus Reinach (10), Frans Steyn (56), Dillyn Leyds (9).

Meer oor:  Bokke  |  Rugbykampioenskap  |  Springbokke  |  Wallabies  |  Rassie Erasmus
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.