Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Rugby
Rassie kou naels oor Bok-slot Eben

Of Rassie Erasmus, Springbok-afrigter, rede tot ernstige kommer het oor die besering wat die brekerslot Eben Etzebeth Saterdag opgedoen het, is vir eers nog onduidelik.

Eben Etzebeth. Foto: Gallo Images
Lood de Jager. Foto: Gallo Images

Etzebeth, wat glo ’n beentjie in sy hand gebreek het in die Stormers se Superrugby-wedstryd teen die Leeus op Ellispark, het Maandagmiddag ’n spesialis gaan spreek en daar gaan waarskynlik Dinsdag eers duidelikheid oor sy lot wees.

Die Stormers se bestuur is van plan om eers Donderdag, wanneer die span vir Saterdag se wedstryd teen die Sunwolves bekend gemaak word, die sluier oor die erns van die besering te lig.

Erasmus sal natuurlik voor dán reeds met die Stormers skakel om te hoor wat fout is.

Die verwagting is dat Etzebeth, wat ná vanjaar se Wêreldbeker-toernooi waarskynlik by Toulon in Frankryk gaan aansluit, sy laaste Superrugby-wedstryd vir die Stormers gespeel het.

Warren Whiteley. Foto: Gallo Images

Of sy besering – soos in die geval van Warren Whiteley, die Leeus se kaptein en agtsteman – na die Springbokke se Rugbykampioenskap-veldtog gaan oorspoel, sal nog gesien moet word.

Whiteley, wat met ’n kniebesering sukkel, gaan na verwagting die Bokke se tuistoets teen die Wallabies en wegtoets teen die All Blacks – onderskeidelik op 20 en 27 Julie – misloop.

Die kanse is ook skraal dat nóg een van Suid-Afrika se voorste slotte, Lood de Jager, weer Superrugby vir die Bulle gaan speel. De Jager, wat later vanjaar in Engeland by die Sale Sharks aansluit, het in Februarie sy skouer in Buenos Aires teen die Jaguares beseer.

Dr. Herman Rossouw, spandokter van die Bulle, het Maandag gesê dit sal nog twee tot drie weke wees voor die 26-jarige Springbok-slot weer voluit kan begin oefen.

Die Bok-senter Jesse Kriel, wat van ’n enkeloperasie herstel, sal oorweeg kan word sou die Bulle die uitspeelrondes haal, maar dit word betwyfel of hy teen dan wedstrydskerp sal wees.

De Jager behoort in 20 Julie se toets op Ellispark sy terugkeer te maak. Dit sal sy eerste wedstryd in vyf maande wees.

Siya Kolisi, Bok-kaptein, sal ook in ’n stryd teen tyd wees om vir dié toets reg te wees ná sy kniebesering. Daar is verlede week gesê dat hy sowat ses weke se hersteltyd nodig sal hê.

Die mees ervare Springbok-voorspeler, Beast Mtawarira, wat ook nog las het van ’n kniebesering, hoop ook om sy fiksheid voor die afskop van die Rugbykampioenskap te herwin.

’n Ander invloedryke Bok, Pieter-Steph du Toit, is ook langs die kantlyn met ’n skouerbesering, maar hy kan dalk al reg wees om volgende naweek vir die Stormers teen die Haaie uit te draf.

Meer oor:  Warren Whiteley  |  Bokke  |  Lood De Jager  |  Eben Etzebeth  |  Springbokke  |  Jesse Kriel  |  Siya Kolisi  |  Rassie Erasmus
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.