Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Rugby
Rassie: ‘Lood sal opdraf teen Wallabies’

Al speel die Blou Bul-slot Lood de Jager Saterdag in sy eerste wedstryd sedert Februarie, is die kans goed dat hy volgende naweek in die Springbokke se opdrafspan vir die toets teen die Wallabies gaan wees.

“Lood sal volgende week speel,” het Rassie Erasmus, Springbok-afrigter, Donderdag op ’n nuuskonferensie in Pretoria gesê.

“As hy (sonder skete) deur die naweek kom, sal hy waarskynlik volgende week vir die Springbokke teen Australië begin.”

Lood de Jager loop hom vas in Siya Kolisi in die Bulle en Stormers se Superrugby-wedstryd op Loftus vroeg in Februarie. De Jager het kort daarna sy skouer beseer en het nog nie weer gespeel nie. Hy is egter op koers om volgende week vir die Springbokke uit te draf. Kolisi het op sy beurt las van ’n kniebesering en gaan moontlik nie in een van die Rugbykampioenskapstoetse teen Australië, Nieu-Seeland of Argentinië speel nie. Foto: Getty Images

Die Bokke en Wallabies pak mekaar op Ellispark in hul openingstoets van vanjaar se verkorte Rugbykampioenskap.

De Jager is Woensdag deur die Blou Bulle se afrigter, Pote Human, ingesluit in sy span wat Saterdag in ’n Curriebeker-wedstryd teen die Westelike Provinsie op Nuweland speel.

Dié hemelbesem het bykans vyf maande op die kantlyn deurgebring nadat hy vroeg in die Superrugby-reeks ’n skouerbesering opgedoen het en geopereer moes word.

Erasmus is egter vol vertroue dat die 26-jarige speler fiks genoeg sal wees om die Wallabies in Johannesburg te pak.

Hy sê al gaan hy sy spanne vir die drie toetse van die Rugbykampioenskap skommel, kan die Bokke nie swak vertonings bekostig nie.

“Ons sien die Rugbykampioenskap as deel van die voorbereiding vir die Wêreldbeker-toernooi, maar ons is ook realisties genoeg om te weet ondersteuners, spelers, en teenstanders sal enige glips aan ons kant as ’n mislukking in ons voorbereiding beskou,” meen Erasmus.

Jy moet goed vaar in die Rugbykampioenskap terwyl jy een oog op die Wêreldbeker hou.

“Selfs al wil ons dinge regkry en boustene lê om seker te maak dat ons op die regte tyd in die Wêreldbeker ons beste peil bereik, kan jy nie dink dat jy sommer nou ’n wedstryd kan verloor en sê dat ons fokus eerder op die toernooi in Japan is nie.

“Jy moet goed vaar in die Rugbykampioenskap terwyl jy een oog op die Wêreldbeker hou.

“Ons wil die Rugbykampioenskap vir die eerste keer in tien jaar wen (die Bokke het dié reeks se voorganger, die Drienasies, in 2009 laas gewen) om momentum te bou en dit sal die eerste prys wees,” sê Erasmus.

“Daar is egter ’n paar logistieke uitdagings. Ons speel net een tuiswedstryd in die Rugbykampioenskap en twee weg van die huis. Een hiervan is Nieu-Seeland in Wellington, wat nie maklik is nie.”

Hy sê dié bepalings beteken dat hy nie vir al drie wedstryde sy sterkste span op die veld sal kan stoot nie, maar dat daar geen sprake van ’n sogenaamde A- of ’n B-span is nie.

Hy sal wel sy sterkste moontlike span teen die Kiwi’s inspan.

“As jy hier teen Australië speel, op die vliegtuig klim op ’n Maandag en Dinsdag daar (Nieu-Seeland) land, dan het jy nie ’n realistiese kans om die All Blacks in Nieu-Seeland te klop nie.

“Julle sal sien as die groep vir Australië aangekondig word, dit is nie ’n A- en ’n B span nie – dit is duidelik. Dis twee kompeterende spanne, want ons wil probeer om albei wedstryde te wen. As die loting anders was en ons twee tuiswedstryde gehad het, sou ons die beste span wat peil betref gekies het (vir Ellispark), maar ons het twee wegwedstryde en dis ’n reis-nagmerrie.”

Ons wil die Rugbykampioenskap vir die eerste keer in tien jaar wen om momentum te bou en dit sal die eerste prys wees.

Hy meen egter dat hy wel ’n alternatiewe plan sal moet oorweeg sou dinge in die Rugbykampioenskap skeefloop.

“Die plan sal moet verander as ons momentum in die Rugbykampioenskap verloor.”

Erasmus het ook bygevoeg dat hy reeds met die spelers gedeel het hoe sy spanne gaan lyk.

Een speler wat beslis nie op Ellispark in aksie sal wees nie, is die Bok-kaptein, Siya Kolisi.

Hy het Donderdag steeds met ’n beenstut rondgeloop en volgens Erasmus sal hy moontlik die hele Rugbykampioenskap misloop.

Kolisi het die veld tydens die Stormers se oorwinning oor die Highlanders op 25 Mei met ’n kniebesering verlaat.

Die verwagting is dat Eben Etzebeth teen Australië voor sal draf, met Duane Vermeulen wat die leisels as kaptein teen die All Blacks sal neem.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.