Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Rugby
Rassie loof spanne vir ‘beter produk’

Rassie Erasmus, die Suid-Afrikaanse Rugbyunie (Saru) se direkteur van rugby, glimlag breed ná die opwindende rugby wat Suid-Afrika se spanne in die voorbereidingsreeks opgedis het.

Die spanne se toewyding tot hardlooprugby was in skrille kontras met van die flou rugby wat soms in die Superrugby Unlocked- en Curriebeker-reeks gespeel is.
Rassie Erasmus, Saru se direkteur van rugby. Foto: Gallo Images

Wat baie van die kritici egter uit die oog verloor, is dat spelers dikwels weens die Covid-19-protokolle en positiewe gevalle in die aanloop tot wedstryde nie veel tyd gekry het om te oefen nie. Dan was daar die kwessie dat hulle oor die somer gespeel het.

Maar tien dae tussen wedstryde om die uitdagings van Covid-19 die hoof te bied, asook ’n pleidooi om ’n beter produk te lewer, het meer positiewe rugby in die voorbereidingsreeks tot gevolg gehad.

Die skeidsregters is ook vooraf gevra om te verseker dat lynstane en skrums vinniger gevorm en skoppe vinniger geneem word. Dit het gemiddeld net 29 sekondes geneem om skrums te vorm, 21 sekondes om die bal by die lynstane in te gooi en afskoppe het minder as 25 sekondes in beslag geneem.

Skoppers is 60 sekondes vir strafskoppe en 90 sekondes vir doelskoppe gegun.

“Ek wil die spanne, wedstrydbeamptes en ons uitsaai-vennoot prys vir die positiewe gees waarin ons aanbevelings aanvaar is,” het Erasmus op springboks.rugby, Saru se amptelike webtuiste, gesê.

“Die doelwit was om ’n beter produk te lewer vir mense wat televisie kyk, vir meer drieë om gedruk te word en om dit ’n aantrekliker ervaring te maak.

“Die bal was meer in die spel as in die 2020-seisoen en in sommige gevalle selfs meer as wedstryde wat in Nieu-Seeland en Australië gespeel is.

“Daar was wêreldwyd pleidooie om die produk te verbeter, soos om die getal plaasvervangers wat spanne mag gebruik, in te perk. Ons het egter gesien dat ons dit kon vermag deur te verseker dat die spel vinniger is en spelers minder ‘rus’ toe te laat gedurende onderbrekings in die spel,” het Erasmus gesê.

Die groot vraag is nou of die voorbereidingswedstryde voldoende was om Suid-Afrika se spanne voor te berei op die uitdagings wat in die Noordelike Halfrond op hulle gaan wag in die Rainbowbeker-kompetisie.

Afrigters het die voorbereidingsreeks gebruik om ’n blik op hul diepte te kry en jong spelers op die proef te stel, en dikwels hul grofgeskut gebêre. Geeneen van die spanne sou ook daarby gebaat het om teen ’n melkkoei soos die Oostelike Provinsie te speel nie.

Daarmee in gedagte is dit dalk ’n goeie ding dat Suid-Afrika se spanne derbies speel alvorens hulle oorsee reis. In die eerste ronde op 24 April is dit die Bulle teen die Leeus, en Stormers teen die Haaie. Die daaropvolgende naweek speel die Stormers vir die Bulle gasheer en die Haaie vir die Leeus.

LUISTER DIE PODSENDING: BLOED, SWEET & MODDER
bloed, sweet, modder

Meer oor:  Bokke  |  Springbokke  |  Rassie Erasmus  |  Reënboogbeker  |  Voorbereidingsreeks  |  Saru
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.