Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Rugby
Rassie lugtig vir Franse se gedugte agttal

’n Afspraak met ’n makro-agttal in ’n nat Parys.

Dit is die Springbok-rugbyspan se vooruitsig in die aanloop tot Saterdag se toets teen Frankryk in die Stade de France.

Die besoekers is voorts sonder die fisieke deugde van die slot Eben Etzebeth, wat vanweë ’n voetbesering die volgende paar dae slegs ’n toeris sal wees.

Rassie Erasmus, hoofafrigter van die Bokke, het drie veranderings aan die span gemaak wat op Twickenham teen Engeland verloor het.

Franco Mostert (voor) en Willie le Roux (agter) is twee van die “oorsese Bokke” wat dié week weer beskikbaar is vir toetsrugby. Hulle is albei in die Springbokke se beginspan vir Saterdagaand se toets teen Frankryk ingesluit. Foto: Gallo Images

Franco Mostert is weer beskikbaar en hy vervang Etzebeth in die beginspan. Dit bring mee dat Pieter-Steph du Toit die eerste keer in twee seisoene in die no. 4-trui sal speel.

Erasmus kon die slotpaar wat in Junie in die drie toetse teen Engeland gespeel het, RG Snyman en Mostert, ook oorweeg het en Du Toit in die lostrio ingespan het, maar dan sou Warren Whiteley met ’n plek op die plaasvervangerbank tevrede moes wees.

In die agterlyn keer Willie le Roux terug op heelagter ten koste van Damian Willemse, en Faf de Klerk is weer Handré Pollard se skakelmaat in Ivan van Zyl se plek.

Die Bok-breier se oë het Donderdag gerek toe hy oor die Hane se span uitgevra is.

“Hulle het ’n massiewe pak gekies. Ons het gedink ons het ’n groot agttal gekies vir die toets teen Engeland, maar hulle sal gedug wees voor.”

Die weerprofete voorspel dat dit Saterdag die grootste deel van die dag kan reën in die Franse hoofstad. Dit beteken die veld gaan nat wees en dat die voorspelers selfs ’n groter sê in die uitslag gaan hê.

Erasmus gee toe dat Etzebeth se afwesigheid ’n leemte laat.

“Wanneer jy (iemand met) 70 toetse uit ’n span haal, sal dit nie dieselfde span wees nie. Ons sal Eben se leierskap mis, maar daar is gelukkig goeie diepte onder die slotte in ons groep.”

En Du Toit wat weer skuif in die agttal?

“Dit is eintlik maar net ’n nuwe posisie in die skrums. Hy is eintlik nog ’n losvoorspeler, wat op slot in die skrums sak en hy gaan waarskynlik nie die toets daar klaarmaak nie.

“Hy bied die span baie op flank en slot. Jy kry nie baie sulke veelsydige spelers nie en in my era was daar iemand soos André Venter wat dit kon doen.

“Teen die All Blacks en Wallabies sal ek hom in die meeste gevalle op flank verkies, maar soms het jy iemand met ’n groot enjin op slot nodig en hy bied dit. Saterdag is een van daardie dae.”

Guilhem Guirado, Frankryk se kaptein en haker, oefen vandeesweek in die gimnasium. Frankryk het ’n bielie-pak as teenvoeter vir Suid-Afrika se kragtige agttal gekies. Foto: Reuters

Erasmus sê “kalmte en besluitneming” is nie iets wat in spelers se eerste of tweede toets natuurlik kom nie en dit is daarom belangrik om Le Roux en De Klerk in die opdrafspan te hê.

Daar is ook drie veranderings onder die plaasvervangers.

Die vaskopstut Vincent Koch vervang Wilco Louw, Francois Louw (losvoorspeler) neem Lood de Jager se plek en Cheslin Kolbe word bo die senter André Esterhuizen in die 23-tal verkies.

Die nuwe rigting wat die Springbokke vanjaar onder Erasmus ingeslaan het, word beklemtoon deur die feit dat net Pollard en die buitesenter, Jesse Kriel, ’n jaar gelede in die agterlyn was wat hier teen Frankryk gespeel het.

Springbokke:
Willie le Roux, S’bu Nkosi, Jesse Kriel, Damian de Allende, Aphiwe Dyantyi, Handré Pollard, Faf de Klerk, Warren Whiteley, Duane Vermeulen, Siya Kolisi (k), Franco Mostert, Pieter-Steph du Toit, Frans Malherbe, Malcolm Marx, Steven Kitshoff. PLAASVERVANGERS: Bongi Mbonambi, Thomas du Toit, Vincent Koch, RG Snyman, Francois Louw, Embrose Papier, Elton Jantjies, Cheslin Kolbe.


Meer oor:  Parys  |  Frankryk  |  Bokke  |  Jaareindtoer  |  Toetsrugby  |  Springbokke  |  Hane
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.