Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Rugby
Rassie moet nou finaal dink oor WB-groep

Nou het die tyd aangebreek om finaal te tob oor die 31 spelers waarmee Suid-Afrika van volgende maand in Japan sal probeer om ’n derde keer as die koning van wêreldrugby gekroon te word.

Siya Kolisi klop Saterdag op Loftus Versfeld ’n verdediger in die toets teen Argentinië. Rassie Erasmus, die Springbok-afrigter, was in sy noppies dat sy Wêreldbeker-kaptein tot in die tweede helfte die pas kon volhou.Foto: Gallo Images

“Ek wil, saam met die keurders, regtig toesien dat die beste 31 spelers op die vliegtuig is.

“Ons het nog nie vanjaar ’n toets verloor nie en dit maak ’n ou ’n bietjie rustiger, maar ek weet ook almal sal nie tevrede wees met die groep wat gekies word nie,” het Rassie Erasmus, afrigter van die Springbokke, gesê ná die span se onoortuigende oorwinning van 24-18 Saterdagaand oor Argentinië op Loftus Versfeld.

Die toets, wat gebruik is vir laaste Wêreldbeker-proefnemings, het min opgelewer om oor opgewonde te raak.

“Dit was nie ’n wonderlike vertoning nie, maar die ouens het met groot durf gespeel en baie van hulle was senuweeagtig om die groep te haal.

“Ek het nie verwag dat dit hardlooprugby sal wees nie. Ek het deur die week vir die spelers gesê ek dink die toets gaan in die loopgraaf gewen of verloor word en dit is presies wat gebeur het.”

Erasmus het gesê daar was “goed en sleg”, maar hy is tevrede dat sy spelers vasgebyt het en steeds gewen het.

“Dit was ’n saamgeflanste span. Ons skakelpaar (Elton Jantjies en Cobus Reinach) het albei sover die seisoen enkele minute gespeel en ons het vir Siya (Kolisi) laat terugkeer.

“Dit is lekkerder om te leer terwyl jy wen.”

Die Bok-breier het aangedui die wedstryd sal nie ’n groot impak op die samestelling van sy WB-groep hê nie, tog moes hy “bevestiging kry in sekere posisies”.

“Ek moet nou mooi gaan sit en dink en natuurlik is die keurders ook betrokke. Maar ja, ek het ’n paar antwoorde gekry vandag.”

“Wonderlik,” was Erasmus se reaksie toe hy oor die vertoning van Kolisi gepols is.

“Ek wou hom al ná 30 minute afgehaal het, maar hy het gesê hy voel nog goed. Toe is Marcell (Coetzee) vroeg beseer.

“Siya het rustyd gesê hy mik vir 70 minute, maar ek kon voor dit gesien het hy sukkel ’n bietjie.

“Ons sal hom nou goed kondisioneer en nog wedstrydtyd gee teen Japan (op 6 September). Daar is nie twyfel nie, hy is reg vir die toernooi.”

Die losvoorspeler Marcell Coetzee is waarskynlik nie so gelukkig nie.

Hy is reeds in die 15de minuut af vir ’n harsingskuddingstoets en het nooit weer teruggekeer nie.

Marcell Coetzee se toets teen die Poemas was van korte duur en hy het die veld reeds in die 15de minuut ná ’n harde stamp teen die kop verlaat. Foto: Gallo Images

Dit was sy groot kans om Erasmus te oortuig dat sy vermoëns by die afbreekpunte, veelsydigheid en ervaring ’n moet is vir die span se WB-aanslag.

“Dit is moeilik om ’n speler te beoordeel nadat hy net 15 minute op die veld was.

“Glo my, dit is nie maklik in ’n WB-jaar nie. Aphiwe (Dyantyi) en Warren (Whiteley), wat spelers van gehalte is, is in ’n stryd teen tyd en die tydsberekening (van hul beserings) tel teen hulle.

“Dit is nou moeilik vir Marcell, want ons weet wat ons in ander losvoorspelers het en hulle het goed gespeel in vorige wedstryde.

“Ons weet wat hy die span kan bied en daardie 15 minute sal nie deurslaggewend wees vir Marcell nie.”

Meer oor:  Loftus Versfeld  |  Springbokke  |  Siya Kolisi  |  Rassie Erasmus
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.