Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Rugby
Rassie moet slím kies, sê oud-Bok Otto

Rassie Erasmus sal weet hoe ’n groot rol sy spankeuse op die Springbokke se veldtog in die Wêreldbeker-toernooi kan hê, sê Krynauw Otto, ’n voormalige Bokslot.

“Dit het ons in 1999 duur te staan gekom. Ek dink steeds ons kon die beker gewen het as Gary Teichmann ons kaptein was,” meen Otto.

RG Snyman is volgens die oud-Bok Krynauw Otto ’n grote in wording. Foto: Getty Images

Dit het in die 1999-toernooi ’n langafstand-skepdoel van die Wallaby Stephen Larkham geverg om die Springbokke in die WB-halfeindstryd op Twickenham te troef.

Otto en Erasmus was destyds spanmaats toe Nick Mallett die span afgerig het.

Mallett het enkele maande voor die toernooi besluit om sy kaptein, Teichmann, die trekpas te gee om vir Bob Skinstad plek te maak.

“Dit was ’n groot fout en Nick het dit agterna erken. Gary was ’n uitstekende leier en sy weglating het baie onsekerheid in die span laat posvat.”

Otto sê die senior spelers moes terugskouend daarop aangedring het dat Teichmann die span aanvoer.

“Ons was jonk en het waarskynlik nie die groter prentjie raakgesien nie.

“Daar was soveel ontwrigting voor die halfeindstryd en as ons vir Gary daar gehad het, sou daar groter kalmte in die span gewees het.

“Ek glo steeds ons sou gewen het as Gary ons kaptein was.”

Otto, wat in 38 toetse gespeel het, sê hy het verlede seisoen met tye gedink Erasmus “maak droog” met sy spankeuses.

“Die proefnemings in die derde toets teen Engeland (op Nuweland) het die Bokke laat verloor. Die span het my ook nie oortuig op die jaareindtoer nie.”

RG is groot en atleties. Hy gaan in die afsienbare toekoms die teenwoordigheid van ’n Bakkies Botha op die veld hê.

Hy glo nietemin Erasmus kan ’n gedugte agttal kies vir die skouspel in Japan.

“Daar is veral goeie slotte en hakers. As Rassie die regte kombinasie in die voorry kan kry, kan ons skrumwerk een van die span se sterkpunte wees.

“Ek is wel nie oortuig oor die lostrio nie. Duane Vermeulen, Pieter-Steph du Toit en Siya Kolisi is almal goeie spelers, maar dit is nie ’n beproefde kombinasie nie.”

Krynauw Otto
Krynauw Otto / Foto: Gallo Images

Otto sê Erasmus kan ’n goeie groep slotte kies.

“Ek glo Eben Etzebeth, Franco Mostert, RG Snyman en Lood de Jager (as hy betyds van ’n skouerbesering herstel) sal die slotte wees.

“Jy kan nie eintlik sê wie die beste twee is nie en dit is ’n groot voordeel vir Rassie.”

Snyman, wat Saterdag op Loftus Versfeld ’n uitstekende vertoning vir die Bulle teen die Reds gelewer het, maak Otto opgewonde.

“RG is groot en atleties. Hy gaan in die afsienbare toekoms die teenwoordigheid van ’n Bakkies Botha op die veld hê. Hy is sonder twyfel ’n grote in wording.”

Meer oor:  Bokke  |  Toetsrugby  |  Rassie Erasmus  |  Rg Snyman  |  Wêreldbekerrugby
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.