Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Rugby
Rassie nie in ekstase oor Bokke

Dit was allesbehalwe ’n vertoning van wêreldgehalte.

Die Springbok-vleuel Sbu Nkosi word deur sy spanmaats gelukgewens met sy drie. Foto: Gallo Images

Rassie Erasmus, afrigter van die Springbokke, het Saterdagaand oop kaarte gespeel oor sy span se oorwinning met 35-17 oor Australië op Ellispark in Johannesburg in die Rugby-kampioenskapsreeks.

Al vertel die telbord ’n storie van gemak, sê Erasmus dit was nie ’n vertoning wat hulle sal laat kwalifiseer vir die uitspeelwedstryde in die Wêreldbeker-toernooi later vanjaar nie.

“Ons was soms baie gelukkig en die kaarte het vandag reg vir ons geval. Op ’n ander dag kon dit veel anders gelyk het,” het Erasmus gesê.

“Dit was ’n wedstryd wat met rukke en stote gespeel is. Ek was vooraf bekommerd oor die roes met verskeie ouens wat dalk nie wedstrydfiks was nie. Dit was soms ’n baie frustrerende wedstryd, maar uiteindelik het sekere individuele vertonings sake vir ons gered,” het hy gesê.

Een van daardie individue was Herschel Jantjies, die Speler van die Wedstryd, wat volgens die afrigter gewys het hy is baie gerieflik op hierdie vlak.

“Sy diens en taktiese skopwerk oor die koppe van die voorspelers was uitstekend. Hy kan net groei van hier af. Al wil ’n mens nie ’n nuweling te veel lof toeswaai nie, verdien hy dit beslis.

“Die feit is egter dat die teenstand nou net taaier gaan word en dinge kan vinnig verander. Ons het nog niks vanjaar bereik nie en ons staar ons nie blind teen een vertoning nie.

“Die geluk was aan ons kant met hulle (Wallabies) wat die bal aangeslaan het oor die doellyn en ook die vorentoe aangee voor daardie “drie” wat hulle in die eerste helfte gedruk het.

“Van die plaasvervangers wat opgekom het, soos Frans Steyn en Cobus (Reinach) het goed gedoen en Rynhardt (Elstadt) en Marcell (Coetzee) was ook stewig,” het Erasmus gesê.

Die Wallaby-afrigter, Michael Cheika, meen sy spelers het genoeg geleenthede geskep, maar dit nie benut nie.

“Ons het baie van die dinge gedoen waarvoor ons voorberei het, maar klein dingetjies het teen ons gegaan,” het hy gesê.

Hy meen ook die skeidsregter, Paul Williams, het gefouteer met die geelkaart wat die plaasvervanger-stut, Taniela Tupou, gekry het.

Hy het bloot gereageer op wat een van die Springbokke gedoen het om met die skouer in te slaan, maar hy het self sy arms gebruik en moes nie gestraf gewees het nie,” het Cheika gesê.

“Ons verdediging was ook nie sleg nie, al het ons vyf drieë afgestaan. Soms was ons té los met die bal in die hand,” het Cheika gesê.

Meer oor:  Johannesburg  |  Rugbykampioenskap  |  Springbokke  |  Wallabies  |  Rassie Erasmus
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.