Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Rugby
Rassie nie tevrede met Bokke
Die Springbok-debutant Herschel Jantjies loods ’n skop van agter die losgemaal. Die skrumskakel het geskitter en twee keer gaan druk.Foto: Getty Images

Dit sê baie vir ’n span wanneer sy afrigter met die witbrood onder die arm kan kla nadat hy Australië met 35-17 geklop het.

Die geluk was aan ons kant, het Rassie Erasmus, die Springbok-afrigter, erken nadat sy span Australië Saterdagaand op Ellispark in Johannesburg in die Rugbykampioenskapsreeks geklop het.

Erasmus het nie doekies omgedraai nie en toegegee dit allesbehalwe ’n vertoning van wêreldgehalte was.

Al vertel die telbord ’n storie van gemak, erken Erasmus dit was nie ’n vertoning wat hulle sal laat kwalifiseer vir die uitspeelstryde in die Wêreldbekertoernooi later vanjaar nie.

“Ons was met tye baie gelukkig en die kaarte het vandag reg vir ons geval. Op ’n ander dag kon dit veel anders gelyk het,” het Erasmus gesê.

Ons was met tye baie gelukkig en die kaarte het vandag reg vir ons geval. Op ’n ander dag kon dit veel anders gelyk het.
Rassie Erasmus

Tog blyk daar geen twyfel te wees dat die Springbokke onder sy leiding as breier in die regte rigting op pad is nie.

Erasmus weet wat hy wil hê en is ’n strateeg van formaat. Van die skuiwe wat hy vir hierdie eerste toets van die jaar gemaak het, het perfek gewerk.

“Dit was ’n wedstryd wat met rukke en stote gespeel is. Ek was vooraf bekommerd oor die roes wat daar was met verskeie ouens wat wedstrydfiksheid gekort het.

“Dit was met tye ’n baie frustrerende wedstryd, maar uiteindelik het sekere individuele vertonings sake vir ons gered,” het hy gesê.

Een van daardie individuele was die Speler van die Wedstryd, Herschel Jantjies, wat volgens die afrigter gewys het hy is baie gemaklik op hierdie vlak.

“Sy diens en taktiese skopwerk oor die koppe van die voorspelers was uitstekend. Hy kan net groei van hier af en al wil ’n mens nie ’n nuweling te veel lof toeswaai nie, verdien hy dit beslis.

“Die feit is egter dat die teenstand nou net taaier gaan word en dinge kan vinnig verander. Tog het ons nog niks vanjaar bereik nie en staar ons ons nie blind teen een vertoning nie.

Frans Steyn
Frans Steyn was voor Saterdag in Junie 2017 laas vir die Bokke in aksie. Foto: Lee Warren/Gallo Images

“Die geluk was aan ons kant met hulle (Wallabies) wat die bal aangeslaan het oor die doellyn en ook die vorentoe aangee vanaf daardie “drie” wat hulle in die eerste helfte gedruk het.

“Van die plaasvervangers wat opgekom het, soos Frans Steyn en Cobus (Reinach), het goed gevaar en Rynhardt (Elstadt) en Marcell (Coetzee) was ook stewig,” het Erasmus gesê.

Dit was egter Jantjies wat Ellispark laat gons het. Hy was kookwater en het sy eerste drie in minder as ’n kwartier in die Boktrui gedruk. Later het hy die Wallabies weer aan die steelkant aan die slaap gevang vir sy tweede.

Die Wallaby-afrigter, Michael Cheika, voel sy spelers het genoeg geleenthede geskep, maar dit nie benut nie.

“Ons het baie van die dinge uitgevoer waarvoor ons voorberei het, maar klein dingetjies het teen ons getel,” het hy gesê.

Hy voel ook die geelkaart wat die plaasvervanger-stut Taniela Tupou gekry het, was verkeerd en dat die skeidsregter, Paul Williams, gefouteer het.

Ons het baie van die dinge uitgevoer waarvoor ons voorberei het, maar klein dingetjies het teen ons getel.
Michael Cheika

Hy het bloot gereageer op wat een van die Springbokke gedoen het om met die skouer in te slaan, maar hy het sy arms gebruik en moes nie gestraf geword nie,” het Cheika gesê.

“Ons verdediging was ook nie sleg nie, al het ons vyf drieë afgestaan. Soms was ons egter té los met die bal in die hand,” het Cheika erken.

Punte:

Springbokke 35 (14): Drieë: Herschel Jantjies (2), Lood de Jager, Sbu Nkosi, Cobus Reinach. Doelskoppe: Elton Jantjies (5).

Wallabies 17 (10): Drieë: Dane Haylett-Petty, Bernard Foley. Doelskoppe: Foley (2). Strafdoel: Foley.

Rugbykampioenskap: Puntelys

Meer oor:  Frans Steyn  |  Rassie Eramus  |  Johannesburg  |  Ellispark  |  Wallabies  |  Rugbykampioenskap  |  Springbokke  |  Toets
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.