Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Rugby
Rassie rig uitdaging aan Bokke
Jaco Reinach het volgens Rassie Erasmus sy hand opgesteek in die Engelse Premierliga en is daarom bo skrumskakels soos Embrose Papier en Ivan van Zyl in die Springbok-oefengroep ingesluit. Foto: Getty Images

Wys dat jy ’n plek in die Wêreldbeker-groep verdien.

Minder as drie maande voordat die Wêreldbeker-toernooi in Japan begin, is dít die vereiste van die Springbok-hoofafrigter, Rassie Erasmus.

“Die ouens wat nou in die groep is, moet in die volgende drie toetse (in die Rugbykampioenskap) wys hulle verdien ’n plek in die Wêreldbeker-groep.”

Erasmus het benadruk daar was ’n paar spelers wat baie naby daaraan was om die groep van 39 spelers te haal.

Hy het die name van die stutte Coenie Oosthuizen en Wilco Louw, sowel as die Stormers-losvoorspeler Jaco Coetzee en Cornal Hendricks, vleuel van die Bulle, genoem.

“Ons is baie bevoorreg in die voorry in dié stadium. Vir ouens soos Coenie en Wilco om nie hier te wees nie, sê baie.

“Hulle is baie naby aan die groep en die manne wat hier is, moet presteer om hul plekke te behou.

“Die plan is om ander spelers ’n kans te gee in die laaste toets teen Argentinië (op 17 Augustus in Pretoria).”

Rassie Erasmus, hoofafrigter van die Springbokke. Foto: Gallo Images

Erasmus het gesê dit was, afgesien van die stutte, ook moeilik om onder die hakers te kies.

Malcolm Marx, Bongi Mbonambi en Schalk Brits is, soos op verlede seisoen se jaareindtoer, die hakers in die groep.

Hy sê dit het nie sin gemaak om ’n vierde haker in te sluit nie.

“Dit was makliker om die slotte te kies, want daar is ’n hele paar beserings.

“Die losvoorspelers was oudergewoonte moeilik, veral met die Du Preez-broers (Jean-Luc en Dan) wat baie teëspoed gehad het met beserings.

“Jaco Coetzee was een van die jong ouens wat goed gespeel het, terwyl Cyle Brink nie genoeg op die veld was (om oorweeg te word) nie.”

Erasmus het laat blyk dat die rotasiebeleid wat die Bulle in die Superreeks toegepas het op skrumskakel, tot nadeel van Embrose Papier en Ivan van Zyl was.

“Met iemand soos André Warner wat goed gedoen het, was dit moeilik om te sê wie van die drie hul nommer een was.

“Dit terwyl Herschel (Jantjies) en Cobus (Reinach) regtig hul hande opgesteek het. Hulle moet nou die geleentheid aangryp.”

Die Stormers-losvoorspeler Jaco Coetzee het Rassie Erasmus met sy spel in vanjaar se Superrugby-reeks beïndruk. Foto: Gallo Images

Op senter is Lukhanyo Am, Damian de Allende, André Esterhuizen en Jesse Kriel redelik seker van ’n plek in die WB-groep, terwyl Erasmus oënskynlik ook nie veel gaan afwyk van sy vleuels nie.

“Daar is so baie vleuels om uit te kies. Cornal kan hom ongelukkig ag, omdat hy die laaste ruk werklik goeie rugby gespeel het.

“Wie los jy uit met vleuels soos (Makazole) Mapimpi, Cheslin (Kolbe), Sbu (Nkosi) en Aphiwe (Dyantyi)?”

Erasmus het toegegee hy is onder druk om selfvertroue in die span te kweek voordat die Bokke in September in Japan aankom.

“Jy kan nie voorgee dat jy selfvertroue het nie. ’n Span kry dit deur te wen en daarop voort te bou. Jy kan nie selfvertroue naboots nie.

“Ons gaan uit die staanspoor meer bestendig moet wees, terwyl ons ’n paar nuwe kombinasies op die proef gaan stel in die eerste toets teen Australië.

“Die doelwit is om die Rugbykampioenskap te wen en selfvertroue te kry.”

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.