Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Rugby
Rassie sal wát wou gee vir ’n Carter

“ ’n Losskakel, ’n losskakel! My koninkryk vir ’n losskakel!”

Dan Carter in 2015 met die Wêreldbeker kort ná die eindstryd. Foto: Getty Images

Dié aangepaste gesegde van Richard III uit een van Shakespeare se dramas (ou Riek het ’n perd gesoek) klink min of meer na die Springbok-afrigter Rassie Erasmus se versugting vroeër in die week toe hy oor die huidige taktiek in Superrugby gesels het.

Erasmus het oor taktiek gepraat en dit het geklink of hy dringend op soek is na ’n losskakel wat takties goed kan skop en wedstryde by die komende Wêreldbekertoernooi met die voet kan wen.

Carter jaag die laaste doelskop teen die Wallabies met sy regtervoet deur die pale. Foto: Getty Images

“As jy terugkyk in die geskiedenis – daar was Joel Stransky se skepdoel, Stephen Larkham s’n, wat terloops deur my hande getrek het, en Jonny Wilkinson en Stephen Donald se skopwerk,” het Erasmus gesê.

Erasmus het gesê jy wen nie die Wêreldbeker deur “agt drieë” in die eindstryd te druk nie.

Ondersteuners van die All Blacks sou dalk vinnig daarop wys dat dit weliswaar help as jou span, soos hulle s’n, drieë ook in eindstryde druk. Maar ja, dit help as jy ’n ster-losskakel soos Dan Carter in jou span het.

Carter was onlangs weer in die nuus. Die 36-jarige spelende legende het gehoop om weer vir die Franse klub Racing 92 uit te draf, maar hy het sy mediese toets gedop.

Carter het deur die jare behoorlik onder beserings deurgeloop en die medici in Frankryk was onder meer nie tevrede met die skanderings van sy nek nie.

Carter het sy laaste toets vir die All Blacks in 2015 gespeel en daarna het hy vir die Kobelco Steelers in Japan gaan uitdraf.

Daardie laaste toets was natuurlik die WB-eindstryd teen die Wallabies op Twickenham in Londen.

Daardie dag het Carter ’n vertoning gelewer wat hom die speler van die wedstryd gemaak het. Hy is ook dieselfde jaar as die Internasionale Rugbyraad se speler van die jaar aangewys.

Dat Carter net in die eindstryd gespeel het, was ’n triomf vir sy deursettingsvermoë. Hy het die vorige paar jaar met beserings gesukkel en moes die aanslag van jonger Turke soos Aaron Cruden en Beauden Barrett afweer om in die beginspan te kom.

Maar Carter wou bitter graag in ’n WB-eindstryd speel. In 2011 by die WB-toernooi in Nieu-Seeland is hy vir een van die All Blacks se groepwedstryde teen Kanada as kaptein aangewys toe Richie McCaw beseer was.

Carter het ook in Frankryk vir Perpignan en Racing 92 gespeel. Foto: Getty Images

Dit was die eerste keer dat Carter die span aangevoer het. Hy het op wolke geloop. Totdat hy gedurende ’n oefening ’n liesbesering opgedoen net.

Hy het reeds ’n ligte enkelbesering vertroetel en het juis besluit om in die laaste oefening minder skoppe pale toe te mik.

Toe gee sy been mee en hy lê en skree. Van sy spanmaats het gedink hy maak ’n grap.

Maar hy was doodernstig en in vreeslike pyn en dit was die einde van sy WB-uitstappie daardie jaar.

So, toe Carter in 2015 die kans kry om in die WB-eindstryd te speel, was hy vasbeslote om sy beste te lewer. En sy beste – dit weet rugbyliefhebbers baie goed – is briljant.

Dink maar net terug aan sy vertoning in 2005 teen die Britse en Ierse Leeus in Wellington toe hy twee drieë gedruk het en vyf straf- en vier doelskoppe deur die pale gejaag het.

Was daar al ooit so ’n wedstrydwenner soos Carter?

Die Wallabies was in die 2015-eindstryd vasbeslote om hom af te skryf.

“Ek is laat geloop, sommer vroeg in die wedstryd. Niks ernstigs nie, maar dit het my vasbeslote gemaak om hulle te laat betaal met die skop. Kort daarna is ek hoog gevat. Hierdie keer binne tref-afstand. Elke keer het ek opgestaan, vasbeslote om die strafskoppe oor te kry,” vertel Carter in sy outobiografie getitel Dan Carter.

Die All Blacks was in ’n stadium met 21-3 voor. Toe raak hulle windgat.

“Ons het die voet van die brandstofpedaal gehaal. Jy kon voel hoe die span bietjie begin slaplê, maar ons was magteloos om dit te keer,” vertel Carter.

Carter het in 2018 vir die Kobelco Steelers in Japan uitgedraf. Foto: Getty Images

Die Wallabies het twee drieë gedruk om weer binne tref-afstand te kom, maar die All Blacks het toe ’n magtige eindpoging ingesit.

Carter het onverwags ’n skepdoel oorgeklits en met nog ’n strafdoel geslaag.

“Die skop was eintlik buite my tref-afstand, maar ek was vol adrenalien gepomp en dit het oorgeseil,” sê Carter.

Barrett het die Nieu-Seelanders se laaste drie gedruk en die wedstryd was al gewen en so te sê verby toe Carter kniel om die doelskop waar te neem.

Liam Messam, wat die skopkegel gebring het, vra hom toe: “Gaan jy dit met jou regtervoet skop?”

Carter onthou toe dat hy ’n paar weke tevore aan Aaron Smith gesê het hy wil graag ’n stelskop met sy regtervoet oorsit voor hy uit toetsrugby tree.

Wel, hier was sy laaste kans! Hy het al die jare stelskoppe met albei voete geoefen, maar altyd net sy linker in wedstryde gebruik.

“En hier was ek met my laaste skop in toetsrugby en die wedstryd was reeds gewen. Ek wou nooit enigiets doen om die Wallabies te disrespekteer nie. Maar die idee was onweerstaanbaar.”

En toe skop hy die bal met sy regtervoet oor.

Is dit Rassie Erasmus wat daar skreeu: “ ’n Losskakel, ’n losskakel! My koninkryk vir ’n losskakel (soos Dan Carter)?”

Meer oor:  Bokke  |  Toetsrugby  |  Springbokke  |  Rassie Erasmus  |  All Blacks  |  Dan Carter
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.