Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Rugby
'Saru sal tot na Plan Z kyk vir Leeus-toer'

Daar sal alles moontlik gedoen word om te verseker dat die Springbokke vanjaar teen die Britse en Ierse Leeus te staan kom.

Al beteken dit ook daar moet na Plan Z gekyk word, sê Rassie Erasmus, die Suid-Afrikaanse Rugbyunie (Saru) se direkteur van rugby.

Jean de Viliers en Ruan Pienaar vat die Britse en Ierse Leeus-senter Jamie Roberts vas in die tweede toets van die laaste reeks tussen dié spanne in 2009 op Loftus Versfeld. Foto: Getty Images

Dié Britse toerspan is veronderstel om in Julie en Augustus vir die eerste keer sedert 2009 in Suid-Afrika te toer en met die Springbokke kragte te meet.

Met ’n tweede vlaag van die Covid-19-pandemie wat in Suid-Afrika en Brittanje woed, is die toer – soos geskeduleer – nou in die weegskaal en word daar na verskeie gebeurlikheidsplanne gekyk.

Saru en die Britse Leeus het reeds aangedui die toer sal nie finansieel lewensvatbaar wees as daar nie toeskouers in die stadions toegelaat kan word nie.

Dit sal ’n finansiële ramp vir Suid-Afrikaanse rugby wees as die Leeus-toer sneuwel.

Erasmus, wat as speler in 1997 sy toetsbuiging teen die Leeus gemaak het, sê hulle is desperaat om teen die Britse en Ierse span te speel.

“Ons (Saru) sal enigiets doen en weet dié geleentheid kom net een keer in twaalf jaar. Daar is baie menings oor die tradisie (van die Leeus) en Plan X, Y en Z.

“Ons het verlede jaar die Rugbykampioenskap opgeoffer, grotendeels weens spelerwelstand, maar ook ter wille van beplanning vir die Leeus.”

Daar is verskeie gerugte wat die rondte doen oor die toer.

Een daarvan is dat die toer vir die eerste keer in die geskiedenis in Brittanje en Ierland gespeel kan word.

Luidens ’n berig in The Telegraph kan die drie toetse in Londen, Cardiff en Dublin beslis word.

Die Bulle, Haaie en Stormers sal ook opruk noorde toe om die Leeus daar in tuiswedstryde te pak.

Willie John McBride, legendariese oudkaptein van die Leeus en Ierland, het in reaksie gesê dié voorstel is “skandelik”.

“Dit sal die hele etos van die Leeus vernietig. Dit moet in Suid-Afrika gespeel word en ek glo dit sal wys wees om die toer eerder na volgende jaar uit te stel,” meen die kaptein van die gedugte 1974-toerspan.

Rassie Erasmus, Saru se direkteur van rugby, sê alles moontlik word gedoen om te verseker dat die Springbokke en Britse en Ierse Leeus wel vanjaar kragte kan meet. Foto: Gallo Images
Daar word in dié stadium beplan asof die toer voortgaan soos aanvanklik beplan is. Ons sal ’n oplossing vind.
Rassie Erasmus

Erasmus sê Saru wil “nie die toer verloor nie”.

“Ons wíl speel. As Plan A in Suid-Afrika nie uitwerk nie, sal ons kyk na Plan B en C en regdeur tot Z.

“Afgesien van die kommersiële voordele, voel ons die Bokke verdien om teen hulle te speel. Ek wil graag die geleentheid hê en Jacques (Nienaber, die Springbok-afrigter) ook.

“Daar is sommige spelers wat hul loopbane daarvoor verleng en weer in Suid-Afrika kom speel het. Ons gee nie om nie, ons sal alles moontlik doen. Daar word in dié stadium beplan asof die toer voortgaan soos aanvanklik beplan is. Ons sal ’n oplossing vind.”

Erasmus sê die toenemende onsekerheid oor die toer is baie frustrerend.

“Jy kan dit steeds nie vergelyk met mense wat hul werk verloor of doodgegaan (aan Covid-19) het nie. Ek sê dit met die grootste respek teenoor daardie mense.

“Maar dit is moeilik, want ek dink ons almal weet hoe belangrik dit is dat die Leeus-toer plaasvind.”

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.