Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Rugby
Rassie se eis aan Franco vir Bok-pos
Allister en Saru steeds haaks

Franco Smith se pos as Springbok-hulpafrigter is in die gedrang nadat Rassie Erasmus hom voor die keuse gestel het om Kaapstad sy standplaas te maak en deel van sy Bok-bestuurspan te bly of om in Bloemfontein aan te bly en sy Bok-pos te verbeur.

Franco Smith is tans die Cheetahs se direkteur van rugby. Foto: Gallo Images

Erasmus, wat onlangs uit Ierland teruggekeer het en sy tweede termyn as hoof van rugby by die Suid-Afrikaanse Rugbyunie (Saru) begin het, stel Smith se nabyheid aan Saru se hoofkwartier as ’n vereiste.

Erasmus eis dat Smith nader aan die Springbokke se hoofkwartier in Plattekloof trek. Die keuse aan Smith is om óf sak en pak Kaap toe te trek óf Kaapstad ten minste sy tydelike tuiste te maak.

As Smith die tydelike skuif kies, sal hy noodgedwonge lang tye weg van sy gesin in Bloemfontein wees.

Is Smith bereid om dié opoffering te maak, sal hy die enigste afrigter van Allister Coetzee se bestuurspan van verlede jaar wees wat onder Erasmus by die Bokke betrokke sal bly.

Bok-bestuurspan: Dié 3 is IN . . .
Jacques Nienaber, verdedigingsafrigter.
Pieter de Villiers, skrumafrigter.
Aled Walters, kondisioneringsafrigter.

Coetzee se eie posisie as Springbok-afrigter is nog onopgeklaar nadat hy en Saru Donderdag vergader het. Die aanduidings is dat die twee partye nie tot ’n vergelyk kon kom nie.

Niemand wou ook ná hul vergadering sê wanneer ’n aankondiging oor die Springbok-hoofafrigter se toekoms verwag kan word nie.

Rapport se inligting is steeds dat daar ’n groter kans bestaan dat Coetzee sy loopbaan later vanjaar in Japan sal voortsit as dat hy langer by die nasionale span betrokke sal bly. Al het hy dit vroeër ontken, is ’n Japanse klubspan, glo die Canon Eagles, gretig om hom en Matt Proudfoot te betrek.

Coetzee is in 2016 op goeie voet by Kobe Steel Kobelco Steelers weg en dit laat vir hom die deur oop om na Japan terug te keer. Die gesloer om sekerheid oor sy verdere betrokkenheid by die Bokke te kry, plaas hom én die Japanse klubspan egter onder druk. Hulle is glo net bereid om tot ’n sekere datum vir Coetzee te wag voordat hulle ander kandidate oorweeg.

Coetzee se evalueringsproses wat in Desember moes plaasvind, is tot Dinsdag uitgestel en het uiteindelik eers Donderdag plaasgevind.

Niemand wou ook ná hul vergadering sê wanneer ’n aankondiging oor die Springbok-hoofafrigter se toekoms verwag kan word nie.

Smith se besluit word bemoeilik deur sy lang verbintenis met die Cheetahs. Sy gesin is gelukkig in Bloemfontein, waar hy ook die pos beklee van die Cheetahs se direkteur van rugby. Die verwagting is dat hy ook vanjaar by die afrigting van spanne soos Grey-kollege en die Shimlas betrokke sal wees.

Sy seun Franco is ’n knap rugbyspeler. Hy hoop om vanjaar vir Grey se eerste span te speel. Hy speel soos sy Springbok-pa losskakel, maar is veelsydig genoeg om in ander posisies oorweeg te word. Sy rugbydroom om vir Grey se eerste span te speel, sal sy pa se besluit bemoeilik.

Smith weet ten minste hy is die een hulpafrigter van verlede jaar wat Erasmus deel van sy afrigtingspan wil maak.

Hy was verlede jaar die Bokke se aanvallende en agterlynafrigter.

. . . en hulle is UIT
Allister Coetzee, hoofafrigter.
Brendan Venter, verdedigingsafrigter.
Matt Proudfoot, skrumafrigter.
Warren Adams, kondisioneringsafrigter.

Smith en Erasmus stap ’n lang pad saam. Hulle paaie het reeds in 2005 by die Cheetahs gekruis. Jacques Nienaber, wat nou Erasmus se regterhand by die Bokke is, was toe ook by die Cheetahs betrokke.

Erasmus se beplanning vir Junie se drie tuistoetse teen Engeland is intussen volstoom aan die gang. Die moontlikheid bestaan ook dat die Bokke voor die reeks iewers in Amerika ’n toets teen Wallis gaan speel.

Erasmus, Nienaber en Pieter de Villiers besoek al van 8 Januarie af Suid-Afrika se ses franchises. Hulle was die afgelope tyd by die Leeus en Haaie.

Die trio sal volgende week ’n draai by die Bulle in Pretoria maak. ’n Belangrike deel van die besoeke is om ’n sterk werkverhouding tussen die Bokke en die franchises te vestig.

Erasmus-hulle wil nie net die franchises versterk nie, maar wil ook soveel moontlik by die Super-afrigters oor hul spelers wys word en die woord verkondig dat die nasionale span in alle gevalle eerste gestel moet word.

  • Aled Walters sal hom intussen eers in Maart by die Bokke se bestuurspan aansluit.

Walters was Munster se fiksheidghoeroe in die tyd dat Erasmus die Ierse klubspan afgerig het.

Meer oor:  Allister Coetzee  |  Rassie Erasmus  |  Franco Smith  |  Saru  |  Bokke
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.