Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Rugby
Erasmus gaan slegs vier slotte WB toe vat
Rassie sê nee vir WB-waagstuk

Rassie Erasmus gaan drie skrumskakels in sy Springbok-groep van 31 spelers kies.

Die Springbok-afrigter se denkrigting is dat die Bokke oor drie baie goeie spelers in dié posisie beskik en dat dit ’n posisie is wat spesialiste verg.

Eddie Jones, afrigter van Engeland, het die oë laat rek met sy besluit om net twee skrumskakels Japan toe te vat.

Ben Youngs en die oud-Nieu Seelander Willi Heinz is die twee Engelse skrumskakels. Jones se besluit is wyd gekritiseer, veral deur die voormalige Wêreldbekerkampioen-afrigter Clive Woodward, wat glo die besluit kan by Jones spook as beserings toeslaan.

Rapport het betroubaar verneem die Bokke is nie van plan om só ’n waagstuk aan te gaan nie. Erasmus kondig die Bokke se WB-groep volgende Maandag aan en dis waarskynlik dat Faf de Klerk, Cobus Reinach en Herschel Jantjies ál drie in die groep sal wees.

WELLINGTON, NEW ZEALAND - JULY 27: Faf de Klerk of
Faf de Klerk. Foto: Getty Images
Herschel Jantjies
Cobus Reinach

Die vleuel Cheslin Kolbe se skaflike instaanvertoning op skrumskakel toe De Klerk verlede naweek teen Argentinië in die koelkas was, het bespiegeling laat opvlam dat die Bokke net twee skrumskakels Wêreldbeker toe kan vat.

Erasmus het die afgelope week gesê ’n paar “taai” besluite moet dié week geneem word.

Erasmus sal volgens Rapport se inligting vyf stutte in die groep kies en vier slotte, met Pieter-Steph du Toit wat as instaan-slot kan speel as dit moet.

Dit beteken dat een van die slotte in die huidige groep van Eben Etzebeth, Franco Mostert, RG Snyman, Lood de Jager of Marvin Orie sal uitval wanneer die finale besluit geneem word.

Maar dit beteken ook dat daar net vyf losvoorspelers Japan toe sal vertrek, wat ’n groot probleem vir Erasmus is – veral as in ag geneem word dat Du Toit, Siya Kolisi en Duane Vermeulen ál drie daar behoort te wees.

Dit los Erasmus met ’n moeilike keuse tussen Francois Louw, Kwagga Smith, Rynhardt Elstadt, Marcell Coetzee en Marco van Staden vir die twee oorblywende plekke.

Agterlangs is die keuses net so moeilik, veral omdat die skrumskakels en losskakels basies hulself kies.

Dit los nege plekke oor vir senters, vleuels, veelsydige spelers en heelagters.

Erasmus kan vier spesialis-senters saamneem, of besluit op drie en ’n veelsydige speler soos Frans Steyn.

As hy net op drie besluit, sal dit waarskynlik ’n binnesenter wees wat sal uitval, met Steyn wat dié posisie sal vul indien nodig. In só ’n scenario is die keuse tussen Damian de Allende en André Esterhuizen. Jesse Kriel se veelsydigheid – hy kan vleuel en heelagter in ’n noodgeval speel – is een van sy grootste bates.

Dit gee Erasmus ’n kans om drie vleuels en twee heelagters te kies – met die agterste driehoek van Willie le Roux, Kolbe en Makazole Mapimpi wat alreeds sterk staan. Sbu Nkosi, Warrick Gelant en Dillyn Leyds sal dit vir die oorblywende plekke uitspook.

PRETORIA, SOUTH AFRICA - AUGUST 17: Frans Steyn of
Frans Steyn. Foto: Gallo Images

As Erasmus egter sou besluit om vier spesialis-senters te kies, is die vraag wat word van Steyn, wat al vir lank deel van die Bokke se planne is. Die feit dat Steyn losskakel, senter en heelagter kan speel, tel in sy guns.

Die groep sal uit 17 voorspelers en 14 agterspelers bestaan.

Die huidige Bok-groep trek dié week in Bloemfontein saam voordat Erasmus sy finale groep op 26 Augustus aankondig.

  • Erasmus sal tydens die Bloemfontein-spanboukamp ’n besluit neem oor die plaasvervanger – indien enige – vir aanvalsafrigter Swys de Bruin, wat dié week bedank het.

Erasmus het gesê hy sal eers die senior leierskapsgroep raadpleeg vir hul insette oor die saak, en dat hy dan ’n besluit sal neem.

Die Bokke kan besluit om hul vaardigheidsafrigter Mzwandile Stick in die pos aan te stel tot ná die Wêreldbeker.

Die ander opsie is om iemand in te bring wat Erasmus vertrou – soos sy voormalige hulpafrigter by Munster, Felix Jones, wat nie tans afrig nie.

Meer oor:  Springbokke  |  Rassie Erasmus  |  Springbok-Groep  |  31 Spelers
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.