Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Rugby
Bokke durf Wallabies dalk met naasbestes aan
Rassie se Plan B vir Springbok-toetse

Rassie Erasmus oorweeg om vanjaar met ’n A- en ’n B-span in die Rugbykampioenskap-toetse te speel.

Erasmus wil voor die toets teen die All Blacks op 15 September sy toetsspan vir twee weke of langer in Wellington, Nieu-Seeland laat saamtrek. Sy strategie daarmee is om beter te kan voorberei omdat die toetsspan vir ’n langer tyd in Nieu-Seelandse toestande sal kan oefen en veel beter uitgerus sal wees.

Rassie Erasmus

Met die A-toetsspan in Wellington saamgetrek, sal ’n Bok-B-span die Wallabies in Brisbane aanvat. Dié toets is op 8 September – ’n week voor die toets teen die All Blacks.

Rapport het by drie onafhanklike bronne bevestiging gekry dat die Springbokafrigter die konsep van ’n A- en B-span ernstig oorweeg. Met dié kreatiewe plan hoop Erasmus om sy spelers vars te hou.

Erasmus beskou die toets in Wellington as ’n krisistoets om die Bokke se eer te herstel ná verlede jaar se loesing van 57-0 in Albany en 2016 se slagting van 41-13 in Christchurch.

Dit sal ook tonne selfvertroue vir die Bokke gee as hulle ’n goeie vertoning teen die All Blacks lewer nadat hulle die laaste tyd meestal deurgeloop het.

Die verwagting is dat die Bokke hul sterkste span vir die eerste twee toetse teen Argentinië sal kies. Die toetse word op 18 en 25 Augustus in onderskeidelik Durban en Mendoza gespeel.

Die sogenaamde A-span kan dan reguit na Wellington vlieg pleks van om eerste na Suid-Afrika terug te vlieg en dan met uitgerekte vlugte via Sydney Wellington toe te vlieg.

  • Erasmus kondig môre om 11:00 die Springbokgroep van 32 spelers vir die Rugbykampioenskap aan. Meer as die amptelike 32 spelers kan egter wel na die Bokke se volgende oefenkamp genooi word as ’n voorsorg vir moontlike beserings.

Erasmus was reeds vroeër vanjaar kreatief in sy beplanning vir die toetsreeks teen Engeland. Hy het ’n B-span na Washington vir die toets teen Wallis gestuur. Sy span was ongelukkig om nie uiteindelik daar te wen nie, maar die Bokke het danksy die voordeel dat die beginspan in Suid-Afrika agtergebly het die reeks teen Engeland beklink.

Die All Blacks het ook in die verlede met sogenaamde B-spanne gespeel om te verseker dat hul spelers vars is vir ’n groot toets, soos verlede jaar s’n teen die Bokke op Nuweland.

Toe het Steve Hansen, die All Blacks se breier, van sy eerstekeusespelers soos Brodie Retallick, Sam Cane, Sam Whitelock, Liam Squire, Lima Sopoaga en Ryan Crotty nie die week voor dit na Buenos Aires vir die toets teen Argentinië gestuur nie. Hulle het vroeër in die Kaap aangekom en daar geoefen. Retallick het weens persoonlike redes nie in die Kaapse toets gespeel nie.

Vanweë die Bokke se swak vertoningslys in die Rugbykampioenskap die afgelope paar jaar, het Erasmus nie veel om te verloor as hy ’n proefneming met twee spanne maak nie.

Dis duidelik dat die toetse teen die All Blacks in Erasmus se visier is op pad na 2019 se Wêreldbekertoernooi in Japan.

Meer oor:  Rassie Erasmus  |  Springbokke
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.