Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Rugby
Rassie se skrummie-tameletjie
Herschel Jantjies het Saterdag op Ellispark die Wallabies laat bontstaan toe hy sy toetsbuiging vir die Springbokke gemaak het. Foto: Gallo Images

Soos in die lewe, gebeur dit ook soms in rugby dat ’n afrigter meer kry as wat hy verwag het.

Selfs die Springbok-breier, Rassie Erasmus, moes te kenne gee die nuweling-skrumskakel Herschel Jantjies het hom Saterdag verras in sy debuuttoets teen die Wallabies in Johannesburg.

Daar was al in die verlede dikwels spelers wat gesukkel het om die trappie van Superrugby na toetsvlak te gee, maar dié 23-jarige Kapenaar was meer as tuis agter die Bok-oond.

Dit bring opnuut die vraag: hoe sien Erasmus se skrumskakel-rangorde daar uit met die oog op die Wêreldbeker-toernooi in Japan?

Cobus Reinach was self vol rugby toe hy Jantjies Saterdag in die tweede helfte vervang het.

Cobus Reinach bars deur die Wallabies se verdediging om ’n bonuspunt-drie vir die Springbokke te gaan druk. Foto: Deaan Vivier

Daar is min twyfel dat Faf de Klerk steeds die keur in die nr. 9-trui is en hy sal Saterdag weer op sy pos wees wanneer die Springbokke in die Rugbykampioenskap die All Blacks in Wellington aandurf.

Jantjies sou Erasmus egter stof tot nadenke gegee het met sy voortreflike poging.

Die Bulle-duo Embrose Papier en Ivan van Zyl en Louis Schreuder van die Haaie was verlede seisoen op die jaareindtoer De Klerk se adjudante.

Faf de Klerk was verlede jaar die Springbok-skrumskakel in die saal en sal waarskynlik Saterdag weer die nr.9-trui in die toets teen die All Blacks dra. Foto: Gallo Images

Nie Papier of Van Zyl, wat in November om die beurt begin het in die toetse teen Engeland, Skotland en Wallis, kon vanjaar in die Superreeks eienaarskap neem van die Bulle se nr. 9-trui nie.

Trouens, die Bulle-afrigter, Pote Human, het aan die einde van die reeks die onderskatte André Warner in die posisie verkies.

Hoewel dit nie ideaal is dat daar so kort voor die WB-toernooi soveel onsekerheid is nie, sal Erasmus dit verwelkom dat Jantjies en Reinach druk op De Klerk plaas.

Hoewel dit nie ideaal is dat daar so kort voor die WB-toernooi soveel onsekerheid is nie, sal Erasmus dit verwelkom dat Jantjies en Reinach druk op De Klerk plaas.

Diepte en gesonde wedywering is nooit te versmaai nie.

Die Bok-breier het vroeër reeds op sy 23-talle vir die toetse teen Australië en Nieu-Seeland besluit, maar dit sal steeds interessant wees om te sien wie van Jantjies of Reinach hy op die plaasvervangersbank kies vir die afspraak met die All Blacks.

Selfs die oud-Stormer Rynhardt Elstadt lyk – gegewe die lang lys beseerde losvoorspelers – ewe skielik na ’n kandidaat vir ’n vliegtuigkaartjie na Japan.

Spelers soos die vaskopstut Vincent Koch is besig om druk te plaas op gevestigde Springbokke. Foto: Deaan Vivier

In die voorry is die Bulle-stut Trevor Nyakane en Vincent Koch van Saracens sterk in die wedloop om Frans Malherbe aan die vaskopkant uit die stoel te lig.

Nyakane het vanjaar sterk geskrum en was die hoeksteen vir die Bulle in dié afdeling in die Superreeks.

Frans Steyn, wat Saterdag op die bank gesit het teen Australië, kan op binnesenter Erasmus se kaarte deurmekaar krap as hy Jantjies kan nadoen.

Die Springbokke bly ná die toets teen die All Blacks in Nieu-Seeland agter vir ’n oefenkamp en sal van daar af na Argentinië reis om die Poemas in Salta te pak.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.