Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Rugby
Rassie soek raad vir vroeë agterstande

Al gaan sake tans klopdisselboom in die Springbok-kamp, hou Rassie Erasmus hom nie blind vir sekere kwelpunte van hul spel wat nog aandag verdien nie.

Hy het met die span se terugkeer uit Argentinië, waar die Springbokke die eerste keer in ’n dekade ’n groot trofee verower het deur die Rugbykampioenskapsreeks te verower, erken die Bokke is nog ver van die voltooide produk.

Een kwessie wat hy wil aanpak, is die Springbokke se geneigdheid om soms vroeg in wedstryde konsentrasie te verloor en dan onder druk is om agterstande uit te wis.

Dié probleem het die afgelope naweek in Salta weer kop uitgesteek toe die Poemas kort ná die afskop gaan druk het en 7-0 voor was.

Rassie Erasmus wil toesien dat die Bokke van die afskop af rotsvas op die verdediging is. Lukhanyo Am vat hier vir Ramiro Moyano vas in die spanne se Rugbykampioenskapstoets in Salta die afgelope naweek. Foto: Getty Images

“Dit het nou al gebeur dat ons 7-0 of 12-0 (verlede jaar teen die All Blacks in Wellington) agter was en dan moes terugveg. Gelukkig het ons nie paniekerig geraak nie, en kon dit regkry, maar dit is iets wat ek voel aandag moet geniet.

“In ’n Wêreldbeker-toernooi waar die druk soveel groter gaan wees, veral indien jy by die uitspeelstryde sou uitkom, sal dit nie altyd so maklik wees om dan agterstande uit te wis nie.

“Daarom wil ek daarop konsentreer dat ons beter begin en ons nie te dikwels in situasies bevind waar ons agter raak en dan moet terugkom nie.

“Ek wil volgende week op ons oefenkamp in Bloemfontein gaan sit en aandag gee aan hierdie aspek en dalk ook sommer hulp van buite inkry hieroor,” het Erasmus gesê.

Die Bokke het in verlede jaar se tuisreeks teen Engeland ook in die eerste twee toetse onderskeidelik met 0-10 en 0-12 agtergeloop voordat hulle uiteindelik teruggeveg en oorwinnings behaal het.

Iets wat hy egter verblydend vind, is die bestendigheid wat daar by die Springbokke was in hul drie toetse tot dusver vanjaar.

“Juis daarom gaan Saterdag se toets op Loftus teen die Argentyne vir my so belangrik wees, want ek wil die momentum wat ons nou het, behou en daardie bestendigheid wat teenwoordig is nie prysgee nie,” sê hy.

“Ek is ook tevrede met ons algehele spel by die inskoppe en die skrumwerk en hoe ons in die lynstane vertoon. Ons het verlede seisoen ook goed gedoen in verskeie aspekte, maar die bestendigheid was net nie daar nie en daarom is dit goed om te sien dat ons dit nou aangeleer het,” reken Erasmus.

Hy voorsien ’n kwaai aanslag van die Argentyne op Loftus en voel hulle sal wil vergoed vir wat verlede week met hulle tuis in Salta gebeur het, waar die Bokke hulle oordonder het.

Deurdat Erasmus etlike spelers wat in Salta gespeel het ruskans sal gee vir hierdie toets, sal hy daarmee ook vars en vasbeslote spelers wil hê wat vir hul Wêreldbeker-plekke sal speel en alles sal gee. Daardeur sal die moontlikheid van oorgerustheid ook die nek ingeslaan word.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.