Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Rugby
Rassie tevrede met minder ervare groep
Springbokke
Die Springbok-Wêreldbekergroep wat Maandag aangewys is. Agter: Bongi Mbonambi, Malcolm Marx, Lukhanyo Am, Frans Malherbe, RG Snyman, Lood de Jager, Franco Mostert, Damian de Allende, Vincent Koch, Steven Kitshoff, Kwagga Smith. Middel: Herschel Jantjies, Cobus Reinach, Warrick Gelant, Elton Jantjies, Handré Pollard, Makazole Mapimpi, Schalk Brits, S’bu Nkosi, Cheslin Kolbe, Faf de Klerk. Voor: Trevor Nyakane, Willie le Roux, Frans Steyn, Francois Louw, Siya Kolisi, Rassie Erasmus, Duane Vermeulen, Beast Mtawarira, Eben Etzebeth, Pieter-Steph du Toit, Jesse Kriel. Foto: Gallo Images

’n Proses wat verlede jaar begin het en een wat in 18 toetse vooruitgang, teleurstelling, twyfelagtige tye, aangename verrassings en ’n bitter moeilike laaste week gebring het.

Rassie Erasmus, hoofafrigter van die Springbokke, het die kies van sy groep van 31 spelers vir die Wêreldbeker-toernooi Maandag só opgesom.

Rassie Erasmus. Foto: Gallo Images

“Ons beplanning het al verlede jaar begin en daar was sedertdien 18 toetse en baie oefenkampe.

“Die laaste week was nie maklik nie, want daar is vyf of ses spelers wat dit nie gemaak het nie en vir wie ek baie jammer is.”

Erasmus het, sedert hy as breier by Allister Coetzee oorgeneem het, altesame 60 spelers in 18 toetse op die proef gestel.

Uiteindelik het spelpeil, ervaring en die begeerte om Suid-Afrika in Japan te verteenwoordig, die deurslag vir Erasmus gegee.

Die Bok-breier het op 14 agterspelers en 17 voorspelers besluit.

Daar is vyf spelers in die groep wat al in meer as 50 toetste gespeel het – Eben Etzebeth, Willie le Roux, Francois Louw, Frans Steyn en Tendai “Beast” Mtawarira.

Steyn is die enigste oorblywende lid van die span wat in 2007 die Bokke gehelp het om die Wêreldbeker in Frankryk te wen.

Erasmus het gesê hoewel hy nie die “luukse gehad het om ’n span met WB-ervaring te kies nie”, is hy tevrede met die balans tussen ervaring en opkomende sterre in sy groep.

“Ek dink dit is tweeledig. Die een les wat ek geleer het by die toernooi in 2011 en toe ek in 2015 na die toetse gekyk het, dat jy wel iets inboet met ’n baie ervare span.

Ons wil baie graag die nasie trots maak met die wyse waarop ons speel.
Rassie Erasmus

“Ek kan onthou dat daar in 2011-toernooi met tye ses of sewe van die senior spelers was wat nie kon oefen nie.

“Maar op ’n Saterdag het jy spelers wat kalmte bring op die veld. Dit is dalk ietwat van ’n risiko, want ons gaan nie so baie ervaring hê nie. Hierdie is egter die beste 31 spelers wat ons kon kies.”

Erasmus het besluit op vyf losvoorspelers, wat beteken dat Rynhardt Elstadt nie die groep gehaal het nie.

“Ons het altyd besluit ons gaan vyf losvoorspelers kies. Daar was twyfel oor Siya (Kolisi) se beskikbaarheid en ek het gedink Rynhardt kan ’n goeie plaasvervanger wees.

“Hy was op bystand vir Siya en ons het verwag dat daar nog beserings onder die losvoorspelers kan wees. Buiten Marcell (Coetzee) het dit nie gebeur nie.

“Hy (Elstadt) het goed gevaar, maar ek dink die vyf spelers wat ons gekies het, is die beste vir die toernooi.”

Ons gaan volgende week Japan toe om daar (teen Japan) die Brighton-wedstryd reg te stel.
Rassie Erasmus

Kwagga Smith is beloon vir sy bestendige inklimvertonings vir die Leeus in die Superreeks, het Erasmus gesê.

“Selfs toe hy sy kans hier by ons gekry het, het hy nie teleurgestel nie. Hy is ’n wonderlike spanman.”

Erasmus gee toe hy is senuagtig oor sy span se WB-aanslag.

“Ons gaan volgende week Japan toe om daar (teen Japan) die Brighton-wedstryd reg te stel. En dan daarna is dit die eerste wedstryd teen die All Blacks.

“Dit is nie iets wat baie afrigters beskore is nie, veral as ’n hoofafrigter. Dit is ’n hengse voorreg.

“Ons wil baie graag die nasie trots maak met die wyse waarop ons speel. Dit maak my trots om daardie geleentheid te hê.”

Kolisi, wat die Bokke sal aanvoer, sê Erasmus het die span na ’n ander vlak geneem sedert verlede seisoen.

“Dit is ons droom om die WB te wen, dit was sy motivering sedert hy begin het. Die wyse waarop hy te werk gegaan het om daardie droom vlerke te gee, is spesiaal.”

“Hy het ons onder meer geleer die Springbok is die belangrikste bo alles, nie die individu nie.”

Hier is die volledige Bok-groep. Klik op elke foto om besonderhede oor die speler te sien. 

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.