Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Rugby
Rassie trek rits oorsese Bokke nader

Rassie Erasmus, die Springbok-afrigter, het lewe geblaas in die Springbok-loopbane van Frans Steyn, Cobus Reinach en Marcell Coetzee.

Marcell Coetzee / Foto: Getty Images

Al drie woon die belyningskamp by wat Sondag in Pretoria begin het, sonder spelers van die Bulle en Haaie wat die afgelope Saterdag in die Superrugby-reeks se uitspeelwedstryde teen onderskeidelik die Hurricanes en Brumbies gespeel het.

Die Bulle en Haaie kry ’n week se rus voordat hulle volgende Maandag inskakel.

Erasmus het ook die rateltaai losvoorspeler-slot Rynhardt Elstadt, wat vir Toulouse in Frankryk speel, na die kamp genooi.

Frans Steyn / Foto: Getty Images

Elstadt het destyds in 2010 sy buiging vir die Stormers gemaak toe Erasmus die Westelike Provinsie se direkteur van rugby was.

Dis die keuse van die “oorsese Bokke” waaroor meeste gepraat sal word.

Steyn, wat vir Montpellier in Frankryk verteenwoordig, het laas in 2017 in die reeks teen die Hane in Suid-Afrika vir die Bokke gespeel.

Voor daardie reeks was hy laas in 2012 vir die Bokke in aksie. Erasmus was gretig om hom al verlede jaar te betrek, maar Steyn en die veteraanhaker Bismarck du Plessis kon hulle weens “beserings” nie by die Bok-groep aanmeld nie.

Reinach het hom deur skitterende spelpeil vir die Northampton Saints tot in Erasmus se planne gespeel. Sy laaste toets was in 2015 teen Argentinië in Buenos Aires.

Coetzee, wat aan die Ierse span Ulster gekontrakteer is, was laas in 2015 teen Argentinië in Durban in aksie.

Twee plaaslike spelers wat nie verlede jaar onder Erasmus gespeel het nie – die skrumskakel Herschel Jantjies en heelagter-vleuel Dillyn Leyds – is vir goeie spelpeil by die Stormers beloon.

Kwagga Smith (losvoorspeler) en Marvin Orie (slot), albei van die Leeus, sal ook moed put uit hul insluitings.

Hulle was in die saamgeflanste Bok-span wat verlede jaar teen Wallis in Washington gespeel het, maar het deur hul peil bewys dat hulle die potensiaal het om meer toetse te speel.

Die vroeë planne met belyningskampe wys dat Suid-Afrika se mislukking in die Superreeks in die groter prentjie nie noodwendig ’n slegte ding is nie.

Cobus Reinach / Foto: Getty Images

Erasmus het nou meer tyd as wat hy andersins sou hê om sy groep te slyp voor die Bokke se verkorte Rugbykampioenskap-veldtog op 20 Julie afskop met ’n toets teen die Wallabies in Johannesburg.

Hulle speel ’n week later teen Nieu-Seeland in Wellington en sluit hul veldtog op 10 Augustus af teen Argentinië in Salta.

Die Bokke en Poemas speel ’n week later ’n vriendskaplike toets in Pretoria.

Die Rugbykampioenskap en vriendskaplike wedstryd in Pretoria bied vir Erasmus die geleentheid om van die onervare spelers op die proef te stel, maar dis natuurlik ’n ope vraag watter van hulle daar gaan wees gegewe dat die Bulle en Haaie by die groep van 26 gevoeg gaan word.

* Springbok-groep:

Stutte: Steven Kitshoff (Stormers), Vincent Koch (Saracens, Engeland), Frans Malherbe (Stormers), Tendai Mtawarira (Haaie).

Hakers: Schalk Brits (Bulle), Malcolm Marx (Leeus), Bongi Mbonambi (Stormers).

Slotte: Lood de Jager (Bulle), Eben Etzebeth (Stormers), Franco Mostert (Gloucester, Engeland), Marvin Orie (Leeus).

Losvoorspelers: Marcell Coetzee (Ulster, Ierland), Rynhardt Elstadt (Toulouse, Frankryk), Pieter-Steph du Toit (Stormers), Siya Kolisi (Stormers), Kwagga Smith (Leeus).

Skrumskakels: Faf de Klerk (Sale, Engeland), Herschel Jantjies (Stormers), Cobus Reinach (Northampton Saints, (Engeland).

Losskakel: Elton Jantjies (Leeus).

Senters: Damian de Allende (Stormers), Frans Steyn (Montpellier, Frankryk).

Vleuels: Aphiwi Dyantyi (Leeus), Cheslin Kolbe (Toulouse, Frankryk).

Heelagters: Dillyn Leyds (Stormers), Willie le Roux (Toyota Verblitz, Japan).

Meer oor:  Bokke  |  Toetsrugby  |  Rugbykampioenskap  |  Springbokke  |  Rassie Erasmus
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.