Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Rugby
Rassie veg teen dodelike siekte in WB-jaar

Rassie Erasmus het ’n lewens­gevaarlike siekte oorkom om die Springbokke tot Wêreld-beker-glorie te brei.

Rapport verneem Erasmus het dwarsdeur verlede jaar se toernooi chemoterapie gekry vir die siekte wat bekend staan as mikroskopiese poliangiitis met granulomatose. Dit is nie kanker nie, maar ’n outo-immuunsiekte wat gewoonlik die sinusse, longe en niere aantas en dikwels ook die lugpype.

Rassie Erasmus
Rassie Erasmus. Foto: Gallo Images

Dit was in ’n stadium so erg dat Erasmus gevrees het die siekte kan hom verhinder om sy pligte as Bok-afrigter na te kom.

Erasmus het Rapport se navrae na sy mediese span verwys. Dr. Johan Theron, sy intervensie-pulmonoloog by die Mediclinic Panorama, het gesê die behandeling het ’n hoë tol van die Bokke se meesterbrein geëis, hoewel dit suksesvol was om die siekte in remissie te hou.

Tydens die Wêreldbekertoernooi kon sy chemo-dosisse verlaag word, wat dit vir hom makliker gemaak het om die Bok-skip te stuur.

“Hy het regtig in ’n stadium getwyfel of hy sou kon deurdruk met sy pos as (Bok-)afrigter,” het Theron ­gesê.

“Omdat hy so goed op die behandeling gereageer het, kon ons in daardie stadium sy behandeling aanpas na iets wat minder newe-effekte het, maar steeds sy siekte in remissie hou.”

Theron het gesê Erasmus het ’n seldsame manifestasie van die siekte gehad wat potensieel noodlottig is. Die chemoterapie wat Erasmus gekry het, onderdruk die pasiënt se immuunsisteem en maak dus die pa­siënt baie vatbaar vir infeksies.

“Rassie was baie pap en nie homself op die behandeling nie.”

Theron het Erasmus die eerste keer in Januarie 2019 ondersoek nadat die Bok-afrigter geruime tyd koors en lyfseer ondervind het. Hy het ook begin kortasem raak.

Erasmus se huisarts het hom na dr. De Vries Basson, ’n internis by Mediclinic Durbanville verwys.

“Dr. Basson was bekommerd en het ’n rekenaartomogram van sy borskas geneem. Dit het ’n hoogs abnormale tragea (hooflugpyp) getoon en hy is daarom na my by Mediclinic Panorama se hart-en-longeenheid verwys vir verdere ondersoek. Hier het hy verdere bloedtoetse en ’n brongoskopie ondergaan (’n kamera wat in die longe kyk) en ons het biopsies van sy tragea geneem.”

Erasmus omhels sy vrou, Nikki, ná die WB-eindstryd. Foto: Getty

Die behandeling wat hy daarna ontvang het, was suksesvol. Erasmus se behandeling het in Maart vanjaar klaargemaak. Hy tref tans streng voorsorgmaatreëls sodat hy en sy gesin nie aan die koronavirus blootgestel word nie.

Rapport verneem Erasmus het besluit om die siekte en sy behandeling dig te hou voor die Wêreldbeker-toernooi aangesien hy gevrees het dit sal sy spelers se aandag aftrek.

Dat Erasmus die Springbokke van ’n historiese laagtepunt – wat ’n 0-57-loesing teen die All Blacks en ’n nederlaag teen Italië ingesluit het – tot wêreldkampioene gebrei het, is welbekend. Die feit dat hy dit vermag het terwyl hy teen ’n dodelike siekte geveg het, sal sy plek in die geskiedenisboeke verder vasmessel.

Terwyl Erasmus verlede jaar behandeling ontvang het, het die Bokke in 12 toetse gespeel.

In tien daarvan was hulle aan die wenkant. In een het hulle in Wellington gelykop met 16-16 teen die All Blacks gespeel.

Hul enigste verloortoets was in hul eerste Wêreldbeker-wedstryd in Jokohama toe die All Blacks hulle 23-13 geklop het.

Buiten die Wêreldbeker-triomf het die span ook die Rugbykampioenskap vir die eerste keer sedert 2009 gewen.

Meer oor:  Chemoterapie  |  Bokke  |  Springbokke  |  Rassie Erasmus  |  Japan  |  Wêreldbekerrugby
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.