Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Rugby
‘Vel oordeel oor Bokke ná All Blacks’

Meet die Springbokke aan hul vertoning teen die All Blacks in Saterdag se Rugbykampioenskapstoets in Wellington.

Die All Blacks is die maatstaf waaraan die Bokke Saterdag gemeet moet word, sê Rassie Erasmus. Foto: Gallo Images

Dís Rassie Erasmus se boodskap aan bekommerde ondersteuners nadat sy span in agtereenvolgende toetse teen Argentinië en Australië aan die verloorkant was.

“Ons kry teen die All Blacks die kans om te wys waar ons staan. Het ons enigsins in die laaste sewe toetse verbeter, of raak ons slegter?” sê hy.

“Vir myself om te oorleef, is die toets belangrik. As ons die All Blacks hier kan klop, sal almal dink ons het ’n realistiese kans in volgende jaar se Wêreldbeker-toernooi. Om Nieu-Seeland te klop, sal enigiemand ook ongelooflik baie selfvertroue gee.

“As ons (Saterdag) mededingend is, sal mense sê daar is groei. As ons regtig sleg vaar, sal ek waarskynlik nie meer vir te lank in die stoel wees nie. Ek sal dan nog net ’n paar wedstryde kry voordat iemand anders daar sal wees.”

Vrees hy werklik vir sy pos as die Bokke sleg teen Nieu-Seeland verloor?

“Ja. Ek dink nie dadelik nie, maar die druk sal opbou. Dis (sy pos as Bok-afrigter) egter ’n bysaak.

Rassie Erasmus sê hy wil Springbok-rugby weer op die punt kry waar die All Blacks voel hulle gaan sukkel om die Suid-Afrikaners te klop en die haka gebruik om die Bokke te intimideer. Foto: Getty Images

“Ek wil hê die Bokke moet weer word wat hulle was. Ek wil hê die All Blacks moet ons weer as ’n werklike bedreiging beskou en die haka doen om ons te intimideer. Ek wil weer hê hulle moet voel hulle gaan ’n taai toets hê en sukkel om ons te klop.

“As ek daarin slaag, al is ek nie deel van die pad vorentoe nie, sal ek rustig slaap om te weet dat ek deel van daardie vernuwing was. Ek is lief vir die Bokke. Ek het 39 keer vir hulle gespeel. Ek wil hê hulle moet weer kom waar hulle in die verlede was.

“Ons moet weer bestendig soos in Kaapstad, selfs in wegtoetse, teen die All Blacks kan meeding. Waar daar ’n klein punteverskil van ’n punt of twee is. Dit (verlede jaar se naelskraapse nederlaag van 24-25) was lekker. Mense wil sulke toetse kyk. Mense moet weer die toets wil kyk. Ek dink selfs Nieu-Seeland wil dit hê.

“Ons het nou twee nederlae op ’n ry gehad, wat nie die gewenste uitslae was nie. Maar ’n mens kan nou sien hoe die spelers daardie druk verwerk.”

Die Wallabies het die afgelope Saterdag as oorwinnaars van die veld gestap, maar Rassie Erasmus glo daar was baie positiewe aspekte in die Springbokke se vertoning. Foto: Getty Images

Die nederlaag teen Argentinië was sover vir Erasmus die grootste teleurstelling oor die wyse hoe sy span gespeel het.

“As ek na die toets teen die Wallabies kyk, het ons twee sagte drieë afgestaan. Veral die een waar die bal regoor die lynstaan gegooi is. Ons het met vyf punte verloor, maar kon nog tot teen die einde wen. Daar was baie goeie dinge teen die Wallabies, maar toe verloor ons die toets, wat die slegte ding is.”

Hy beplan nie soveel skuiwe aan sy beginspan vir die naweek se toets soos die ses teen die Wallabies nie.

“Die plan was altyd om ’n paar proefnemings teen Argentinië te maak en dan na ’n meer gevestigde span teen die Wallabies terug te keer. Soos byvoorbeeld die senterpaar (teen die Wallabies) van Jesse Kriel en Damian de Allende het saam in meer as 60 toetse gespeel, terwyl Am en Esterhuizen in ses gespeel het (vir die Argentynse toets).

“Ons gaan nie baie teen Nieu-Seeland verander nie.”

Erasmus sê dis soms moeiliker om vir ’n toets teen ’n span soos Argentinië en Australië as teen die All Blacks voor te berei.

“Waar is ons op die wêreldranglys? Ongeveer nommer ses of sewe. Ons is al vir ’n ruk daar en probeer nou opvang. As ons dus as die nommerses- of -sewespan teen Argentinië en die Wallabies in wegtoetse speel, of mense dit nou wil aanvaar of nie, is ons die buiteperde.

Maar die verwagtinge was hoër voor die toets teen die Wallabies, omdat Nieu-Seeland hulle onlangs afgestof het. Dit maak dit moeiliker om vir só ’n toets voor te berei.

“Ons weet ons het teen twee goeie spanne gespeel en moes nooit teen Argentinië verloor het nie. As jy in Nieu-Seeland kom, waar mense verwag jy gaan weer met 57-0 platgevee word, is dit ’n hengse groot geleentheid.

“Dis ’n geleentheid om selfvertroue te bou. Dis ’n kans om te wys waartoe ons as ’n span in staat is. Ek het werklik gedink ons kon die toetse teen Argentinië en die Wallabies wen. Ons het in albei toetse ’n kans gehad om dit te wen, maar dit nie gebruik nie.”

* Die laaste Bok-span wat in Nieu-Seeland gewen het, was Peter de Villiers s’n in 2009, wat ’n roemryke sege van 32-29 in Hamilton behaal het.

Rugbykampioenskap: Bepalings

Rugbykampioenskap: Puntelys

Rugbykampioenskap: Uitslae

Meer oor:  Bokke  |  Toetsrugby  |  Rugbykampioenskap  |  Springbokke  |  Siya Kolisi  |  Wallabies  |  Bongi Mbonambi  |  Rassie Erasmus  |  All Blacks
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.