Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Rugby
'Wallabies armer sonder Folau'

Die Wallabies gaan Israel Folau mis.

Dít is die mening van die Springbok-afrigter, Rassie Erasmus, voor Saterdag se toets in die Rugbykampioenskapsreeks teen Australië op Ellispark in Johannesburg.

Israel Folau se vermoë om onder druk hangskoppe te bemeester, is ’n bate waaroor die Wallabies nie meer beskik nie. Foto: Getty Images

Hy reken die Wallabies gaan gewis nie bedreiging, veral in die lug, inhou sonder Folau as wat die geval sou wees as hy deel van die span was nie.

Folau is nie meer deel van die Wallaby-opset nie ná omstrede uitsprake oor gays en ander kwessies wat hy vroeër vanjaar gemaak het. Sy kontrak met die Rugby Australië is beëindig.

Erasmus verwag die Wallabies gaan teen ’n hoë tempo speel, veral deurdat die toets op die Hoëveld is.

“Hulle maak dit altyd moeilik vir jou deur wyd te speel en jou verdediging tot die uiterste te beproef,” sê Erasmus.

Die Bok-breier het ook onthul dat daar goeie nuus is oor die beseerde kaptein, Siya Kolisi.

“Siya herstel vinniger as wat aanvanklik verwag is en hy kan dalk al oor twee weke weer Curriebeker-rugby vir die Westelike Provinsie speel,” sê hy.

Volgens Erasmus sal van die spelers in die Bok-groep wat nie Nieu-Seeland toe gaan vir aanstaande naweek se toets in Wellington teen die All Blacks nie, vir hul unies in die Curriebeker speel en hy het ook bevestig dat van die oorsese spelers ook weer die kans gaan gun om by hul klubs aan te sluit.

Terwyl Erasmus voel die spesiale atmosfeer wat daar op Ellispark heers ’n bondgenoot kan wees teen die Wallabies, besef die Aussies se afrigter, Michael Cheika, dat die aura van die tradisionele tuiste van Springbok-rugby vir hulle ’n groot struikelblok kan wees.

“Tog sien ons dit as ’n uitdaging wat oorbrug moet word, eerder as ’n intimiderende plek wat net slegte herinneringe inhou,” sê Cheika.

“Ek het in al die jare wat ek afrig nog net een keer as breier van die Waratahs op Ellispark gekom,” sê hy.

Toe hy gevra is of sy span daardie wedstryd gewen het, het hy diep gedink en gesê: “Maat, ek kan omtrent nie eens mooi onthou wat gister in my lewe gebeur het nie. Nee, ek kan glad nie onthou nie.”

Die Wallabies het geen goeie rekord op Ellispark nie.

Van die tien toetse wat hulle daar gespeel het, kon hulle nog net een, in 1963, wen.

Die eerste toets tussen dié twee lande op Ellispark was in 1933 en die laaste in 2008. By daardie geleentheid het die Bokke die Wallabies ’n loesing van 53-8 gegee, hul grootste oorwinning tot nog toe oor Australië.

Volgens ’n woordvoerder van Ellispark-stadion is daar teen Donderdag reeds meer as 53 000 kaartjies verkoop.

Die kaartjiepryse is verlaag in ’n poging om die stadion vol te pak. Daar is 61 500 sitplekke beskikbaar.

Meer oor:  Bokke  |  Toetsrugby  |  Rugbykampioenskap  |  Springbokke  |  Israel Folau  |  Wallabies
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.