Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Rugby
Rassie-wensyfer: Mislei die statistieke?

Die Springbokke is te oordeel na hul vertoningslys dié seisoen effe beter as Allister Coetzee se span in 2017. Letterlik net-net.

Tog lyk dit asof ondersteuners in die geheel meer hoop het vir die span se kanse in volgende jaar se Wêreldbekertoernooi in Japan.

Sbu Nkosi is een van ’n klompie jong spelers wat onder Rassie Erasmus se afrigting vanjaar sterk na vore getree het in die Springbok-span. Foto: Getty Images

Coetzee en die Suid-Afrikaanse Rugbyunie (Saru) se paadjies het geskei met die Bokke wat in die twee seisoene onder sy afrigting (2016 en 2017) ’n wenpersentasie van slegs 44% (11 oorwinnings in 25 toetse) gehad het.

Ná Saterdag se nederlaag teen Engeland op Twickenham, in die eerste toets op die Springbokke se jaareindtoer, is Coetzee se opvolger, Rassie Erasmus, s’n skaars beter, met 45%.

Die wedstryd in Londen was Suid-Afrika se sesde verloortoets vanjaar en die Springbok-hoofafrigter sê hy besef die span is net-net beter daaraan toe as vanjaar se wenpersentasie as ’n barometer gebruik word.

“Ek dink as ’n mens praat van vordering, is dit ’n goeie teken dat ons nie in een toets totaal en al uitoorlê is nie, afgesien van die wegtoets teen Argentinië (in Mendoza in die Rugbykampioenskap). Ons is oortuigend geklop in daardie wedstryd.

“Daar is by my geen twyfel nie dat die span in al die afdelings verbeter. Daar is voorts jong talent wat sterk na vore kom.”

Erasmus benadruk die span gaan mettertyd die kuns moet bemeester om aan die regte kant te eindig van toetse wat tot en met die eindfluitjie in die weegskaal is.

Daar was vanjaar reeds drie toetse wat die Springbokke met twee of minder punte verloor het.

Rassie Erasmus het sover in sy eerste jaar as Bok-afrigter slegs vyf uit 11 toetse gewen. Drie van die nederlae was egter met twee punte of minder. Foto: Getty Images

In die proeflopie-toets teen Wallis in die VSA het die Bokke met 20-22 verloor, terwyl hulle verlede maand op Loftus Versfeld ’n voorsprong van 30-13 teen die All Blacks prysgegee het om uiteindelik ’n nederlaag van 30-32 te ly.

Suid-Afrika was Saterdag op Twickenham teen die Engelse met 8-6 teen rustyd voor, maar die tuisspan het toe uiteindelik met 12-11 geseëvier.

“Dit is almal toetse wat ons kon gewen het,” sê Erasmus.

Die Springbokke kan wel nog die jaar afsluit as die enigste span wat die wêreldkampioen kon troef – en dít boonop in Nieu-Seeland.

Die All Blacks kom Saterdag op Twickenham teen die Rose te staan, waarna hulle volgende Saterdag met die nr. 2-span op die wêreldranglys, Ierland, in Dublin kragte meet.

Suid-Afrika is steeds vyfde op die ranglys. Australië het danksy Skotland se nederlaag teen Wallis met ’n plek opgeskuif tot in die sesde plek.

Meer oor:  Bokke  |  Jaareindtoer  |  Toetsrugby  |  Springbokke  |  Rassie Erasmus
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.