Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Rugby
Rassie wil nie nét in Bokke belê

Rassie Erasmus, afrigter van die Springbokke, hoop die verandering aan die Suid-Afrikaanse Rugbyunie (Saru) se kontrakteringsmodel “stabiliseer” ’n mark waarin yslike bedrae geld betaal is om spelers uit die kloue van oorsese klubs te hou.

Rassie Erasmus / Foto: Getty Images

’n Kerngroep top-Bokke verdien tans deur hul drieledige kontrakte salarisse van tussen R7 miljoen en R10 miljoen. Daardie dae is egter verby en die pot geld gaan voortaan in meer spelers in die Suid-Afrikaanse stelsel belê word.

“Ons betaal tans in die liga van die Franse en Engelse klubs. Ons kan dit nie bekostig nie en ek dink dis onverantwoordelik,” sê Erasmus.

“Ons ding mee met ’n massiewe wisselkoers en oorsese klubs wat nie altyd sakemodelle het nie. ’n Ryk eienaar kan geld bestee op ’n speler ongeag of hy dit werd is. As ons konstant daarmee probeer meeding, gaan ons ons ganse begroting daarop bestee en dit opvolgbeplanning onmoontlik maak.”

Dit beteken nie dat daar nie meer aanbiedinge aan Suid-Afrika se topspelers gaan wees nie.

“Ons sê ons kan nou eintlik net R4 miljoen tot R6 miljoen betaal. Dis steeds nie kleingeld nie. Ons kan egter nie met R8 miljoen tot R11 miljoen meeding nie, en gaan nie probeer nie.

“Ons gaan wel die speler in die tweede linie, wat amper so goed is, meer betaal, maar ook nie na R7 miljoen tot R9 miljoen laat spring nie,” sê Erasmus.

“Ons probeer nou net die mark stabiliseer en sê ons kan nie meer met die groot klubs meeding nie. Ons gaan die spelers eerder van daardie kant af kies.”

Ons gaan die geld onder meer spelers versprei.

Daarmee in gedagte sal Erasmus Wêreldrugby se Regulasie 9, wat klubs dwing om spelers in bepaalde vensterperiodes vir toetse vry te stel, vanaf 2020 streng toepas. Klubs is daaroor ingelig en Erasmus beskou dit as ’n proaktiewe stap wat konflik met spelers se oorsese werkgewers kan vermy.

“Dit gee die klub wat ’n speler teken tyd om te oorweeg of dit die moeite werd sal wees. Die speler kan ook nadink of hy regtig daarheen wil gaan en wil uittree uit internasionale rugby. Van die spelers kan dalk op ’n plek in hul loopbane wees waar geld swaarder weeg as om vir die Bokke te speel,” sê hy.

Met die Bok-kontrakte wat ná vanjaar se Wêreldbeker-toernooi in Japan verstryk, sal Erasmus ’n deurdagte opvolgplan in werking stel.

Dis moeilik om te sê hoeveel spelers dit gaan wees totdat jy weet hoeveel van die top-ouens aanbiedinge aanvaar.

“Ons gaan die geld onder meer spelers versprei. Indien ’n ‘groot naam’ ons verlaat, raak daardie geld beskikbaar en kan ons dit laer af in ons stelsels belê – in die speler wat daarna die eerste, tweede, derde en vierde keuse is. As die ‘groot naam’ ’n aanbod van ons aanvaar, sal daar dalk vyf minder spelers onder in die stelsel wees wat ons kan kontrakteer,” sê Erasmus.

“Ons begin by die spelers met drieledige kontrakte en, as hulle nie ons aanbiedinge aanvaar nie, word daardie geld in die stelsel gesit vir die volgende generasie. Dis moeilik om te sê hoeveel spelers dit gaan wees totdat jy weet hoeveel van die top-ouens aanbiedinge aanvaar.

“Hopelik gaan ons opvolgplan ruimte maak vir tussen 40 en 70 spelers, afhangend van hoeveel top-ouens aanskuif.”

Meer oor:  Bokke  |  Toetsrugby  |  Springbokke  |  Rassie Erasmus  |  Saru
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.