Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Rugby
Maties sê sy spelers is 'veilig'

Die Maties-rugbyklub het Maandagaand op Twitter laat weet: “Al ons spelers is veilig. Die spelers is in die bus op pad terug hotel toe.”

Die boodskap is getwiet nadat die rugbywedstryd tussen die Maties en Madibaz in Port Elizabeth kort nadat die tweede helfte van die Varsitybekerwedstryd begin het, gekanselleer is toe iemand 'n opruiende toespraak oor die stadion se klankstelsel begin het en stoele op die veld gegooi is.

Die telling was in daardie stadium 19-0 in die guns van die Maties van die Universiteit Stellenbosch. Die wedstryd is gestaak sowat agt minute nadat die tweede helfte begin het en die span van die Nelson Mandela-Universiteit nog punte moes aanteken. 

Mense by die Varsitybekerwedstryd in Port Elizabeth verlaat die stadion nadat geweld die wedstryd onderbreek het. Foto: Michael Green

Zandile Mbabela, woordvoerder van die Nelson Mandela Metropolitaanse Universiteit, sê wat gebeur het, is betreurenswaardig. “Dit weerspieël beslis nie die gees van die Nelson Mandela-universiteit nie. Ons ondersoek die saak en stappe sal gedoen word,” het Mbabela Maandagaand laat in ’n verklaring gesê. 

Duitser Bosman, uitvoerende hoof van die Varsitybeker, sê hulle wag vir ’n verslag oor wat gebeur het. 

“Intussen respekteer ons die besluit van die skeidsregter om nie met die wedstryd voort te gaan nie.”

Op die Madibaz se amptelike twitterrekening was daar teen 21:00 nog net die aankondiging dat die wedstryd gekanselleer is omdat die rugbyveld “binnegeval” is. 

Die chaos het begin toe studente van die Student Representative Council met geweld by die universiteit se losie probeer inbars het.

Gevegte het uitgebreek met studente wat die trappe opgestorm en die deur probeer oopskop het.

Sekuriteitsbeamptes het probeer keer en daar het gevegte uitgebreek.

Rugbyskrywers wat by die medialosie uitgegaan het om te kyk wat gebeur, is aggressief verwilder.

Vermoedelik het die chaos begin na aanleiding van 'n voorval wat die studente as "rassisme" ervaar het.

“Apartheid is lankal dood,” het ‘n student wat by die medialosie ingebars het, geskree. Hy het deure oopgeskop op soek na 'n dosent.

Voor die wedstryd, toe die volkslied gespeel is, het 'n groep studente ook gaan sit toe die Afrikaanse deel gesing is.

* In 2016 is 'n Varsitybekerwedstryd by die Universiteit van die Vrystaat tussen die Shimlas en die Madibaz ook weens student-oproer gestaak.

Studente en werkers van die Universiteit van die Vrystaat het toe geprotesteer teen werk wat aan “buitestanders” gegee is en het tydens die wedstryd op die veld gegaan.

Hulle het 'n sirkel op die veld gemaak en protesliedere gesing.

Dit het op 'n bakleiery tussen wit studente en ouers en swart protesteerders gelei.

Puntemakers:

Maties 19: Drieë: Johan Momsen, Logan Boonzaaier, Munier Hartzenberg. Doelskoppe: Chris Smith (2).

Madibaz 0.

Meer oor:  Varsitybeker
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.